Kampsbaai-moord: Beskuldigde pleit, blameer dwelms

Diego Dougherty, ook bekend as Diego Novella. Foto: ANA

Diego Dougherty, ook bekend as Diego Novella, van Guatemala wat verdink word van die moord op sy vriendin, Gabriela Alban (39), in Kampsbaai in 2015, se verhoor het Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad begin.

Dougherty het onskuldig gepleit aan die moord op Alban op 29 Julie 2015 in ʼn hotelkamer in Kampsbaai, terwyl die twee met vakansie was.

Personeel van die luukse hotel het Alban, ʼn Amerikaanse bemarkingsagent, se liggaam die middag ontdek. Dougherty was nie in die kamer nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Alban is verwurg en is met ʼn stomp voorwerp in haar gesig geslaan. Sy het ook verdedigingswonde aan haar arms gehad.

William Booth, Dougherty se regsverteenwoordiger, het Dougherty se pleitverklaring aan die hof voorgelees. Hy het beweer dwelms was ter sprake wat “verminderde verantwoordelikheid” tot gevolg gehad het.

“Teen die tyd van die sogenaamde voorval was ek in ʼn abnormale geestestoestand as gevolg van die inname van dwelmmiddels. Die middels het veroorsaak dat ek myself nie in toom kon hou nie en op ʼn abnormale manier gereageer het,” lui sy verklaring.

Dougherty is ná sy inhegtenisneming na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal verwys en onder waarneming geplaas. ʼn “Eenparige besluit” deur ʼn paneel kundiges het verminderde verantwoordelikheid aangedui. Hy is wel toerekeningsvatbaar verklaar en geskik bevind om verhoor te word.

Sy verklaring het besonderhede van sy verhouding met Alban bevat, met wie hy sedert 2013 in ʼn romantiese verhouding was. Hy het gesê sy het in 2014 vir sowat ʼn jaar saam met hom in Guatemala gewoon en dat hulle gereeld gereis het.

Dougherty het in April 2015 op sy eie in Suid-Afrika aangekom en is na ʼn “reinigingskliniek” in Magaliesberg. By die oord het hy reëlings met Alban getref om by hom aan te sluit by die oord sodat sy behandeling vir Lyme-siekte kon ontvang.

Alban het op 10 Julie 2015 in die land aangekom en by die hotel in Kampsbaai ingeboek. Dougherty het die volgende dag by haar aangesluit. Die twee het daarna na Rome gereis en het op 25 Julie teruggekeer na Kaapstad en die hotel in Kampsbaai.

Dougherty beweer hy was verlief op Alban en dat haar dood hom platgeslaan het. “Tot nou toe ervaar ek angs en trauma as ek aan haar dink.”

In sy verklaring het hy bevestig Alban se oorsaak van dood in die nadoodse verslag word nie betwis nie. Die verslag het bevind haar liggaam het “tekens van trauma van ʼn stomp voorwerp en daar was verskeie kneusplekke op die liggaam, veral aan die nek en boonste en onderste ledemate”. Die verslag het ook aangedui dat daar tekens van trauma aan die nek was wat aandui dat sy verwurg is. Daar was ook beserings aan haar geslagsdele in ooreenstemming met onlangse seksuele penetrasie.

Alban se familie het vanaf Amerika na Suid-Afrika gevlieg om die hofverrigtinge by te woon. Haar ma en stiefpa, Doris Weitz en Alexander Williams, sowel as haar pa en stiefma, Howdy en Linda Kabrins, het gesê hulle is vasberade dat geregtigheid moet geskied.

Howdy sal na verwagting die eerste getuie wees wat geroep gaan word om te getuig.

Dougherty het oogkontak met Alban se familie vermy. Hy is van ʼn prominente, welaf Guatemalaanse familie wat al vir meer as ʼn honderd jaar ʼn suksesvolle sementonderneming bedryf. Hy het ʼn snyerspak aangehad.

Hy is in Mei verlede jaar borgtog geweier aangesien hy as ʼn vlugrisko beskou word met genoeg fondse tot sy beskikking om sy verhoor te ontduik.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

Gabriela Alban. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dit is hartseer ·

Dit is sooo hartseer dat hy genoeg geld tot sy beskikking het om ons beste regshulp te kan bekostig, ek voel egter hy moet tronkstraf uitdien, dwelms of te not, ryk of te not.

al ·

Ek stem ook, geen versagting vir dwelmgebruik! Elkeen moet verantwoordelikheid neem vir sy dade. Met of sonder invloed.

Frik ·

En dan — As Instructed by my client —en dan word daar gelieg en alles gedoen om die kliënt los te kry.Hoe pateties dat hy platgeslaan is oor haar dood. Is dit dan nie hy wat haar dood veroorsaak het nie. Nou wil hy hom verontskuldig dat dis die dwelms. As dit so is moet hy nooit uit die tronk kom want hy kan nie eers verantwoordelikheid vir sy eie lewe aanvaar nie. Hy is n gevaar vir die samelewing

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.