Kampsbaai-moord: Novella hoor vandag sy lot

Diego Novella met sy regsverteenwoordiger, William Booth. Foto: Tracey Adams/ANA

Uitspraak sal na verwagting Donderdag in die Wes-Kaap-hooggeregshof gelewer word in die Diego Novella-moordsaak.

Diego Novella word beskuldig van die moord op sy Amerikaanse vriendin, Gabriela Kabrins Alban, in Julie 2015 in ʼn hotel in Kampsbaai. Sy is gewurg en glo met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Toe Alban se liggaam gevind is, was haar gesig bedek met aartappelskyfies en menslike ontlasting, en ʼn nota is op haar liggaam gelos met die Spaanse woord “cerote”. Dit beteken glo “stuk gemors”. Novella is dieselfde dag in hegtenis geneem.

ʼn Vingerafdruk-kenner het vroeër in die verhoor getuig dat Novella se vingerafdruk op die nota aangetref is.

Novella is dieselfde dag in hegtenis geneem en het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Hy is lid van ʼn bekende en welgestelde familie in Guatemala en het aangevoer hy het in ʼn abnormale verstandelike toestand verkeer ná hy middels gebruik het wat veroorsaak dat ʼn mens hallusineer, naamlik sceletium (ook bekend as kanna) en dronabinol asook dagga.

Regter Vincent Saldanha het 19 Junie sy geduld verloor en vordering in die verhoor geëis. William Booth, Novella se prokureur, was merkbaar gefrustreeerd nadat Saldanha vir hom gesê het hy bly homself herhaal.

“Selfs wanneer jy tot afsluiting kom, kry jy dit nie reg nie.”

Booth het teruggekap en gesê: “Ek neem aanstoot deur sommige van die persoonlike aanmerkings wat jy deur die loop van die verhoor gemaak het.” Hy is van voorneme om die saak verder te voer.

Novella het vroeër in Junie opgestaan en vir die hof gesê hy het tydens sy getuienis gelieg. Hy moes daarna dringend vir waarneming gestuur word om vas te stel of hy in ʼn toestand is om verhoor te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.