Kampsbaai-moordbeskuldigde ‘nie in toestand om verhoor te word’

Diego Novella (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die verhoor van Diego Novella, die man wat beskuldig word van die moord op sy Amerikaanse vriendin, Gabriela Kabrins Alban in Julie 2015, is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof vir ʼn onbepaalde tyd uitgestel.

Dít nadat die hof geskarrel het om sy geestestoestand te bepaal.

William Booth, Novella se regsverteenwoordiger, moes verlede week slotbetoë rig. Novella het egter die hof geskok deur op te staan en te sê hy was oneerlik in sy getuienis.

Novella is onmiddellik na ʼn distriksgeneesheer verwys. Die geneesheer het aangedui dat sy medikasie se dosis verhoog moet word en het die voorval as ʼn paniekaanval bestempel. Novella is ook geklassifiseer as iemand met ʼn hoë risiko vir selfmoord.

Booth het versoek dat Novella deur ʼn privaat psigiater ondersoek word.

Die 39-jarige Alban se liggaam is op 29 Julie 2015 in ʼn kamer by ʼn luukse boetiekhotel in Kampsbaai aangetref. Sy is verwurg en met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Toe Alban se liggaam gevind is, was haar gesig bedek met aartappelskyfies en menslike ontlasting, en ʼn nota is op haar liggaam gelos met die Spaanse woord “cerote”. Dit beteken glo “stuk gemors”.

Novella is dieselfde dag in hegtenis geneem en het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Hy is lid van ʼn bekende en welgestelde familie in Guatemala en het aangevoer hy het in ʼn abnormale verstandelike toestand verkeer ná hy middels gebruik het wat veroorsaak dat ʼn mens hallusineer, naamlik sceletium (ook bekend as kanna) en dronabinol asook dagga.

Booth het Maandag aan die hof gesê hy kon nie duidelike opdragte van sy kliënt kry nie en die privaat psigiater wat Novella twee keer sedert verlede week gesien het, het gesê hy ly aan “depersonalisasie” (ontpersoonliking) en “derealisasie” (ʼn gevoel dat die omringende omgewing nie werklik is nie).

Die psigiater het gesê Novella is nie tans in ʼn toestand om verhoor te word nie.

Regter Vincent Saldanha, opmerklik geïrriteerd, het gesê hy verstaan nie die toestande wat in die verslag gediagnoseer is nie. “Dít is in tale praat,” het hy gesê.

“Hierdie hele ding is ontketen deur jou kliënt wat nie verlede Maandag sy medikasie gedrink het nie. Hy het gekies om dit nie te drink voor hy hof toe gekom het nie,” het Saldanha aan Booth gesê.

Saldanha het die verrigtinge verdaag om Booth kans te gee om met die psigiater kontak te maak en hom opdrag te gee om sy verslag ten volle aan die hof te verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Liberaal ·

Nog n oorwinning vir die liberaal demokratiese menseregtevegters van beskuldigtes, onbepaald uitstel is musiek in die ore van misdadigerregtevegters, en geestestoestand is altyd n wenner om moordadige gedrag te regverdig.

Theresa B ·

Ek stem. Hoe sy vermoor is en wat met haar liggaam gemaak is – daarvoor het hy tyd en verstand (idee) gehad. Dis vieslik en nou kan hy nie verhoor word nie. Skandelik!!

DV ·

Word hy nou vir die res van sy lewe in ‘n sielskleniek aan ggehou???

Elvira ·

Wel hy was nie ‘siek’ toe hy geweet het hoe om haar te vermoor nie. Mos maklik om hierdie uitweg te kies. Slimmer as die geleerdes lyk dit my.

Elvira ·

Man hy makeer NIKS. Hys uitgeslaap en het n uitweg gesien.

alwyn burger ·

Ek sê weer ” Ek dink nie psigiaters/sielkundiges se menings moet bepalend wees nie. Hulle beoefen nie ñ eksakte wetendkap nie

Absoluut ·

Ek stem absoluut met jou saam, hul word beiinvloed met ‘n ou geldjie ook nog. Hierdie is ‘n man wat altyd alles en sy sin gekry het. Hy kom uit ‘n ryk huis en soek nou die maklikste uitweg – as hy in ‘n inrigting is, kan hul later sê, maar hy het so mooi rehabiliteer, gebruik sy medisyntjies mooi en daar gaat hy. Ek is siek en sat vir kriminele van ander lande wat SA gebruik vir hul vieslike dade en dan wegkom daarmee, verder kos hul hierdie land klomp geld aan regskoste / verblyf etc. Doodstraf sou so gepas gewees het, as hy dan so sielsiek is, wat soek hy nog hier. Lewer hom uit aan sy land, dat hul maar met die kostes en gemors sit. Beter nog gee hom ‘n helse boete, sy Pa kan dit betaal om op te maak vir die onnodige koste aan sy seuntjie se speeltyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.