Kampsbaai-moord: Staat sê oor Guatemalaan se bevoegdheid

Diego Novella (Foto: Catherine Rice/ANA)

Die staat voer aan daar is geen bewyse wat aandui dat die Guatemalaanse moordbeskuldigde Diego Novella nie toerekeningsvatbaar was toe hy na bewering sy Amerikaanse vriendin Gabriela Kabrins Alban in Julie 2015 vermoor het nie.

Finale argumente is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor. Regter Vincent Saldanha het vroeër daarop aangedring dat Novella se prokureur, William Booth, eers duidelikheid moet bied oor die verdediging se posisie oor die kwessie van toerekeningsvatbaarheid.

Hy het gesê volgens Novella se pleitverduideliking het die beskuldigde verminderde aanspreeklikheid, as gevolg van dwelmmiddels wat hy gebruik het wat ʼn psigotiese uitwerking gehad het, terwyl Booth se betoogshoofde slegs verwys na “beskonkenheid” wat sy gedrag veroorsaak het.

Booth hou vol die middels wat sy kliënt ingeneem het, het inderdaad ʼn invloed gehad op die beskuldigde se toerekeningsvatbaarheid. “Hy was in ʼn psigotiesagtige staat en sonder inhibisies. Hy het ʼn demoon (die oorledene) gesien en die middels het ʼn effek op hom gehad. Dit, in ʼn neutedop, is sy verdediging.”

Die 39-jarige Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 aangetref in ʼn kamer by ʼn luukse boetiekhotel in Kampsbaai. Sy is verwurg en is met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Novella is dieselfde dag in hegtenis geneem, ʼn paar uur ná personeel van die hotel op Alban se liggaam afgekom het. Hy ontken skuld. Die beskuldigde is deel van ʼn bekende en welgestelde familie in Guatemala.

Regter Saldanha het herhaaldelik na die kwessie van toerekeningsvatbaarheid verwys, maar het daarop gewys dat psigiater prof. Sean Kaliski van Valkenberg-hospitaal, waar Novella aanvanklik vir waarneming gestuur is, bevind het dat die aanval “uit woede” plaasgevind het, aangevuur deur dronkenskap.

Staatsaanklaer Mornay Julius voer aan Kaliski en dr. Toviah Zabow, vir die verdediging, is van mening dat die beskuldigde toerekeningsvatbaar was ten tyde van die voorval. “Ons voer aan die hoeveelheid en vlak van dronkenskap word grootliks oordryf deur die beskuldigde, om dit erger te laat klink.”

Hy het gesê Novella en Kabrins se verhouding was nie ʼn gewone verhouding nie, maar was “ingewikkeld as gevolg van die oorledene se mediese toestand”. Kabrins is met Lyme-siekte gediagnoseer en sy het na Suid-Afrika gekom nadat Novella ʼn “geestelike sentrum” opgespoor het wat haar met behandeling kon help.

Die verhouding was onstabiel en Kabrins het ʼn boodskap aan haar ma gestuur dat die verhouding besig is om te verbrokkel. Haar ma het haar egter aangemoedig om na Suid-Afrika te reis om die alternatiewe behandeling te ontvang, omdat sy van mening was dat dit in haar dogter se beste belang was.

Julius het die hof versoek om die WhatsApp-boodskappe tussen ma en dogter as getuienis te aanvaar, omdat dit vroeër slegs voorlopig in die hofsaak aanvaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

‘n Amerikaner en haar “lover” van Guatamale kom SA toe. Hy vermoor haar. Nou is daar ‘n hofsaak, en indien skuldig bevinding heel moontlik lewenslange tronkstraf. Stuur ons dan ‘n rekening vir Amerika en Gautamala? Of word hierdie NOG ‘n las op die skouers van die hardwerkende belastingbetalers wat alreeds 17 miljoen ander mense dra?

christa ·

ek dink nie dwelms moet as versagting dien of vir nie rekenvatbaarheid nie. Dit moet nog ‘n groter staf wees en eerder verswarend wees. Almal wil drink en dwelms gebruik as hulle iemand wil vermoor en dan so hul straf versag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.