Kampsbaai-moord: Pa sal nalatenskap vir dogter bou

Howdy Kabrins en sy vrou Linda (Gabriela se stiefma) Foto: Cindy Waxa/ANA

Die pa van die vermoorde Amerikaanse Gabriela Kabrins Alban, wat in 2015 in Kampsbaai in Kaapstad vermoor is, is van voornemens om ʼn nalatenskap in sy dogter se naam in Afrika, Mexiko en die VSA oprig.

Die hofsaak van die moordbeskuldigde Diego Novella van Guatemala, duur al 110 dae voort en Howdy Kabrins het nog nie ʼn enkele dag misgeloop nie.

Kabrins het Maandag sy 70ste verjaarsdag gevier toe die verdediging uiteindelik sy saak afgehandel het. Regter Vincent Saldanha het die saak tot 6 Junie uitgestel vir finale argumente.

“My dogter sou volgende week haar 41ste verjaarsdag gevier het. Wanneer ek my verjaarsdag vier, dink ek natuurlik aan haar. Daar was altyd ʼn baie sterk band tussen ons omdat ons verjaarsdae so naby aan mekaar is,” het hy aan die African News Agency (ANA) gesê.

Novella voer aan hy het verminderde aanspreeklikheid vir die moord en het skuld ontken op aanklag van moord. Hy het in sy pleitverduideliking gesê hy was in ʼn “abnormale geestelike toestand nadat hy dwelmmiddels misbruik het”.

Diego Novella (Foto: Courtney Africa/ANA)

Novella is op 29 Julie 2015 in hegtenis geneem nadat Gabriela se liggaam in ʼn hotelkamer in Kampsbaai gevind is. Die paartjie het in die luukse Camps Bay Retreat Boutique Hotel tuisgegaan. Werknemers het die middag op haar liggaam afgekom. Novella was nie daar nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem.

Die uitgerekte hofsaak het sy tol geëis van Gabriela se ouers en hul geliefdes, Howdy en Linda Kabrins en Doris Weitz en haar man Alexander Williams. Hulle het van Amerika na Suid-Afrika gereis om die hofverrigtinge by te woon.

Hulle was verbaas toe William Booth, vir Novella, sy saak afgesluit het. “Ons monde het oopgehang, want ons het verwag daar gaan nog ʼn hele paar getuies geroep word,” het Kabrins gesê.

Hy het bygevoeg hy het “volle vertroue” in die regter en hoop Novella sal die res van sy lewe agter tralies deurbring, alhoewel dit nie die pyn sal verlig om Gabriela te verloor nie. “Sy was my enigste kind, my dogter, ek kan nog steeds haar stem hoor en hoe sy my hulp roep vir wat daardie aand gebeur het. Die pyn sal nooit weggaan nie. Ek en Doris (Gabriela se ma) het die lewenslange vonnisse gekry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is regtig hartseer om van jou enigste kind ontneem te word. Daai hartseer, gemis, gevoelens en gedagtes dat sy enige tyd weer sal instap of haar oproep om net te kan se “Hallo, ek mis jul”. Die groot pyn wat hierdie Ouers saam hul moet graf toe neem is so onregverdig. Mag jul berusting in jul harte vind en sterkte op jul pad vorentoe.

Theresa ·

Mooi gestel Oom – ongelukkig sal hul die pyn bly dra – hoop maar dat tyd dit meer draaglik sal maak.

DS ·

Dis regtig hartseer om van ENIGE kind ontneem te word – oom Kalahari. Die seer bly ewe erg.

Absoluut ·

Absoluut, die hartseer bly onuithoubaar. Die Pa stel dit so mooi, mens voel die pyn

GM ·

DS, ek glo nie oom Kalahari het bedoel dat dit erger is om ‘n ENIGSTE kind te verloor, as wat dit is om enige ander kind van jou te verloor nie. Maar bloot kommentaar gelewer op dié spesifieke berig waar dit die egpaar se enigste kind was. Ek glo om ander kinders te hê wat oorbly, gaan jou net forseer om voort te MOET gaan, ter wille van hulle, dit maak nie die verlies van ‘n kind makliker nie.
Die feit dat iemand sê hulle kan nie verantwoordelik gehou kan word vir hul dade nie, omdat hul dwelmmiddels gebruik het, is nonsens. Hul moet erger gestraf word.
Sterkte aan die ouers. Dis waar wat die pa sê: HULLE het die lewenslange vonisse gekry. Dis vreeslik hartseer.

Oom Kalahari ·

@GM, dankie vir jou regstelling op DS se antw, dit was inderdaad wat ek bedoel het omdat dit die Ouers se enigste dogter is, maar ja dit is wel so as daar meertallige kinders is en die verlies daaraan van enige kind wat hartverskeurend is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.