Kampsbaai-moord: Pa kan wéér nie getuig nie

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Gabriela Kabrins Alban se pa is Dinsdag vir die tweede dag nie geroep om in die Wes-Kaapse hooggeregshof te getuig nie.

Howdy Kabrins is die eerste staatsgetuie in die saak teen die Guatemalaanse moordbeskuldigde Diego Novella. Die saak het Maandag begin.

Die gesin het verlede week van Amerika gevlieg om die hofverrigtinge by te woon, maar die 39-jarige Amerikaner se ouers moes ure lank buite die hof sit en wag om te getuig.

Regter Vincent Saldanha het daarop aangedring dat Novella deur al die misdaadtoneelfoto’s en dokumente werk voordat getuienis voortgaan. Hy wou seker maak dat Novella tevrede is met alles wat sy prokureur, William Booth, ingedien het.

Saldanha het ʼn waarskuwing aan verslaggewers uitgereik dat die foto’s van die misdaadtoneel “uiters grafies” is en “persone kan ontstel wat dit sien”. “Die foto’s in die saak moet uiters versigtig hanteer word en die menswaardigheid van die oorledene moet gerespekteer word.”

Novella was ontsteld dat die foto’s openbare dokumente word sodra dit as bewyse ingedien word, en dat dit gepubliseer mag word. Hy wou by die regter weet wat die voordeel sou wees indien dit gepubliseer word.

Saldanha het gesê die media vind dit nuuswaardig. “Die dokumente is deel van die openbare rekord, maar die media moet baie versigtig te werk gaan weens die aard van die foto’s.”

Die saak hervat Woensdagoggend sodat Booth saam met sy kliënt deur die bewyse kan werk. “Ek wil nie hê daar moet enige onsekerheid wees nie, so ek gaan stadig daardeur werk.”

Novella het skuld ontken op aanklag van moord. In sy pleitverduideliking het hy gesê hy was in ʼn “abnormale geestestoestand” nadat hy hallusinasie-dwelmmiddels misbruik het.

Hy is op 29 Julie 2015 in hegtenis geneem nadat Gabriela se liggaam in hul hotelkamer by die luukse Camps Bay Retreat-hotel gevind is. Personeel van die hotel het die middag op haar liggaam afgekom in die deurmekaar kamer. Sy is met ʼn stomp voorwerp in die gesig geslaan en dit lyk of sy verwurg is. Sy het ook merke op haar arms gehad toe sy haarself wou verdedig.

Novella was nie in die hotelkamer nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Hy is na Valkenberg-hospitaal gestuur vir ʼn sielkundige ondersoek, waar ʼn paneel bevind het hy het “verminderde aanspreeklikheid” gehad as gevolg van dwelmgebruik.

Novella, van ʼn prominente en uiters welgestelde Guatemalaanse gesin, het in dokumente aan die hof gesê Gabriela se afsterwe was “verwoestend”. “Ek het, tot nou toe, al ure lank in pyn en angs aan haar bly dink.”

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

André ·

So nou kan ons maar almal dwelms gebruik vir verminderde aanspreeklikheid. Lekker man.

al ·

Ek het werklikwaar nie simpatie vir die beskuldigde agv sy verminderde verantwoordelikheid vir dwelmgebruik.

Ernst ·

Shame. Hy het voor die tyd geweet wat dwelms aan n mens kan doen so hy moet die verandwoordlikheid daarvoor dra.

Anoniem ·

Die invloed van dwelms moet eerder as verswarende omstandighede dien. Jy moes in die eerste plek nooit dwelms gebruik het nie!!

E Martins ·

Stem 100% saam. Verseker ons gaan weer n Dewani-tipe verhoor sien. Skiet, moor, raak hoog en of drink teveel en jy kom skotvry daarvan af. Local is lekker….

CHRISTA ·

Dis nie ‘n ekskuus nie! Waarom dink hy word dwelms as onwettig beskou en word jy vir jarre tronk toe gestuur vir besit of handel daarin? Hulle tronkstraf is dikwels langer as wat moordenaars kry!!!

Justice ·

Die doodstraf is ongelukkig uit – Plan B – Sluit Novella vir altyd toe in C-Max. Gee hom elke drie maande vir `n week lank die beste kwaliteit dwelms. Laat hy dan vir die daaropvolgende 3 maande die ontrekking simptome ervaar. Herhaal onmiddelik die behandeling indien die ontrekking simptome verminder. Hy kan dan sy hallusinasies uitleef in eensaamheid. My innige simpatie aan die ouers wat `n pragtige dogter verloor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.