Kampsbaai-moord: Man in psigiatriese hospitaal opgeneem

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Diego Novella, van Guatemala, wat beskuldig word van die moord op sy meisie in ʼn luukse hotel in Kampsbaai, Kaapstad, is in die Valkenberg psigiatriese hospitaal opgeneem.

Novella se prokureur het Maandag gesê sy kliënt is op 7 Januarie in die hospitaal opgeneem om 30 dae onder waarneming te wees.

Hy is in Julie in hegtenis geneem nadat hy die Amerikaner, Gabriela Kabrins Alban, glo seksueel aangerand en vermoor het. Sy is in hul kamer by die hotel vermoor.

Novella is in hegtenis geneem waar hy halfkaal op die strand geloop het. Volgens die voorlopige hofdokumente kon hy nie ʼn behoorlike verduideliking gee van dit wat gebeur het nie.

Sy prokureur, William Booth, het Maandag aan die African News Agency (ANA) gesê landdros Grant Engel het tydens die vorige verskyning op 21 Desember beslis dat ʼn ondersoek ingestel moet word kragtens artikel 342A van die Strafproseswet wat met onredelike vertragings verband hou. Booth het gesê die vertraging in die saak en die vertraging om Novella in Valkenberg-hospitaal op te neem, moet nou deur die staat ondersoek word. Hy het gesê hy is “verlig” dat sy kliënt vir 30 dae opgeneem is. Hy het gesê sy kliënt is opgeneem as gevolg van sy aansoek vir die ondersoek en die feit dat dit goedgekeur is.

Novella sal na verwagting later vandeesmaand in die Kaapstadse landdroshof verskyn wanneer die staat sal moet verduidelik waarom die saak só gesloer het.

Booth het in Desember tydens ʼn vorige hofverskyning aangevoer dat die aansoek om borgtog hangende is weens ʼn assessering van Novella se geestelike toestand.

Booth het in daardie stadium gesê sy kliënt is nommer 63 op die waglys by die hospitaal. Volgens hom sal dit ʼn beduidende impak op die aansoek om borgtog hê indien sy kliënt geestelik ongeskik verklaar sou word, en dit sal ook bepaal of hy bevoeg is om verhoor te word.

Booth kon nie Maandag aan ANA bevestig of Novella se naam boontoe geskuif is op die waglys nie.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.