Kampsbaai-moord: Vonnisverrigtinge begin

Diego Novella in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA/Cindy Waxa

Vonnisverrigtinge sal na verwagting Dinsdag begin in die saak van Diego Novella wat skuldig bevind is aan die moord op sy vriendin, Gabriela Kabrins Alban.

Novella, wat van Guatemala afkomstig is, is in Junie in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op die 39-jarige Alban van Amerika.

Novella is in hegtenis geneem in verband met Alban se moord nadat haar liggaam op 29 Julie 2015 aangetref is in ʼn kamer wat hulle by ʼn luukse hotel in Kampsbaai gedeel het. Sy is verwurg en met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Alban se gesig was met skyfies en ontlasting bedek toe sy gevind is. ʼn Nota is op haar liggaam gelos met die Spaanse woord “cerote” daarop geskribbel – dit beteken “stuk gemors”.

Novella het tydens die verhoor beweer hy was deur demone besete en in ʼn abnormale geestestoestand omdat hy voor die aanval middels geneem het. Hy het ook in die hof beweer sy vriendin het in ʼn demoon verander en hom die oggend van die moord begin aanval.

Novella het vroeër in Junie opgestaan en vir die hof gesê hy het tydens sy getuienis gelieg. Hy moes daarna dringend vir waarneming gestuur word om vas te stel of hy in ʼn toestand is om verhoor te word.

Regter Vincent Saldanha het egter Novella se weergawe van die gebeure verwerp en gesê volgens hom het die staat bo alle redelike twyfel bewys dat Novella vir Alban vermoor het.

Argumente ter strafversagting en ter strafverswaring sal na verwagting Dinsdag aangehoor word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.