Kampsbaai-moord: ‘Hof moet verminderde verantwoordelikheid oorweeg’

Diego Novella in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA/Cindy Waxa

Diego Novella, die veroordeelde moordenaar van Gabriela Kabrins Alban, se prokureur het Maandag vir die Wes-Kaapse hooggeregshof gevra om “verminderde verantwoordelikheid” as gevolg van die dwelms wat hy ingeneem het te oorweeg wanneer Novella later vandeesweek gevonnis word.

William Booth, Novella se prokureur, het gesê hy aanvaar dat die omstandighede van die misdaad ernstig was. Hy het egter aangevoer dit moenie die oorheersende faktor wees nie.

Novella is skuldig bevind aan die moord op Alban op 29 Julie 2015. Alban was ʼn Amerikaanse bemarkingsbeampte met wie Novella in ʼn romantiese verhouding was. Alban se gesig is ná die moord met aartappelskyfies en menslike ontlasting bedek en ʼn krultang is tussen haar bene gevind. ʼn Nota is op haar liggaam aangetref met die woord “cerote” daarop geskribbel, ʼn Spaanse woord wat “stuk gemors” beteken.

Booth het gesê daar is geen waarskynlikheid dat Novella weer ʼn misdaad van dié aard sal pleeg nie en dat hy sielkundige probleme het.

Novella het aangevoer hy het in ʼn abnormale verstandelike toestand verkeer nadat hy middels gebruik het wat veroorsaak dat ʼn mens hallusineer, naamlik sceletium (ook bekend as kanna) en dronabinol asook dagga.

Regter Vincent Saldanha het in Junie vanjaar tydens sy skuldigbevinding dié bewerings verwerp en gesê Novella was wel in staat om te onderskei tussen reg en verkeerd.

Saldanha het Maandag gesê Novella het voorheen al dagga en daggaolie gebruik, maar dat hy dit op die dag van die moord in kombinasie met sceletium gebruik het.

“Hy verplaas sy verantwoordelikheid na demone en dwelmmisbruik. Hy moes homself gevra het of hy sceletium saam met dagga kan gebruik. Dit is roekeloos van hom want hy weet nie wat kon gebeur het nie.”

Saldanha het Booth ook herinner dat dr. Giada Del Fabbro, die verdediging se eie kliniese sielkundige, toegegee het dat die voorval selfs sonder die dwelms kon plaasvind as gevolg van Novella se “hoë woedevlakke”.

“Die hof moet besluit of dit ʼn verswarende faktor is tot dié mate dat die dwelms sy woede aangeblaas het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie ·

Dwelmgebruik moet n gewaarborgde verdubbeling van vonnis wees! Hy het die reg van lewe weggevat van n ander, hy moet swaar gestraf word.

Miekie ·

In ander lande as jy met dwelms smokkel kry jy sommer die doodstraf. In SA word dit vrylik gebruik en dan kan jy maar moord pleeg en aansoek doen vir versagtende omstandighede

Dirk ·

Hy verdien eintlik die doodstraf. Jammer dit bestaan nie meer nie. Sluit toe gooi sleutel weg. Beste.

Boeremeisie ·

Ok William as jy so seker is jou klient os onskadelik laat hom dan by jou intrek. Die argumente van party prokureurs is so lagwekkend verspot en verwyderd van die realiteite dat mens soms wonder of hulle nie eintlik saam met hulle klient in die tjoekie hoort nie

Lana ·

Op Novella se voorkop staan nou “cerote”. Hy moet VOLLE verantwoordelikheid dra.

christa ·

dwelms moet as verswared dien, nie as versagting nie. Dit was ‘n vieslike moord en hoe commit kan mens optree

Asb tog ·

AG nonsens die dwelms moet VERSWARENDE omstandighede wees, maak sy tronkstraf nog 15 jaar langer. In ander lande word mense die doodstraf opgele vir dwelmgebruik en dwelmhandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.