Kampsbaai-moord: Hof hoor oor gru-toneel

Diego Novella wat van die moord op Gabriela Alban verdink word (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die moordverhoor van Diego Dougherty, ook bekend as Diego Novella, van Guatemala wat verdink word van die moord op sy vriendin, Gabriela Alban (39), in Kampsbaai in 2015, is Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad hervat.

Dougherty het in Mei skuld ontken aan die moord op Alban op 29 Julie 2015 in ʼn hotelkamer in Kampsbaai, terwyl die twee met vakansie was.

Personeel van die luukse hotel het Alban, ʼn Amerikaanse bemarkingsagent, se liggaam die middag ontdek. Dougherty was nie in die kamer nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Alban is verwurg en met ʼn stomp voorwerp in haar gesig geslaan. Sy het ook verdedigingswonde aan haar arms gehad. Novella het in sy pleitverklaring gesê hy was tydens die voorval in ʼn abnormale geestestoestand weens die inname van dwelmmiddels en voer verminderde verantwoordelikheid as verweer aan.

Die saak is in Augustus vir twee weke uitgestel nadat William Booth, Novella se regverteenwoordiger, ʼn mediese noodgeval gehad het.

Ao. Stephen Fourie, hoof van die speurders by die Kampsbaai-polisie, het aan die hof gesê hy het Novella op 29 Julie en die dag daarna ondervra en in albei gevalle van sy regte ingelig.

Booth het dit gestel dat ʼn ander polisiebeampte ook vir Novella ondervra het en hom ook van sy regte ingelig het. “Miskien is hy so baie van sy regte ingelig omdat die beskuldigde se optrede vreemd was,” het Booth gesê.

Staatsaanklaer Mornay Julius het op die stelling beswaar gemaak en gesê dit is bespiegeling.

Booth het aan die hof gesê sy kliënt beweer hy is in ʼn metaalhouer ondervra en ook gedreig. Fourie het gesê hy dra geen kennis van die dreigement nie, maar het toegegee ondervragings word soms in ʼn metaalhouer gedoen.

Daar word wyd berig dat kokaïen in die kamer gevind is, maar Booth het die hof meegedeel dat daar geen dwelms gevind is nie.

Booth het die misdaadtoneel as bisar beskryf.

Fourie het saamgestem en gesê die misdaadtoneel is iets wat hy nog nooit vantevore in die 30 jaar wat hy vir die polisie werk, gesien het nie. “Dit is nie die norm om ʼn liggaam so te vind nie. Ek het nog nie ʼn liggaam in so ʼn toestand gesien nie.”

Die hof het gehoor Alban se gesig was met skyfies en ontlasting bedek. ʼn Haartang het langs haar gelê. ʼn Nota is op haar liggaam gelos met ʼn Spaanse woord wat “stuk k**” beteken, daarop gekrabbel.

Die saak duur voort.

Lees die vorige berigte oor die Kampsbaai-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Wel een ding is seker, die moordenaar kan spaans skryf.

marous ·

Laat hom by sy regsverteenwoordiger tuis gaan vir rehabilitasie .

Leahim ·

Die strawwe in Suid Afrika is uitgedien en skrik nie meer misdadigers af nie hoekom nie die doodstraf instel vir twee jaar proeftydperk om te kyk of dit nie n positiewe uitwerking het nie.

neels ·

Omdat hals misdaad hoogty vier in SA kom die buitelanders hierna toe pleeg die misdaad en wil dan voorgee dit is iemand in SA. As hy uitgevang word hardloop hulle almal na n SA regsverteenwoordiger toe om uit die gemors te kom.

Rina ·

Siek siek siek! Vreeslik om te dink hierdie tipe misdadigers loop vry rond! Wonder baie kere: is dit die beste wat iemand met sy lewe kon doen? Vernietig sy eie lewe asook die van die slagoffer en haar familie – booswigte en hul vieslikhede raak net meer en meer! Wat ‘n nalatenskap!!!

Llewellyn ·

Dwelm inname moet verswarend opweeg dit is alles in sy hande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.