Kampsbaai-moord: ‘My hart is gebreek,’ sê pa

Howdy en Linda Karins, Gabriela Alban se ouers (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die pa van die vermoorde Amerikaner Gabriela Kabrins Alban (39) het Donderdag in trane aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê sy enigste kind is “wreed, wreed, wreed vermoor – byna satanies”.

Howdy Kabrins het op die vierde dag van die hofsaak teen die Guatemalaanse moordbeskuldigde Diego Novella getuig. Hy word daarvan verdink dat hy Alban in ʼn luukse hotelkamer in Kampsbaai, waar hulle in Julie 2015 tuisgegaan het, vermoor het.

Kabrins het gesê ʼn “brief is op haar liggaam geplaas, ʼn lelike boodskap vol haat” en dit het hom getraumatiseer en hy kan dit nog steeds nie verwerk nie.

Hy het getuig hy het die beskuldigde vir die eerste keer in April 2015 ontmoet toe hy na Guatemala gereis het om by sy dogter te gaan kuier, waar sy saam met Novella gebly het.

Hy het haar bygestaan toe sy na Suid-Amerika wou terugkeer nadat sy ʼn paar maande in Los Angeles deurgebring het vir mediese behandeling. Alban is in 2014 verkeerdelike diagnoseer met Addison se siekte en steroïdes is aan haar voorgeskryf. Sy het aan uitputting, ʼn verlies aan ambisie, pyn en slapeloosheid gely en dit wou voorkom of die medikasie “haar siektes en probleme vererger het”.

Kabrins het aan die hof gesê sy dogter het binne drie maande 20 kg gewig opgetel.

Diego Novella wat van die moord op Gabriela Alban verdink word (Foto: Courtney Africa/ANA)

Dokters in Los Angeles het haar met Lyme-siekte gediagnoseer en dit is bevestig deur bloedtoetse wat na Duitsland gestuur is. “Sy was baie, baie siek,” het hy getuig. Dokters het stelselmatig die steroïdes begin verminder “en sy het gewig begin verloor, maar haar algehele toestand, haar pyn en lys simptome was steeds baie – veltoestande, letsels, uitslae, pyn in haar limfkliere, geen energie, angstigheid”.

Toe pa en dogter in Guatemala aangekom het, het hulle saam met Novella ontbyt gaan eet. Volgens Kabrins het Novella nie aangebied om die klein rekening te betaal nie. “As ʼn pa hou ek alles dop, ek herhaal alles. Die tatoe op sy nek met die nommer 13 het my geskok.”

Kabrins het daardie aand in hulle huis oornag. Hy het na die beskuldigde se studeerkamer gegaan en sy rekenaar aangeskakel, en was geskok om pornografiese foto’s te sien.

Hulle het die volgende dag ʼn hotel gaan besoek by ʼn bekende meer wat deur vulkane omring is. “Hy het baie aggressief bestuur. Ek was ʼn passasier en was baie bang. Ons het veilig opgedaag, maar dit was ʼn moeilike rit.”

Staatsaanklaer Mornay Julius wou by Kabrins weet of Novella dwelmmiddels gebruik het toe hy hulle besoek het. “Toe ons ʼn koeldrank gedrink het, het hy vir my ʼn klein pyp gewys wat deur die inheemse volk gemaak is, wat hy gebruik het om marijuana mee te rook.” Hy het gesê daar is ʼn paar keer marijuana gerook toe hy die naweek besoek afgelê het. “Ek het dit gesien. Hy het my aangebied om ook te rook en ek het. Gabi het nie [gerook nie].”

Hy het aan die hof gesê hy was nie bewus daarvan dat sy dogter ooit enige middele misbruik het nie. Hy het na Los Angeles teruggekeer en steeds op die telefoon en deur WhatsApp met Alban gekommunikeer.

Alban het in Julie 2015 na Suid-Afrika gevlieg.

Kabrins het op 29 Julie om 03:30 ʼn oproep van sy eksvrou, Alban se ma, ontvang. Sy het gesê Alban is vermoor. “Almal was histeries, dis al wat ek kan onthou. My wêreld het sedertdien verander. Ek het geskree en gehuil en gehuil en gehuil.”

Die familie het dadelik na Kaapstad gevlieg waar Kabrins en Alban se stiefpa haar liggaam uitgeken het. “My enigste kind. Ek sal nie kleinkinders hê nie en niemand sal kaddish (ʼn Joodse gebed) sê wanneer ek sterf nie. My hart is gebreek. Ek wil seker maak dat ek alles moontlik doen om geregtigheid te laat geskied en seker maak dat almal weet ek sal altyd haar pa bly, en sy sal altyd my kind wees.”

Die hof is verdaag sodat Kabrins ná sy emosionele getuienis kon herstel. Verskeie lede van die Joodse gemeenskap, wat die verrigtinge bywoon om die gesin te ondersteun, het hard in die openbare galery gesit en huil.

Kabrins se vrou het hom buite die hof getroos. Hulle het albei onbedaarlik gehuil.

ʼn “Geestelike mediese gids” Rhoda Slabbert-Barron het vroeër getuig Novella het ʼn sewe dag lange “reinigingsprogram” by haar Magaliesberg-oord bygewoon, ʼn paar weke voor die moord. Hy het tydens dié wegbreek ʼn psigo-aktiewe middel gebruik wat in plante gevind word.

Hy het beplan om Alban soontoe te neem, aangesien hy oortuig was die behandeling sou haar siekte genees. Sy is egter dood kort voordat hulle na die wegbreek sou vertrek.

Novella het Maandag skuld ontken op ʼn aanklag van moord. Hy sal na verwagting verminderde aanspreeklikheid weens dwelmgebruik as verweer gebruik.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JoeV ·

Verminderde aanspreklikheid weens dwelm misbruik… sou dit nie aanspreeklikheid vermeerder nie?

Lynette ·

Drankmisbruik en dwelmisbruik moet VERSWARENDE omstandighede wees, NIE VERSAGTENDE omstandighede nie.

Ai ·

Net so Lynette. As hulle maar so streng op dwelms en drank was soos hulle op sigarette is!!!!

Bill vd Karoo ·

How can a pretty young girl get involved with such low life?

lw ·

My hart breek vir die ouers. Ek bid dat geregtigheid geskied. Watter bewys het die hof wel dat hy die plant ingeneem het? Nee wat verwerp die mediese gids se teorie
As ons almal dronk en bedwelmd is, watter slagting gaan daar nie op die paaie wees, moorde en verkragtings gepleeg word nie? En ons neem nie verantwoordelikheid nie?
Geen versagting!

Presies ·

Presies, dit sal n totale wanordelike sirkus raak. Ek kan nie glo sulke goed gebeur en dat hy nou meer regte as die weerlose siek meisie het nie, liewe aarde hoe magteloos en bang moes sy nie gewees het nie en daai brief vol haat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.