Kampsbaai-moord: Bloedmonsters is nooit geneem

Diego Novella wat van die moord op Gabriela Alban verdink word (Foto: Courtney Africa/ANA)

Daar is nooit bloed- en urienmonsters, naelskraapsels of haarmonsters by die moordbeskuldigde Diego Novella geneem nadat hy in hegtenis geneem is vir die moord op Gabriela Alban nie, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Maandag gehoor.

Só het ao. Stephen Fourie getuig tydens die moordverhoor van Diego Dougherty, ook bekend as Diego Novella, van Guatemala wat verdink word van die moord op Alban (39) in Kampsbaai in 2015.

Fourie is Maandag deur adv. William Booth vir die verdediging kruisondervra. Fourie het getuig Novella is ná sy inhegtenisneming na ʼn distriksgeneesheer gestuur om die monsters te laat neem, maar dit is nooit gedoen nie. Hy het gesê die distriksgeneesheer het aan hom gesê sulke monsters word net in verkragtingsake geneem.

Die beskuldigde is die volgende dag weer teruggestuur na die distriksgeneesheer toe, maar die monsters is steeds nie geneem nie. Fourie het aan die hof gesê hy was baie kwaad dat dit nie gedoen is nie, aangesien hy besef het dit sou deel van kritieke bewyse in die saak vorm.

Regter Vincent Saldanha was duidelik nie beïndruk met hierdie getuienis nie en het aan Fourie gevra hoekom hy toegelaat het dat die dokter die besluit oor die toetse neem. “Dit is nie vir hom om te besluit nie. Jy wou die bloedmonsters en DNS gehad het. Hoekom het jy nie daarop aangedring nie?”

Die bloed- en urienmonsters sou kon help vasstel of Novella enige onwettige dwelmmiddels geneem het. Die feit dat die monsters nie geneem is nie, kan nou die saak benadeel.

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Saldanha was ook geskok dat ʼn private veiligheidsmaatskappy die misdaadtoneel met hul eie lint moes afsper omdat die polisie geen lint beskikbaar gehad het nie.

Novella het skuld ontken op die aanklagte teen hom en het in sy pleitverklaring gesê hy was tydens die voorval in ʼn abnormale geestestoestand weens die inname van dwelmmiddels. Hy voer verminderde verantwoordelikheid as verweer aan en sê hy het hallusinogene (oftewel drogbeeldende) middels geneem. In die pleitverduideliking word hierdie middels gelys as sceletium (ook bekend as kanna), dronabinol (ʼn voorskrifmedikasie) en dagga.

Novella is op 29 Julie 2015 in hegtenis geneem nadat Alban se liggaam in ʼn kamer by ʼn luukse hotel in Kampsbaai gevind is waar die paar vakansie gehou het. Novella was nie in die kamer toe Alban se liggaam gevind is nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Hy is vir psigiatriese evaluering na die Valkenberg-hospitaal gestuur waar ʼn paneel bevind het hy het verminderde aanspreeklikheid weens dwelminname.

Daar is egter bevind dat hy strafregtelik aanspreeklik en bevoeg is om verhoor te word.

Booth het vroeër die misdaadtoneel as “bisar” beskryf en Fourie het instemmend gesê hy het nog nooit ʼn liggaam in so ʼn toestand aangetref nie. Alban se gesig was met skyfies en ontlasting bedek en ʼn haartang het langs haar gelê. ʼn Nota is op haar liggaam gelos met ʼn Spaanse skelwoord wat “stuk k**” beteken, daarop gekrabbel.

Alban se pa en stiefma, Howdy en Linda Kabrins, het teruggekeer na Kaapstad vir die verhoor en sê die gedurige uitstel van die hofverrigtinge is “frustrerend”. Alban se ma, Doris Weitz, was nie in staat om weer na Suid-Afrika te reis om die verhoor by te woon nie, aangesien sy ʼn operasie aan haar enkel ondergaan het.

Lees die vorige berigte oor die Kampsbaai-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leahim ·

Hierdie tipe nalatigheid is onverskoonbaar ontslaan nee ondbind hierdie polisie diens of mag soos hulle hulself noem en laat elke dorp of stad sy eie metro polisie aanstel met kundiges op elke vlak en n paneel kundiges wat seker maak die regte persone vir die werk word aangestel hierdie saps mors nie net ons belasting geld nie maar ook hulle eie.

jaco ·

Dit verbaas my nie. Hy het mos maar net ‘n wit vrou vermoor. Ons regstelsel is mos al lankal anti-wit.

Adam ·

Hierdie is ‘n wit op wit saak waarby twee buitelanders betrokke is. Hoekom die ras-vuur stook?

Eish ·

So tuimel die standaarde, een vir een, nie dat daar veel oor is nie. Ek dink nie AO Fourie kon veel doen nie vanweë die houding teenoor die minderhede is die SAPS.

Domvraag ·

Asseblief. Hy beweer die dokter wou nie monsters neem nie. Hy as regsdienaar laat hom voorskryf deur die dokter. Wat sê die dokter. Wie is hy en waar is sy kommentaar?

WILLEM ·

Mooi so SAPS….net nog n voorbeeld van julle onbevoegtheid. Wa in jou lewe!!! As julle nie gevangenisse laat ontsnap nie -vader weet hoe hulle deesdae al die toerusting en inligting kry om te ontsnap nie dan mors julle n moordsaak op deur nie die basiese prosedures te volg nie. Well done!!! Sjoe ek voel veilig met julle aan die stuur van wet en orde…….

Sjoe ·

In ons tyd sou jy beslis baie wind van voor gekry het AO Fourie, ek stem saam met die regter, jy is die ondersoek beampte, as die Dokter nie wou saamwerk, kla hom aan, hy is dan medepligtige omdat hy nie bewyse wou versamel nie. Dit staan jou ook altyd vry om na ‘n ander dokter te gaan!!!! Die lint is maar net weer ‘n bewys dat die regering se travels, vakansies en funksies prioriteit is, misdaadbekamping beslis nie, opleiding beslis nie!!!!!!!! Hierdie was veronderstel om ‘n maklike saak te wees, die man erken hy het medikasie en swaar dwelms gebruik….. die res moes maklik gewees het, al het hy ‘n goeie Advokaat, dalk verminderde aanspreeklikheid of straf, maar hy is vanself vas, eish of is daar geld betrokke, jammer maar mens kan nie anders as om so te dink in so basiese polsiering fout.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.