Kampsbaai-moord: Verhoor hervat

Diego Novella wat van die moord op Gabriela Alban verdink word (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die moordverhoor van Diego Dougherty, ook bekend as Diego Novella, van Guatemala wat verdink word van die moord op sy vriendin, Gabriela Alban (39), in Kampsbaai in 2015, sal na verwagting Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad hervat.

Dougherty het in Mei skuld ontken aan die moord op Alban op 29 Julie 2015 in ʼn hotelkamer in Kampsbaai, terwyl die paartjie met vakansie was.

Personeel van die luukse hotel het Alban, ʼn Amerikaanse bemarkingsagent, se liggaam die middag ontdek. Dougherty was nie in die kamer nie, maar is later dieselfde dag in hegtenis geneem. Alban is verwurg en met ʼn stomp voorwerp in haar gesig geslaan. Sy het ook verdedigingswonde aan haar arms gehad. Novella het in sy pleitverduideliking gesê hy was tydens die voorval in ʼn abnormale geestestoestand weens die inname van dwelmmiddels en voer verminderde verantwoordelikheid as verweer aan.

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Die saak is vroeg in November uitgestel nadat Novella ʼn “episode” in die hof gehad het.

Novella het op regter Vincent Saldanha begin skree het en geëis om met die Guatemalaanse konsulaat te praat.

Novella het dit daarna op rekord geplaas dat hy dagga in sy besit het en voor die hofverrigtinge dagga gerook het. Hy het sy regsverteenwoordiger, William Booth, se selfoon afgeneem en dit gebruik om die Guatemalaanse konsulaat en verskeie familielede te bel. Hy het geweier om die foon terug te gee en vier hofbeamptes moes hom onder bedwang bring en terugneem na die hofselle toe.

Novella is van die hof af direk na die Victoria-hospitaal geneem waar hy deur ʼn dokter ondersoek is. Booth het die dag daarna versoek dat Novella vir psigiatriese waarneming gestuur word weens sy “baie verwarde toestand”. Hy het toe gesê Novella kon nie onmiddellik na die psigiatriese eenheid geneem word nie, aangesien die lasbrief aandui dat hy na die Pollsmoor-gevangenis se hospitaal geneem moet word.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Die helhool word n gewilde bestemming vir buitelanders wat konflik vir eens en altyd uit die weg wil ruim.

Denise ·

Ag tog sluit hom toe hy gan nou elke trick probeer en nou kan hy niks onthou nie want hy was vol dwelms cry me a river!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.