Landdros Grant Engel het Dougherty, ook bekend as Diego Novella, borgtog geweier. Engel het gesê hy het verskeie feite in ag geneem voordat hy besluit het dat Dougherty in aanhouding moet bly.
Dit sluit in dat Dougherty nog nooit voorheen ʼn formele werk gehad het nie, dat hy geen naby familie het afgesien van sy broers en susters nie, dat hy al baie gereis het en finansieel in staat is om enige plek in die wêreld weg te kruip. Engel het gesê daar is geen uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Guatemala nie en het beklemtoon dat die staat ʼn baie sterk saak teen Dougherty het. “Die beskuldigde is beslis ʼn vlugrisiko,” het hy gesê.
Dougherty word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, Alban, in Julie verlede jaar in ʼn luukse hotelkamer in Kampsbaai verwurg en seksueel wreed aangerand het met ʼn krultang. Dougherty is van ʼn bekende, welgestelde familie in Guatemala, wat ʼn suksesvolle sementonderneming besit.
Alban se ouers was Dinsdag ooglopend verlig om te hoor dat Dougherty agter tralies sal bly. Alban se pa, Howdy Kabrins, het gehuil terwyl die beskuldigde uit die hof gelei is. Alban se ma, Doris Weitz, sal vanmiddag terugvlieg na die VSA, maar albei ouers het gesê hulle sal na Suid-Afrika terugkeer vir die verhoor.
Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.
Geen naby familie, afgesien van broers en susters…. ?
Hulle is mos naby.