Kampsbaai-moord: Toksikoloog kruisondervra

Diego Novella wat van die moord op Gabriela Alban verdink word (Foto: Courtney Africa/ANA)

ʼn Toksikoloog het aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê THC, wat die hoof psigo-aktiewe bestanddeel in dagga is, kan ook in hennepolie gevind word.

Jaco van Zyl, hoof forensiese analis van die departement van gesondheid in Kaapstad, is deur adv. William Booth vir die verdediging kruisondervra tydens die verhoor van Diego Novella, wat teregstaan vir die moord op sy vriendin, Gabriela Kabrins Alban.

Booth het aangevoer Novella kon nie geweet het dat hennepolie THC bevat toe hy dit gekoop het óf dat dit moontlik ʼn “psigotiese effek” kon hê nie. Van Zyl het egter aan die hof gesê dat die olie minder as 0,3% THC bevat. “Die THC-inhoud is so laag, dit sal jou nie kan hoog maak selfs as jy dit as ʼn masseerolie gebruik nie,” het Van Zyl gesê.

Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 in die kamer van ʼn luukse hotel in Kampsbaai gevind waar sy en Novella tydens hul vakansie in Suid-Afrika gebly het. Sy is verwurg en is met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Novella is op dieselfde dag in hegtenis geneem, ʼn paar uur nadat hotelpersoneel op Alban se liggaam afgekom het. Hy het skuld ontken. In sy pleitverduideliking het Novella, wat deel is van ʼn bekende en welgestelde familie in Guatemala, gesê hy het dwelmmiddels gebruik wat hom laat hallusineer het en hy was nie by sy volle positiewe nie. Sy verdediging sal aanvoer dat hy verminderde aanspreeklikheid het, weens dwelmmisbruik.

Van Zyl het verlede week getuig daar is geen tekens van dwelmgebruik in Alban se liggaam gevind nie. Monsters is van haar urine, bloed, inhoud van haar maag en gal geneem. Van Zyl het getuig daar is wel farmaseutiese dwelmmiddels, soos kodeïen, in sommige van die monsters gevind.

Alban het ʼn verskeidenheid pynmedikasie gebruik om Lyme-siekte waaraan sy gely het, te behandel. Sy het in Julie 2015 in Suid-Afrika aangekom om by Novella aan te sluit, wat behandeling vir haar gereël het. Hy het ʼn paar weke voor die moord ʼn sewe dag lange reinigingsprogram by ʼn oord in Magaliesberg bygewoon, waar hy psigo-dwelmmiddels gebruik het.

Hy was van plan om Alban soontoe te neem, omdat hy oortuig was dat dié behandeling haar siekte sou genees. Sy is egter dood kort voordat hulle na die oord sou vertrek.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.