Kampsbaai-moord: Novella glo die ‘swart skaap’ van familie

Diego Novella in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA/Cindy Waxa

ʼn Sielkundige wat Maandag ter strafversagting van Diego Novella getuig het, het hom as die “swart skaap” van die familie beskryf.

Novella, ʼn man wat van Guatemala afkomstig is, is in Junie in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op sy 39-jarige vriendin, Gabriela Kabrins Alban, van die VSA.

Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 aangetref in ʼn kamer wat hulle by ʼn luukse hotel in Kampsbaai gedeel het. Sy is verwurg en met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Regter Vincent Saldanha het aangedring dat dié term (“swart skaap”) onvanpas is in die volksmond en Giada del Fabbro het dit toe aangepas na “verlore skaap” of “individu met ʼn probleem wat voel dat hy nie aan die familie behoort nie”.

Del Fabbro het ʼn voorvonnisverslag saamgestel en gesê Novella het die rol van ʼn rebel ingeneem en net aandag van sy ouers gekry vir probleemgebiede in sy lewe soos sy akademiese prestasie.

As die vyfde van sewe kinders het hy glo gevoel sy ouer sibbe word bevoordeel. Del Fabbro het ook getuig dat Novella ʼn antisosialepersoonlikheidsversteuring asook ʼn dwelmmisbruiksversteuring het en minder geneig sou wees om só op die woede wat hy vir Alban gevoel het te reageer as hy nie onder die invloed van dwelms was nie.

Novella het tydens die verhoor beweer hy was van demone besete en in ʼn abnormale geestestoestand omdat hy voor die aanval sekere middels geneem het. Hy het ook in die hof beweer sy vriendin het in ʼn demoon verander en hom die oggend van die moord begin aanval.

Saldanha het egter in sy uitspraak volgehou Novella kon onderskei tussen reg en verkeerd. Del Fabbro het verder getuig dat Novella geen tekens van ʼn geestesversteuring getoon het tydens haar onderhoud met hom nie, maar intelligent, warm en sjarmant was en sy samewerking gegee het.

Novella het nooit amptelik gewerk nie, maar het op verskillende tye by die familie se sementonderneming gewerk.

Sy probleme met dwelms het reeds in 1989 begin – dit het die middel algemeen bekend as ecstacy en kokaïen ingesluit. In 2008 het hy meer natuurlike dwelms soos “magiese sampioene”, dagga en ayahuasca begin gebruik. Hy is in sy vroeë twintigs met aandagafleibaarheidsindsroom gediagnoseer.

Volgens Del Fabbro het Novella vir Gabriela ontmoet terwyl hulle studente was en hulle het “vlugtig uitgegaan”. In 2013 het hulle weer begin uitgaan en sy het in 2014 by hom ingetrek. “Hulle verhouding was plofbaar en is deur gereelde konflik gekenmerk. Hulle het die ergste in mekaar na vore gebring.”

Volgens haar het Alban soms vir Novella fisiek aangeval tydens verbale rusies. “Kabrins sou heeldag lank slaap en in die aand wakker word en dan van Novella verwag om met haar te gesels.”

Alban het dikwels pyn beleef aangesien sy met Lyme se siekte gediagnoseer is.

Volgens Del Fabbro was Novela beïndruk met die uitwerking van ibogaine, ʼn psigoaktiewe middel, en wou gehad het Gabriela moet dit beproef. Dit is glo die rede hoekom hy haar na Suid-Afrika gebring het.

Volgens Del Fabbro het Novella gesê hy is lief vir Kabrins en wou kinders by haar hê selfs al was hulle verhouding onstuimig.

Novella sou volgens Del Fabbro ander keuses gemaak het as hy dit oor moes doen en gekies het om die hotel te verlaat om die situasie wat tot die moord gelei het te vermy.

“Die oorledene het Novella ʼn ‘faggot’ genoem. Hy hét die hotelkamer tydelik verlaat.”

Volgens haar kon hy aangetrokke gewees het tot ʼn verhouding waar hy konstant gevoel het hy faal. “Deur ʼn ‘faggot’ genoem te word, sou resoneer met die deel van hom wat gevoel het asof hy nie genoeg is nie.”

Volgens haar het Novella nie ʼn goeie vermoë om situasies te hanteer nie.

“Dit sal belangrik vir Novella wees om kontak te hê met familie, per telefoon of in die vorm van besoeke, om die risiko van die herhaalde pleging van ʼn misdaad te voorkom.”

Kabrins se familie wat van Amerika na Kaapstad gereis het vir die verhoor het uitgeput en ontsteld voorgekom toe hulle die getuienis aanhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Risiko van herhaalde pleging van misdaad ? Dis duidelik bevestiging dat hy nie in die gemeenskap los gelaat kan word nie .

Gemaskerde Sopbeen ·

Jy WEET jy’s die uitgeworpene van jou familie. Jy WEET jy sukkel met anti-sosiale gedrag. Jy WEET jou verhouding met jou girlfriend is stormagtig. Jy WEET jy sukkel met jou humeur. Jy WEET al hierdie goed…en jy WEET dat dwelms die slegste in jou na vore bring. Toe vermoor jy jou girlfriend……..en nou blameer jy al die bogenoemde? As jy jou dwelmmisbruik gelos het, en hulp gekry het vir jou toestande, en weggebly het van meisies wat stormagtige verhoudings met jou wil hê….was jy nou ‘n vry man. Daar is ‘n spreekwoord: Jy is altyd vry om te kies, maar jy is nooit vry van die gevolge van jou dade nie………..Sorry tjopper…kry vir jou ‘n hokkie in Polsmoor.

Kobus ·

Ek stem saam. Daar is baie mense wat in onvolmaakte omstandighede groot word. Dit kan nooit as rede vir moord, mishandeling of verkragting dien nie.

Skerpioen ·

As die gesegde ‘swart skaap van die familie’ onvanpas is, is die engelse terme ‘black sheep of the family’ dan seker ook van pas? Wil jy nou meer? Dan mag daar ook seker nie meer gepraat word van witbroodjie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.