Kampsbaai-moord: ‘Geen dwelmmiddels’ in Alban se liggaam

Gabriela Alban. Foto: Facebook

ʼn Toksikoloog het Dinsdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê geen dwelmmiddels is in die liggaam van die vermoorde Amerikaner Gabriela Kabrins Alban se liggaam gevind nie.

Jaco van Zyl, hoof forensiese analis van die departement van gesondheid in Kaapstad, het getuig dat hy ʼn aantal biologiese monsters van die 39-jarige se liggaam en die misdaadtoneel geanaliseer het. Geen van die monsters het enige dwelmmiddels bevat nie.

Dit is in teenstelling met die beskuldigde, Diego Novella van Guatemala, se pleitverduidelik dat Alban die dwelmmiddel THC saam met hom gebruik het.

Van Zyl het gesê farmaseutiese dwelmmiddels, soos kodeïen, is wel in sommige van die monsters gevind.

Alban het ʼn verskeidenheid pynmedikasie gebruik om Lyme-siekte mee te behandel. Sy het in Julie 2015 in Suid-Afrika aangekom om by Novella aan te sluit, wat behandeling vir haar gereël het. Hy het ʼn paar weke voor die moord ʼn sewe dag lange reinigingsprogram by ʼn oord in Magaliesberg bygewoon, waar hy psigo-dwelmmiddels gebruik het. Hy was van plan om Alban soontoe te neem, omdat hy oortuig was dat dié behandeling haar siekte sou genees. Sy is egter oorlede kort voordat hulle na die oord sou vertrek.

Haar liggaam is op 29 Julie 2015 in die kamer gevind waar hulle in ʼn luukse hotel in Kampsbaai gebly het. Sy is verwurg en is met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Diego Novella wat van die moord op Gabriela Alban verdink word (Foto: Courtney Africa/ANA)

Novella is op dieselfde dag in hegtenis geneem, ʼn paar uur nadat hotelpersoneel op Alban se liggaam afgekom het. Hy het skuld ontken. In sy pleitverduideliking het Novella, wat deel is van ʼn bekende en welgestelde familie in Guatemala, gesê hy het dwelmmiddels gebruik wat hom laat hallusineer het en hy was nie by sy volle positiewe nie. Sy verdediging sal aanvoer dat hy verminderde aanspreeklikheid het, weens dwelmmisbruik.

Alban se pa en stiefma, Howdy en Linda Kabrins, was Dinsdag terug in die hof. Die twee het van Amerika teruggekeer om die verrigtinge by te woon. Alban se ma, Doris Weitz, kon nie die reis na Suid-Afrika onderneem nie, omdat sy onlangs ʼn operasie gehad het vir ʼn gebreekte enkel.

Novella se suster was ook Dinsdag in die hof. Sy het van Suid-Amerika na Suid-Afrika gereis om haar broer te ondersteun, maar Novella se prokureur, William Booth, moes ʼn spesiale versoek rig om die ontmoeting te fasiliteer. Regter Vincent Saldanha het die versoek toegestaan en die broer en suster sal mekaar Woensdag tydens middagete sien.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Die ekskuus van verminderde aanspreeklikheid agv dwelmmisbruik hou nie vir my water nie! Dis juis waarom dwelms VERBAN word!! Hoe kan jy ‘n ding wat verban is gebruik en dan beweer jou optrede is NIE jou skuld nie? Jy gebruik dit mos uit vrye keuse!!!

tamboti ·

Dwelms en drank moet juis as verswarende omstandighed gesien word. Net soos as ek te vinnig ry en ongeluk veroorsaak, of sonder ligte in die nag ry – jy weet moes jy gaan moeilikheid maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.