Kampsbaai-moord: Regter, verdediging stamp koppe

Diego Novella met sy regsverteenwoordiger, William Booth. Foto: Tracey Adams/ANA

Regter Vincent Saldanha het Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad tydens ʼn openlike woordewisseling met die moordbeskuldigde Diego Novella se regsverteenwoordiger gesê dié verhoor moet nou tot ʼn punt kom.

Saldanha was ooglopend gefrustreerd en het aan William Booth, vir die verdediging, gesê hy is besig om homself voortdurend te herhaal. “Selfs wanneer jy tot afsluiting kom, kry jy dit nie reg nie.” Booth was besig om sy kruisondervraging van dr. Konrad Czech, ʼn private psigiater, af te sluit.

Booth het teruggekap en gesê: “Ek neem aanstoot deur sommige van die persoonlike aanmerkings wat jy deur die loop van die verhoor gemaak het.” Hy het gesê hy is van voorneme om die saak verder te neem.

Novella word beskuldig van die moord op sy Amerikaanse vriendin, Gabriela Kabrins Alban, in Julie 2015 in ʼn hotel in Kampsbaai. Die moordverhoor het verlede week tot stilstand gekom toe Novella in die hof opgestaan het en gesê het hy het gedurende sy getuienis gelieg.

Sedertdien word daar geskarrel om Novella se geestelike toestand te bepaal en vas te stel of hy geskik is om verhoor te word. Die verdediging se slotbetoë kon gevolglik nie gelewer word nie en ʼn uitspraak sal dus nie soos verwag is teen die einde van die maand gelewer kan word nie.

Novella is verlede week deur ʼn psigiater van die Victoria-hospitaal geëvalueer. Die psigiater het bevind sy uitbarsting was die gevolg van ʼn paniekaanval en het bepaal dat die dosis van sy medikasie verhoog moet word.

Dr. Czech, wat Dinsdag getuig het, het Novella ook geëvalueer en aangevoer die beskuldigde ly aan “ontpersoonliking” en “derealisering” (ʼn gevoel dat die omringende omgewing nie werklik is nie).

Diego Novella in die hof. Foto: Cindy Waxa/ANA

“Ontpersoonliking is ʼn ontwrigting in ʼn persoon se sin van homself. Dit is ʼn dissosiatiewe afwyking: ʼn herhalende gevoel van vervreemding en ʼn gevoel dat hy los is van homself. Hy het gesê hy weet nie of hy lewe en of hy dood is nie, of hy op of af is nie,” het Czech verduidelik. In terme van die derealisering het Czech verduidelik Novella weet nie hoekom hy hier is nie en verkeer al ʼn geruime tyd in dié toestand.

Die toediening van medikasie by die Pollsmoor-gevangenis het ook onder die soeklig gekom. Dit het aan die lig gekom dat Novella 22 Valium-tablette opgegaar het en in ʼn stadium vier van die tablette op een slag gedrink het. Czech het gesê ʼn persoon wat ʼn oordosis van Valium neem, sal in ʼn hospitaal opgeneem moet word en kan selfs sterf. “Hy het egter nie aangedui dat dit ʼn selfmoordpoging was nie.”

Regter Saldanha het opgemerk: “Indien jy nie aan ʼn geestesversteuring ly nie, is dit jou verantwoordelikheid om jou medikasie te neem.”

Czech het aan die hof gesê tydens sy eerste konsultasie met Novella verlede week, het Novella in die vertrek ingekom “met groot oë en net gebabbel”.

“Hy het verwarrende en teenstrydige stellings gemaak, hy was baie angstig en met tye onsamehangend. Sy prokureur was nie in staat om instruksies by hom te kry nie. En hy was nie op sy medikasie nie. Ek het aanbeveel dat hy van ʼn sel wat hy met 11 ander gevangenes deel na die hospitaalafdeling oorgeplaas word. My gevoel was dat sy geestestoestand moet stabiliseer voordat hy na die hof kan terugkeer.”

Volgens Czech het Novella effens beter gelyk toe hy hom ʼn tweede keer gesien het, maar het hy nie sy Valium of ander medikasie (nog twee soorte) ontvang wat Czech vir hom voorgeskryf het nie. Hy het getuig indien die medikasie gereeld en korrek toegedien word, sal dit drie tot vier dae neem om ʼn uitwerking te hê.

Saldanha was egter nie oortuig dat dit nodig was om die saak so lank uit te stel nie. “Die beskuldigde was gister in die hof en daar was geen angs of onsamehangendheid nie. Inteendeel, teen die einde van die verrigtinge het ek hom gevra of hy die verrigtinge verstaan het en hy het gesê hy het verstaan.”

Die regter het volgehou dat Czech se evaluasie van Novella se geestestoestand Donderdagoggend moet plaasvind en dat die verhoor daarna moet hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nettie ·

Klink my die knapie gebruik allerlei maniere om die hofsaak so lank as moontlik uit te stel of te laat sloer. Snaaks, dat daar niks met hom verkeerd was toe hy sy ‘vriendin’ (na bewering natuurlik) vermoor het en aartappelskyfies op haar gesig geplak het en bo-op haar ontlas het, soos ‘n hond wat sy ‘gebied’ wil merk nie.

Ek sê: stuur hom tronk toe, sommer vir BAIE BAIE LANK en sluit hom só ver weg dat sy kos met ‘n kettie tot agter in die sel geskiet moet word.

marous ·

Verklaar hom dan kranksinnig en stuur hom na die plek van “were all here because were not all there ” toe vir ewig . Hy mag ook geen besoekers ontvang nie want hy is te gevaarlik Hy moet heeldag pille kry wat hom mak hou .

Koos ·

Booth is besig om na ‘n appèl toe te werk. Hierdie regter moet nie sy frustrasies laat oorkook nie anders gaan die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel word. Hou hierdie spasie dop, dit kan wel ‘n jaar of twee vat. Koos het gepraat.

Francois Joubert ·

Booth is besig om ‘n ‘label’ aan hom te hang wat die regters nou al agtergekom het. Verdedig bedenklike karakters en sake word uuuuuuuuitgerek.

Frik ·

Hoe langer uitrek hoe meer geld maak die verdedigende regslui en hoe meer word ons belastinggeld gemors.
Dankie vir regters soos regrer Saldanha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.