Kampsbaai-moord: ‘Nie net vir Gaby, maar vir alle vroue’

Kabrins wys ‘n foto van hom en Gabriela in die hof. Foto: ANA.

Howdy Kabrins (70), Gabriela Alban Kabrins (39) se pa, het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof ter strafverswaring getuig teen Diego Novella, sy dogter se moordenaar.

Regter Vincent Saldanha het Kabrins aangemoedig om sy tyd te neem toe hy vir die hof vertel het van die verwoestende impak wat die moord op sy enigste kind op die gesin gehad het.

“Ek was nog elke liewe dag hier [tydens die hofverrigtinge]; ek het nog nie een dag gemis nie. Om dit te kon doen moes ek al my bates verkoop, ek het my restaurant gesluit, ek het vriende gevra of ek geld by hulle kan leen – familie en vreemdelinge het my gehelp. Mense het my gevra of ek my lewe hieraan wy; dit is moeilik om te antwoord, maar ek het ʼn werk gehad om te doen – om geregtigheid vir Gaby te kry,” het Kabrins gesê.

Novella is skuldig bevind aan die moord op Alban op 29 Julie 2015. Alban was ʼn Amerikaanse bemarkingsbeampte met wie Novella in ʼn romantiese verhouding was. Alban se gesig is ná die moord met aartappelskyfies en menslike ontlasting bedek en ʼn krultang is tussen haar bene gevind. ʼn Nota is op haar liggaam aangetref met die woord “cerote” op geskribbel, ʼn Spaanse woord wat “stuk gemors” beteken.

Weitz by foto’s van Gabriela. Foto: ANA.

Doris Weitz, Kabrins se ma, het die hof verlaat toe Kabrins oor sommige van die getuienis van dr. Itumeleng Molefe, die forensiese patoloog, gepraat het.

“Sommige van die foto’s wat ek gesien het, verdwyn nie,” het Kabrins gesê. “Molefe het vir my gesê sy was ʼn slagoffer van ‘overkill’, waar daar verskeie oorsake van dood is, nie net een nie – om erge pyn te veroorsaak. Haar gesig was so geswel oor sy geslaan was terwyl sy steeds lewend was. Sy [Molefe] wou hê ons moet weet sy was ʼn slagoffer van ʼn geslagsgebaseerde moord.”

Novella het tydens die verhoor onskuldig gepleit en beweer hy was van demone besete en in ʼn abnormale geestestoestand omdat hy voor die aanval sekere middels geneem het. Hy het ook in die hof beweer sy vriendin het in ʼn demoon verander en hom die oggend van die moord begin aanval.

Regter Saldanha het dié bewerings verwerp en gesê Novella was in staat om tussen reg en verkeerd te onderskei.

Kabrins het gesê sy dogter het nie verniet gesterf nie en het Saldanha gevra om Novella die swaarste moontlike straf op te lê. “Ons plaas ons vertroue in jou vir alle vroue oral. Ons vra vir die maksimum vonnis, nie net vir Gaby nie, nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir alle vroue van die wêreld.”

Kabrins, wat aan post traumatiese stressindroom lei en sukkel om te slaap, het gesukkel om sy emosies onder bedwang te bring toe hy aan die hof verduidelik het hoe hartseer hy is. “Dit maak diep seer dat die enigste stem wat Novella gehoor het, Gaby was wat pleit vir haar lewe. Die enigste stem wat ek gehoor het, was Gaby wat sê: ‘Help my, pappa, help my, pappa.’ Ek hoor dit konstant.”

Kabrins wys ‘n foto van hom en Gabriela in die hof. Foto: ANA.

Hy het verduidelik hoe hy en sy vrou, Linda Kabrins, Weitz en haar man, Alexander Williams, almal op dieselfde vlug na Suid-Afrika gekom het. Twee dae later het hulle die lykshuis besoek.

“Alex het gesê hy sal saam met my gaan. Ons het in ʼn donker en onheilspellende gang afgeloop en deur ʼn glas-afskorting gekyk. Wat ek gesien het, was Gaby met ʼn baie erg geswelde gesig. Alex het sy hand op my skouer gehad. Ek sal nooit daardie oomblik vergeet nie. Ek het uitgegaan en vir Linda en Doris gesien, en vir hulle gesê: ‘Dis sy, dis ons klein dogtertjie.’”

Volgens hom het een joernalis dit reg beskryf toe hy gesê het sy dogter is twee maal vermoor, eers deur Novella en toe deur die media. Aanvanklike berigte het voorgestel dat ʼn dwelm-orgie aanleiding gegee het tot die moord, maar “enigiemand wat Gaby geken het weet dit was glad nie haar leefstyl nie. Daar was geen dwelms of dagga in haar liggaam nie”.

Kabrins het gesê hy hoop om ʼn stigting vir slagoffers van mishandeling in sy dogter se naam op die been te bring.

Regter Saldanha het gesê die hof het sy toewyding om elke dag die verhoor by te woon opgemerk en gesê dat dit in Suid-Afrika Vrouemaand is “waar ons kennis neem van die geweld teen vroue, so jou woorde is nie verlore nie”.

Voorvonnisbetoë is tot Maandag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Simone ·

Wat van n foto van die koelbloedige moordenaar. of het hy nou weer te veel regte??

vicky alberts ·

Daar is al baie fotos van hom geplaas,selfs n storie in die Huisgenoot. Dis nie n nuwe storie nie. Volg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.