Kampsbaai-moord: Moordenaar se suster getuig

Diego Novella in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA/Cindy Waxa

Diego Novella se suster het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof ter strafversagting getuig.

Novella, ʼn man wat van Guatemala afkomstig is, is in Junie in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op sy 39-jarige vriendin, Gabriela Kabrins Alban, van die VSA.

Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 aangetref in ʼn kamer wat hulle by ʼn luukse hotel in Kampsbaai gedeel het. Sy is verwurg en met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Priscilla Dougherty het haar broer, een van sewe sibbe, beskryf as ʼn tiener wat “altyd vol energie was, altyd gelukkig was en altyd geglimlag het”.

Volgens haar het alles egter in 1989 verander toe hul 23-jarige broer Paul in ʼn motorongeluk dood is. Diego was 15 jaar oud.

Dougherty het gesukkel om die trane terug te hou terwyl sy aan die hof gesê het haar broer is ná die ongeluk breindood verklaar, maar dat hy vir twee dae aan die lewe gehou is sodat sy, haar tweelingbroer en Diego van ʼn kosskool in die VSA kon terugkeer om totsiens te sê.

“Ek dink ʼn gedeelte van Diego is saam met Paul dood. My hele familie was nooit weer dieselfde nie. Ons was almal so geskok, maar Diego en Lucas is die ergste geraak. Paul was altyd daar vir hulle.”

Novella se familie het op 30 Julie 2015 uitgevind van die moord op Alban en Novella se inhegtenisneming. “Ek kan nie beskryf wat deur my kop gegaan het nie. Ek het na my ouer broer se huis gelui. Sy seun het geantwoord waarna ek na die huis gery het.

“Ons het die familie bymekaargekry en almal ingelig van wat gebeur het. Ek het toe in ʼn toestand van skok ingegaan. Ek dink ek is steeds in skok.” Novella het sy oë toegehou tydens sy suster se getuienis.

Novella het tydens die verhoor beweer hy was van demone besete en in ʼn abnormale geestestoestand omdat hy voor die aanval sekere middels geneem het. Hy het ook in die hof beweer sy vriendin het in ʼn demoon verander en hom die oggend van die moord begin aanval.

Regter Vincent Saldanha het egter Novella se weergawe van die gebeure verwerp en gesê volgens hom het die staat bo alle redelike twyfel bewys dat Novella vir Alban vermoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sjoe ·

Sjoe as ons almal wat lewens verlies links en regs doodmaak omdat ons dit nie verwerk, sal die aarde nie oorvol wees nie. Nee liewe suster dierbaar wat jy doen om by jou broer te staan, maar werklik onregverdig teenoor hierdie pragtige jong dame en haar familie, hoe moet hul haar dood verwerk? Ek hoop die regter meet reg.

Magriet Botha ·

Julle altyd ophoogte van die dag se belangrikste nuus wat saak maak en dit is plesier om julle berigte te lees

LB S ·

Magriet, ek stem saam. Ek het so pas my Netwerk24 (Die Burger) transkripsie gekanselleer. Hier by MM kry mens al die belangrikste nuus en hier is beslis nie soveel Anti-Christene op hierdie forum nie. Op Netwerk24 sit hulle gedurig gereed om enige Christen aan te val en te bespot, en ek praat nie van ‘n Christelike artikel nie, sommer net as iemand sê hy hoop die Here gee troos, of so iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.