Kampsbaai-moord: Kroegman getuig oor Novella se ‘bisarre gedrag’

Diego Novella wat van die moord op Gabriela Alban verdink word (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die kroegman by die Camps Bay Retreat-hotel waar die Amerikaner Gabriela Alban vermoor is, het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof die beskuldigde, Diego Novella, se “bisarre gedrag” in die vroeë oggendure van 29 Julie 2015 beskryf.

Novella, die Guatemalaanse man wat van die moord op die 39-jarige Gabriela Alban aangekla word, het volgens Jean Nyabenda, die Franssprekende Burundese kroegman, dié oggend teen 01:00 vir 15 minute na hom gesit en staar, ʼn kitaarspeler nagemaak en op en af geloop en gedans.

“Ek het gedink daar is miskien iets fout met die ou,” het Nyabenda gesê.

Novella is op 29 Julie 2015 in hegtenis geneem nadat Gabriela se liggaam in hul hotelkamer by die luukse hotel in Kampsbaai aangetref is. Personeel van die hotel het die middag in die deurmekaar kamer op haar liggaam afgekom. Sy is met ʼn stomp voorwerp in die gesig geslaan en dit het gelyk of sy gewurg is. Sy het ook merke op haar arms gehad soos sy haarself verdedig het.

Novella was nie in die hotelkamer nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Hy is na die Valkenberg-hospitaal gestuur vir sielkundige waarneming, waar ʼn paneel bevind het hy het “verminderde aanspreeklikheid” gehad as gevolg van dwelmgebruik.

Nyabenda het getuig hy was verbaas toe Novella die betrokke oggend vir byna 15 minute vir hom gestaar het terwyl hy agter die ontvangstoonbank gesit het. “Ek het nie met hom gepraat nie, maar heeltyd myself afgevra, hoekom kyk hy so vir my?”

Hy het gesê Novella het ʼn mengeldrankie bestel en heen en weer in die ontvangsarea geloop. Toe twee ander werkers van die hotel, in die hof slegs Sarah en Diana genoem, ʼn paar ure later opdaag, het Nyabenda vir hulle gesê Novella het nog nie geslaap nie.

Sarah het glo aan Novella gesê hy moet slaap inkry. Novella het glo geantwoord: “Wat is slaap? Nee, ek kan nie gaan slaap nie, vir my is slaap niks!”

Nyabenda het gesê hy kon nie verstaan hoekom Novella betaal het vir ʼn kamer, maar toe voor die ontvangsarea op die vloer geslaap het nie. “Dit het my laat wonder, hoekom tree die man so op? Dit is wat my laat dink het iets is fout met hom – sy gedrag.”

Novella, ’n lid van ʼn prominente en welgestelde Guatemalaanse familie, het in hofdokumente Gabriela se dood as “verwoestend” beskryf. “Ek het, tot nou toe, ure lank in pyn en angs aan haar bly dink,” het hy geskryf.

Die hof het verlede maand gehoor dat Novella cannabis-olie en Sceletium geneem het voordat die moord gepleeg is. Sy verdediging sal aanvoer dat hy nie ten volle aanspreeklik gehou kan word nie omdat hy bedwelmd was. Novella voer aan hy kan glad nie onthou dat hy Alban vermoor het nie en ontken dat hy die intensie gehad het om haar te vermoor.

“Ten tyde van die voorval was ek in ʼn abnormale psigiese toestand as gevolg van die middele wat ek geneem het. Die middele het ʼn teen-inhiberende effek op my gehad en ek het abnormaal gereageer,” het Novella in sy pleitverduideliking gesê.

Novella het Alban bygestaan toe sy na Suid-Amerika wou terugkeer nadat sy ʼn paar maande in Los Angeles deurgebring het vir mediese behandeling. Alban is in 2014 verkeerdelik gediagnoseer met Addison se siekte en steroïde is aan haar voorgeskryf. Sy het aan uitputting, ʼn verlies aan ambisie, pyn en slapeloosheid gely en dit wou voorkom of die medikasie “haar siektes en probleme vererger het”.

Alban se ouers, Howdy Kabrins en Doris Weitz, het saam met hul onderskeie lewensmaats van Suid-Amerika in Suid-Afrika aangekom aan die begin van die verhoor. Hulle het Maandag moeg gelyk.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

My bloed kook sommer ·

My bloed kook sommer vurig as sy verdediging verminderde aanspreeklikheid probeer, ek stem jy weet dalk nie jy het dit gedoen nie, maar dit maak jou nie minder skuldig nie, jy moet maar in ‘n tronk gaan sit en uitvars. Verder moet die straf dubbeld wees om die boodskap aan die buiteland te stuur dat hul nie hier kan kom moor en verwoes net omdat SA se kriminele syfers hoog is nie. Die land het klaar genoeg van hulle, maak hulle dood in jul eie lande, maar jul weet daar is forensies skerp en die Regters/Jurie vat nie die strooi nie, jy weet doodstraf of lewenslank is jou voorland. Dan sal ons advokate ook spring vir die lekker geldjie te make en die gemors probeer loskry op verskoning, ek doen net my werk, kyk maar vir Dewani. Al troos wat ons het, is gewete, hulle kan nie vir dit jok of weghardloop nie!!!!!

Afrikaanse Knaap ·

Dwelms bly ‘n rowwe ding.
Hoe minder dwelms on in die samelewing het hoe meer lewens kan kon red.

Johann Marx ·

Hierdie is die swakste tipe van verdeging wat bestaan…..”beperkte aanspreeklikheid weens dwelm misbruik”. Jy het tog self besluit om die dwelms te gebruik, nie waar nie? Maar nou is die dwelms skielik “verantwoordelik” vir jou dade nadat jy dit geneem het? As jy in hierdie situasie wou wees nie, dan moes jy nie die dwelms gebruik het nie. As ek ‘n regter was sou jy vir die wêreld daar buite van agter tralies kyk vir die res van jou natuurlike lewe…Dis eintlik jammer dat gemors soos hierdie nie sommer ‘n oordosis dwelms gevat het nie…

L Webb ·

Die cannabis olie en die sceletium het niks met sy moorddadigheid uit te waai nie. Ek ly al donkiejare aan kroniese slaaploosheid en gebruik die olie elke aand omdat gewone medikasie vir slaaploosheid my baie sleg laat voel die volgende dag. Het al sceletium ook probeer en nog NOOIT enige newe-effekte of gemoedskommelings ervaar nie. Inteendeel cannabis en sceletium maak jou kalm en ek het ook nog nooit geheueverlies gehad van dit
nie….so sy storie sluk ek maar baie moeilik.

Mike ·

Ek soek ook pille vir ambisie dan sal die hele wereld heel wees.

Alida ·

Elke dag lees ons van “daar is beslaggelê” op tonne dwelms. Wie vernietig dit, en word dit ooit vernietig. Ons wil sien hoe brand die SAPD dit. Dit word 10/1 net van hande verwissel.

Lhs ·

Twak, nog n klag op die klagstaat, gebruik van dwelms en ter verswaring, slordige kamer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.