Kampsbaai-moord: Novella medies ondersoek ná uitbarsting

Diego Novella in die hof. Foto: ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag beveel dat die moordbeskuldigde Diego Novella ʼn mediese ondersoek ondergaan om te bepaal of hy vir 72 uur psigiatriese observasie gestuur moet word.

Dit kom nadat hofverrigtinge Dinsdag tot stilstand gedwing is toe Novella op regter Vincent Saldanha begin skree het en geëis het om met die Guatemalaanse konsul te praat. Hy het ook geweier om sy regsverteenwoordiger se selfoon aan hom terug te gee.

Novella word aangekla van die moord op sy Amerikaanse vriendin, Gabriela Kabrins Alban, in Julie 2015.

Alban se pa en stiefma was ooggetuies van Novella se uitbarsting in die hof en het dit as “skrikwekkend” beskryf. Howdy Kabrins, Alban se pa, het aan African News Agency gesê: “Almal was bang in die hof. Almal. Hy het net begin skree hy weet wat aangaan.”

Linda, Kabrins se vrou en Alban se stiefma, het ook gesê die uitbarsting was “vreesaanjaend”. “Enige iets kon gebeur het. Ek het gedink daar gaan enige oomblik skote klap.”

Doris Weitz, Alban se ma, het gesê sy het nie die uitbarsting gesien nie, aangesien sy met opset nie by die hof wou wees nie omdat grafiese getuienis oor bloedspatsels aangehoor sou word. “Al die vertragings is baie frustrerend. Ons het van ver af gekom, maar ons het geen keuse oor wat gebeur nie,” het sy gesê.

Howdy Kabrins en sy vrou, Linda Kabrins. Foto: Catherine Rice/ANA

Novella het Dinsdag geëis dat sy regsverteenwoordiger, William Booth, dit op rekord plaas dat hy dagga in sy besit het. Hy het Booth se selfoon afgeneem en dit gebruik om die Guatemalaanse konsul en verskeie familielede te bel. Hy het geweier om die foon terug te gee en vier hofbeamptes moes hom onder bedwang bring en terugneem na die hofselle toe.

Novella is van die hof af direk na die Victoria-hospitaal geneem waar hy deur ʼn dokter ondersoek is. Booth het Woensdag aan die hof gesê dat Novella se bloed getrek is en ʼn urienmonster geneem is en dat dit na ʼn laboratorium gestuur sal word om getoets te word.

“Ek het die beskuldigde gister gesien en volgens my siening was hy in ʼn baie verwarde toestand,” het Booth aan die hof gesê. Hy het gesê Novella kon nie onmiddellik na die psigiatriese eenheid geneem word nie, aangesien die lasbrief aandui dat hy na die Pollsmoor-gevangenis se hospitaal geneem moet word.

Saldanha het gesê hy is nie oortuig dat Novella “verward” was nie, maar dat hy eerder “onder die invloed” was.

Booth het gesê dit is nog onduidelik of Novella se gedrag deur die gebruik van dagga veroorsaak is. “Hy het die heeltyd tegelykertyd van verskillende goed gepraat en van een onderwerp na die volgende gespring. Hy was nie in staat om ʼn duidelike antwoord te gee oor enige van die aspekte waaroor ek hom gevra het nie.”

Novella het aangedui hy wil hê Booth moet dit op rekord plaas dat hy ontevrede is met die manier waarop hy Dinsdag hof toe gebring is. Booth het aan sy kliënt se versoek voldoen en gesê “hy is gister op ʼn ander roete na die hof gebring en is ontevrede met die manier en die spoed waarteen die voertuig bestuur is toe hy van Pollsmoor na die hof gebring is”.

Doris Weitz en haar man, Alexander Williams. Foto: Catherine Rice/ANA

Saldanha was ooglopend uit die veld geslaan deur dié beswaar.

Louise Friester-Sampson, die staatsaanklaer, het gesê die dokter by die Victoria-hospitaal het versoek om Novella nog ʼn keer te sien voordat hy ʼn aanbeveling oor die psigiatriese observasie sal maak. Saldanha het ingestem hiertoe en Novella is weer uit die hof begelei om na die hospitaal geneem te word.

Novella het vroeër skuld ontken op die aanklag van moord teen hom en voer aan hy het “verminderde aanspreeklikheid” gehad as gevolg van dwelmgebruik. In sy pleitverduideliking voer hy aan hy was in ʼn “abnormale geestestoestand” en dat dwelmmiddels veroorsaak het dat hy op ‘m abnormale manier opgetree het.

Novella is op 29 Julie 2015 in hegtenis geneem nadat Alban se liggaam in ʼn hotelkamer in Kampsbaai gevind is waar die twee vakansie gehou het. Haar liggaam is deur hotelpersoneel gevind. Novella was nie in die kamer nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tanya ·

Jy ken mos die antwoord vir daardie vraag Helen! Ons bly in SA.

Presies ·

Weereens ‘n bewys soos Panayiotou & Duwani, hulle geld maak reg wat krom is. Hulle groei op met soveel geld en het geen waardes. ‘n Lewe is boggerol werd……. in hul oe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.