Kampsbaai-moord: Verhoor uitgestel ná wending

Diego Novella. Foto: Cindy Waxa/ANA

Die verhoor van Diego Novella, die man wat beskuldig word van die moord op sy Amerikaanse vriendin, Gabriela Kabrins Alban, in Julie 2015, is Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgestel.

Die saak is uitgestel aangesien ʼn private psigiater Novella eers Woensdag sal kan evalueer. Die verdediging sou Maandag sy slotbetoë lewer, maar die saak het egter ʼn wending geneem nadat Novella opgestaan en gesê het hy was oneerlik toe hy getuig het.

William Booth, vir Novella, het Dinsdag aan die hof gesê sy kliënt se geestestoestand het nie sedert Maandag verbeter nie ondanks die feit dat die dosis van sy medikasie verhoog is.

“Ek is nie seker oor wat hy gister bedoel het nie en dit moet uitgesorteer word. Uit ʼn regsaspek sal ek dit moontlik in berekening moet neem. Dit hang alles af van wat ná ʼn volledige en behoorlike bespreking uitkom.”

Novella sal ook Donderdag deur ʼn dokter besoek word by die Pollsmoor-gevangenis. Die hof het Maandag gehoor dat Novella ʼn paniekaanval gehad het en ʼn “selfmoordrisiko” is. Daar is dus besluit om hom te skuif van ʼn enkelsel na ʼn sel saam met 11 ander gevangenes. Regter Vincent Saldanha het die saak tot 18 Junie uitgestel.

Die 39-jarige Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 in ʼn kamer by ʼn luukse boetiekhotel in Kampsbaai aangetref. Sy is verwurg en met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Toe Alban se liggaam gevind is, was haar gesig bedek met aartappelskyfies en menslike ontlasting, en ʼn nota is op haar liggaam gelos met die Spaanse woord “cerote”. Dit beteken glo “stuk gemors”.

Novella is dieselfde dag in hegtenis geneem en het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Hy is lid van ʼn bekende en welgestelde familie in Guatemala en het aangevoer hy het in ʼn abnormale verstandelike toestand verkeer ná hy middels gebruik het wat veroorsaak dat ʼn mens hallusineer, naamlik sceletium (ook bekend as kanna) en dronabinol asook dagga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

eks lid van n plaaslike buurtwag. as ons vir mense wat daardie tipe dwelms gebruik vra om dit te los want dis onwettig, dan word ons uitgeskel omdat ons rassisties is en dat daardie dwelms net gewone “African herbs” is.

Pietie ·

Ja wat help nie om met ‘n dwelmsmous of dwelmverslaafde gesels daaroor nie. Laat hulle hulleself vernietig. Daar is professionele hulp en as hulle dit nie wil he nie, laat hulle maar ondergaan. Soos jy se .. jy word dalk net as ‘n rassis uitgeskel, laat die mense maar voortploeter.

Juffie ·

Ek wil graag uitvind hoe werk hierdie geval rakende die Suid Afrikaanse belasting betaler se oogpunt.
Hier is ‘n ou van Guatamala ( neem aan hy is nie ‘n Suid Afrikaanse burger nie ) met sy meisie van Amerika ( neem weer aar nie ‘n Suid Afrikaanse burger nie).
Die een vermoor die ander een – neem so aan – in SA. Waarom word die saak in SA met SA geld en tyd aangehoor?
Wil maar net weet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.