Kampsbaai-moord: Hof hoor oor Novella se geestestoestand

Gabriela Alban. Foto: Facebook

ʼn Geestelike “leier in medisyne” het Woensdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê Diego Novella, die Guatemalaanse man wat van die moord op die 39-jarige Gabriela Alban beskuldig word, kon “probleme uit sy jeug konfronteer” nadat hy ibogaine, ʼn natuurlike psigoaktiewe stof in plante, ingeneem het.

Rhoda Slabbert-Barron, die eienaar van ʼn geestelike oord in die Magaliesberg, het aan die hof gesê Novella het in April 2015 vir ʼn sewe dag lange verblyf by dié oord gebly.

Hy het glo kolonreiniging en ander suiweringsbehandelings ondergaan, en het op die vyfde dag van sy verblyf ibogaine gebruik.

Die twee het ’n goeie vriendskapsverhouding gehad, en Slabbert-Barron het getuig Novella het haar verskeie kere op die dag van Gabriela Alban se moord gebel.

“Hy het nie na homself geklink op die telefoon nie. Ek het hom gevra of hy oukei was en hy het ‘ja’ geantwoord. Hy was altyd opgewonde of het gelag. Maar hierdie keer het hy vreemd en ver weg geklink.”

Slabbert-Barron het aan die hof gesê sy het Novella oor Alban uitgevra, omdat sy ʼn week later saam met hom na die oord sou gaan waar sy behandeling vir lyme-siekte sou kry. Sy het getuig dat ibogaine voorheen gehelp het om mense wat aan kanker ly, te behandel, en sy was vol vertroue dat dit Alban sou help.

Alban het glo egter nie by haar gesonde dieetplan gehou nie, en hy het gesê hulle gaan daarom nie soos beplan na die oord nie.

Slabbert-Barron sê sy het die volgende dag gehoor Alban is vermoor en Novella in hegtenis geneem.

Sy het gesê dat sy Novella nie as aggressief of gewelddadig sou beskryf nie, maar eerder as ʼn nederige, vredeliewende, vriendelike en vrygewige man.

Hy het haar ses weke ná die moord vanuit die gevangenis gebel. “Hy het gesê hy was destyds net gedeeltelik bewus van sy omgewing, maar onthou dat hy rooi klere gedra het en met sy klere in die see gaan swem het. Hy het ook vir mense by ʼn kroeg in die hotel sjampanje gekoop, maar is glo gevra om die hotel te verlaat.”

Ibogaine is in 2016 verander na ʼn skedule ses medisyne en kan net met ʼn voorskrif gekoop word. Novella het glo dié medisyne drie maande voor die moord geneem om ʼn verskeidenheid kwessies te probeer deurwerk.

Tydens ʼn kruisondervraging deur die verdedigende prokureur, William Booth, het sy daarop aangedring dat die dwelm “mense bevry” en “demone genees”. Sy het ook bewerings dat dit in die verlede tot die dood gelei het, ontken.

Tydens die teeverdaging het Slabbert-Barron vir Novella oog geknip, en toe sy die hofsaal verlaat, het sy vir hom gebuig en haar hande in ʼn gebedsagtige gebaar vir hom saamgevat.

Hy is op 29 Julie 2015 in hegtenis geneem nadat Gabriela se liggaam in hul hotelkamer by die luukse Camps Bay Retreat-hotel gevind is. Personeel van die hotel het die middag in die deurmekaar kamer op haar liggaam afgekom. Sy is met ʼn stomp voorwerp in die gesig geslaan en dit het gelyk of sy verwurg is. Sy het ook merke op haar arms gehad soos sy haarself wou verdedig.

Novella was nie in die hotelkamer nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Hy is na Valkenberg-hospitaal gestuur vir ʼn sielkundige ondersoek, waar ʼn paneel bevind het hy het “verminderde aanspreeklikheid” gehad as gevolg van dwelmgebruik.

Novella, ’n lid van ʼn prominente en uiters welgestelde Guatemalaanse familie, het in dokumente aan die hof gesê Gabriela se afsterwe was “verwoestend”. “Ek het, tot nou toe, al ure lank in pyn en angs aan haar bly dink,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kaaspaas ·

Ken hom net 7 dae en dan kan jy getuig van sy karakter. ????

Ai ·

Afhangende van watter nuusblad jy lees verander die dwelms. Ek het al tot gelees daar was n kg Kokaine in die hotel kamer gekry. So wat presies die twee als in daai kamer gebruik het is eintlik n raaisel. Ek weet niks van dwelms af nie maar van wat ek al gelees het het mense al baie lelike dinge aangevang.

Dit verminder nie sy aanspreeklikheid nie.

En hierdie pille wat sommer links en regs vir mense voorgeskryf word net omdat hulle issues het is nonsens.

Ek verstaan ·

Klink of die kombinasie van dwelms en sielkundige probleme hom “beserk” gemaak het. Ek het eenkeer ‘n psigotiese reaksie gekry van Lariam (profalakse vir malaria). Ek het vir 3 dae lank vas geglo my man verneuk my (met iemand wat in ‘n ander land bly) en was by die werk toe ek ‘n angsaanval kry. Ek het gedink hy het ons baba seun versmoor met n kussing en homself gehang. Dit was als n newe effek van voorgeskrewe medisyne. Ek het my greep op die werklikheid verloor. As die man sy vriendin vermoor het terwyl hy n psigotiese reaksie gehad get, dan is hy nie toerekeningsvatbaar nie. Ek dink daai vrou wat ibogaine vir mense gee is ‘n krimineel. Nie almal kan drugs hanteer nie.

Blits ·

Jammer soos ek dit sien is daar geen verskoning vir moord nie, of jy nou gedwelm , gepil of wat ook al, as jy n anne mens se lewe neem is dit moord en kla, om nou allerhande verskonings uit te dink wat die geestestoestand en wat hy agter die blad gehad het is nie veronderstel om enige uitwerking op sy verhoor te he nie. MOORD is MOORD geen verskoning

MOORD BLY MOORD ·

In my oppinie, bly moord moord. Of hy nou toerekeningsvatbaar is of nie. Hy het haar dood gemaak en daarvoor moet hy sit. Hy het die besluit geneem om dwelms te gebruik. Ons ALMAL weet dat dwelms mens koekoes maak, komaan, regtig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.