Kampsbaai-moord: Beskuldigde maak skokonthulling

Diego Novella (Foto: Courtney Africa/ANA)

Waarskuwing: Die berig bevat grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers ontstel. 

Diego Novella, die man wat beskuldig word van die moord op sy Amerikaanse vriendin Gabriela Kabrins Alban in Julie 2015, het Maandag die Wes-Kaapse hooggeregshof geskok toe hy opgestaan en gesê het: “Ek het gejok toe ek getuig het.”

Die 39-jarige Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 in ʼn kamer by ʼn luukse boetiekhotel in Kampsbaai aangetref. Sy is verwurg en met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Die verdediging sou Maandag slotbetoë gelewer het. William Booth, vir Novella, het gesê hy is heeltemal onkant gevang deur sy kliënt se onthulling. Booth het gesê hy het Saterdag nog met Novella konsulteer en is “heeltemal uit die veld geslaan” deur sy kliënt se erkenning.

Regter Vincent Saldanha het Novella onmiddellik gewaarsku om nie verder te praat nie en het die hof verdaag om Booth tyd te gun om met Novella te konsulteer.

Ná konsultasie met sy kliënt het Booth die hof ingelig dat Novella in ʼn “baie slegte emosionele toestand” is en deur ʼn sielkundige of psigiater gesien moet word. “Dit plaas my in ʼn ietwat moeilike posisie om voort te gaan totdat ek sy posisie oor sy vroeëre opmerking kan vasstel.”

Staatsaanklaer Louise Friester-Sampson het gesê die hof moet vasstel of Novella die hofverrigtinge begryp, en het aanbeveel dat dit vinniger is as hy na ʼn distriksgeneesheer verwys word om vas te stel of hy geskik is om verhoor te word.

Die kwessie is tot na middagete uitgestel om die staat kans te gee om vas te stel hoe vinnig Novella deur ʼn senior distriksgeneesheer ondersoek kan word.

Xavier Novella, ʼn familielid van Novella, was vir die eerste keer in die hof en Diego het Xavier hartlik omhels voor ʼn hofordonnans hom beveel het om na die agterkant van die hof te beweeg.

Die staat het verlede week tydens slotbetoë aangevoer dat daar geen bewyse is wat aandui dat Novella nie toerekeningsvatbaar was toe hy na bewering die moord gepleeg het nie.

Saldanha het vroeër daarop aangedring dat Booth eers duidelikheid moet bied oor die verdediging se posisie oor die kwessie van toerekeningsvatbaarheid.

Hy het gesê volgens Novella se pleitverduideliking het die beskuldigde ten tyde van die misdaad  verminderde aanspreeklikheid gehad, as gevolg van dwelmmiddels wat hy gebruik het wat ʼn psigotiese uitwerking gehad het, terwyl Booth se betoogshoofde slegs verwys na “beskonkenheid” wat sy gedrag veroorsaak het.

Booth het volgehou die middels wat sy kliënt ingeneem het, het inderdaad ʼn invloed gehad op die beskuldigde se toerekeningsvatbaarheid. “Hy was in ʼn psigotiesagtige staat en sonder inhibisies. Hy het ʼn demoon (die oorledene) gesien en die middels het ʼn uitwerking op hom gehad. Dit, in ʼn neutedop, is sy verdediging.”

Toe Alban se liggaam gevind is, was haar gesig bedek met skyfies en menslike ontlasting, en ʼn nota is op haar liggaam gelos met die Spaanse woord “cerote”. Dit beteken glo “stuk gemors”. ʼn Vingerafdruk-kenner het getuig dat Novella se vingerafdrukke op die nota aangetref is.

Novella is dieselfde dag in hegtenis geneem, ʼn paar uur ná personeel van die hotel op Alban se liggaam afgekom het. Hy ontken skuld.

Novella is deel van ʼn bekende en welgestelde familie in Guatemala en het aangevoer hy was in ʼn abnormale verstandelike toestand ná hy middels gebruik het wat veroorsaak dat ʼn mens hallusineer, naamlik sceletium en dronabinol asook dagga.

Regter Saldanha het verlede week herhaaldelik teruggekeer na die kwessie van toerekeningsvatbaarheid. Hy het aangedui dat prof. Sean Kaliski van Valkenberg- psigiatriese hospitaal, waarheen Novella aanvanklik gestuur is vir waarneming, meen dat die hele voorval sy oorsprong in woede gehad het.

“[Novella] was gemotiveer deur woede en Kaliski glo geensins jou verdediging se weergawe dat dit [die misdaad] in ʼn psigotiese toestand gepleeg is nie. Hy het gesê die beskuldigde is nét deur woede gemotiveer en deur sy beskonkenheid beïnvloed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Siek en sat ·

Klaar gelieg. Nou het hy verskonings. Hys skuldig. Hou op om misdadigers te pamperlang.

Peer ·

Sê ek ook, draai moordenaars toe in watte, kyk na Oscar, van Breda nou die een ook. Sluit toe en gooi weg.

Sarel ·

Vertragingstaktiek. Baie slim. Amper gevonnis. Nie toerekeningsvatbaar a.g.v. dwelms. Asseblief!

tamboti ·

Drank en dwelms behoort verswarende omstandighede te wees en moet afsonderlik met ekstra straf ge-oordeel word!
As dit “versagtende” omstandighede is, bevorder dit juis die gebruik daarvan aan indien misdade beplan word.
Die van die enigste versagtende omsrandighede moet wees: pleit skuldig met ware berou en volle samewerking in die ondersoek en hofsaak. Dan kan sake vinniger afgehandel word en kostes bespaar word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.