Kampsbaai-moordsaak uitgestel

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Die saak teen ʼn man van Guatemala wat verdink word van die moord op sy meisie by ʼn hotel in Kampsbaai vroeër vanjaar, is tot 10 Desember uitgestel.

Die saak sloer en ʼn Spaanse tolk en die prokureur vir die verdediging raak al hoe meer gefrustreerd.

Diego Novella sou na verwagting in hof 16 in die Kaapstad voor landdros Grant Engel verskyn, maar hy is eers net voor middagete uit die aanhoudingselle gebring.

Hy is in Julie in hegtenis geneem in verband met die seksuele aanranding en moord op Gabriela Kabrins Alban tydens ʼn orgie by hul vyfster boetiekhotel in Kampsbaai waar dwelmmiddels misbruik is.

Novella is glo op Kampsbaai se strand gevind waar hy halfkaal rondgeloop het.

Daar word wyd berig dat ʼn groot hoeveelheid kokaïen en ʼn bebloede krultang op die toneel gevind is, maar hierdie inligting moet nog in die hof bevestig word.

Die verdediging het in Augustus versoek dat Novella vir 30 dae onder psigiatriese waarneming geplaas word, maar Valkenberg- psigiatriese hospitaal se waglys is lank en prokureur William Booth het gesê sy kliënt is nommer 67 of 68 op die lys.

Novella bly intussen in die hospitaalvleuel van Pollsmoor-gevangenis totdat ʼn bed beskikbaar is.

Die Spaanse tolk, Marta Behar, het haar frustrasie uitgespreek oor die vertraging. Sy het twee jaar gelede uitgetree as tolk in die hof, maar is spesifiek versoek om terug te keer, weens die erns van die misdryf.

Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.