Kampsbaai-moord: Novella gevonnis

Diego Novella in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA/Cindy Waxa

Diego Dougherty Novella, die Guatemalaanse burger wat skuldig bevind is aan die moord op sy Amerikaanse vriendin in ʼn Kampsbaai-hotel, is Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis.

Regter Vincent Saldanha het Novella tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Gabriela Kabrins Alban (39).

Saldanha het tydens die vonnisoplegging gesê die “doelbewuste ontheiliging” van Alban se liggaam het as verswarende omstandighede gedien wat hom genoodsaak het om Novella ʼn swaarder vonnis as die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar op te lê.

Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 in ʼn kamer van ʼn luukse Kampsbaai-hotel aangetref. Sy is verwurg en met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Alban se gesig was bedek met skyfies en lekkers, ontlasting is op haar liggaam gesmeer en ʼn haartang is tussen haar bene geplaas. ʼn Nota met die woord “cerote” daarop geskribbel is op haar liggaam gelos. Dié Spaanse woord beteken “stuk gemors”.

Novella, wat van ʼn vooraanstaande en welgestelde familie afkomstig is, het onskuldig gepleit op die aanklag teen hom en aangevoer hy het verminderde aanspreeklikheid gehad weens die gebruik van dwelmmiddels.

Novella het aangevoer hy het in ʼn abnormale verstandelike toestand verkeer nadat hy middels gebruik het wat veroorsaak dat ʼn mens hallusineer, naamlik sceletium (ook bekend as kanna) en dronabinol asook dagga.

Howdy Kabrins en sy vrou, Linda Kabrins. Foto: Catherine Rice/ANA

Saldanha het in Junie vanjaar tydens sy skuldigbevinding dié bewerings verwerp en gesê Novella was wel in staat om te onderskei tussen reg en verkeerd. Saldanha het tydens sy vonnisuitspraak gesê Novella het die uitwerking wat die dwelmmiddels op hom gehad het, “oordryf” en dat die middels waarskynlik sy woede vererger het, maar nie die oorsaak is van die brutale aanval op Alban nie.

Hy meen dit is daarom ʼn verswarende faktor.

Hy het ook genoem dat Novella van ʼn ruim familie-erfporsie geleef het, nooit vir ʼn beduidende tydperk ʼn werk gehad het nie en baie gereis het. Novella se soeke na geestelike verligting het hom na Suid-Afrika gebring waar hy ʼn oord in Magaliesburg bygewoon het waar ibogaine, ʼn psigoaktiewe stof wat in plante voorkom, toegedien is.

Hy het Alban oortuig om haar by hom in Suid-Afrika aan te sluit omdat hy geglo het die spirituele oord sal help om haar gesondheid te verbeter – Alban het aan Lymes se siekte gely en haar toestand het aansienlik agteruitgegaan wat haar finansieel afhanklik van Novella en haar ma gelaat het.

“Ibogaine was niks meer as ʼn ontwykende geneesmiddel vir Lymes se siekte nie,” het Saldanha gesê.

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Hy het gesê Novella het blatante arrogansie tydens die verhoor getoon, veral in sy bewering dat Alban vrede teenoor hom gehad het. Saldanha het gesê sy “halfhartige berou” het net die saak vererger. Novella het ook gesê Alban se dood is weens “ʼn fout van albei partye” en dat hy dit nie bewustelik gedoen het nie.

Die regter het daarop gewys dat Novella nooit ʼn onvoorwaardelike verskoning aan die familie gerig het nie.

Saldanha het gesê wanneer Novella vrygelaat word, sal hy na Guatemala gedeporteer word, dus sal “parool oneffektief wees”. Hy het ook gesê die korrektiewe dienste se paroolraad sal met Alban se familie oorleg pleeg voordat Novella vrygelaat sal word.

Alban se familie het gehuil toe Novella gevonnis is. Doris Weitz, Alban se ma, het gesê sy het gehoop Novella sou tot lewenslange tronkstraf sonder parool gevonnis word.

Die familie het ʼn siviele saak teen Novella in Amerika aanhangig gemaak.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koeloekoe ·

Mooi man en as als mooi uitwerk kry hy nog dalk die doodstraf daar binne

Ralph ·

Nou omdat die vent n uitlander is blyk die vonnis nie lewenslank te wees nie. En dan sal SA belastingbetalers vir 20 jaar vir hom moet sorg. Skande.

Wonder ·

Nou moet die SA BELASING BETALER vir ‘n buitelandse “moordenaar” vir 20 jaar ondderhou.
Stel hom dirrek te reg dan hoef ons hom nie teonderhou nie.

marietjie ·

As dit 1 van ons mense oorsee was Dan het ons die doodstraf gekry net so die wat nou daar is vir dwelmsmokkel. Wat geld vir 1 moet geld vir ander ook.

Niklaas ·

Mens wonder nou wat die VSA regstelsel se straf sou wees. Hy mag dalks met goeie gedrag in tronk na 12 /14 jaar vrygelaat word.

LB S ·

Lees weer, parool sal oneffektief wees want dan word hy teruggeplaas na sy land en die DKD moet eers in oorleg met haar ouers pleeg. Haar ouers het ook ‘n saak in Amerika teen hom gemaak. So ja, hy gaan vir baie lank nie ‘n vry man wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.