Kampsbaairylaan weer oop vir verkeer

Kampsbaairylaan (Maart 2015) Foto: Google Earth

Kampsbaairylaan (Maart 2015) Foto: Google Earth

Inwoners in Kaapstad sal Maandagoggend in Kampsbaai ʼn effense verligting in die verkeer ervaar wanneer Kampsbaairylaan ná sewe maande om 07:00 weer oopgestel word.

Die stad het tydens die wintermaande opknappingswerk ter waarde van ongeveer R30 miljoen aangepak.

“Inwoners en besoekers sal van Maandagoggend die nuwe, verbeterde padoppervlak, breër gedeeltes en verslapping van sommige skerp draaie eerstehands beleef,” het Brett Herron, burgemeesterskomiteelid van die stad Kaapstad, gesê.

Kampsbaairylaan is op 20 April gesluit en die ongeveer 14 000 voertuie wat daagliks op dié pad ry moes deur die woonbuurt hul weg vind.

“Ons het ʼn hele paar onverwagte tegniese uitdagings beleef en ek loof Vervoer vir Kaapstad, die stad se vervoerowerheid, wat alles in hul vermoë gedoen het om die padwerke so gou as moontlik af te handel,” het Herron bygevoeg. “Ek wil ook graag die inwoners en ander padgebruikers bedank vir hul geduld en samewerking tydens die padwerke.”

MyCiTi-pendelaars moet daarop let dat die normale 107-roete in ʼn antikloksgewyse rigting tussen Kampsbaai en die Burgersentrum op 1Desember 2015 ʼn aanvangs neem. “Die busse op die 106-roete sal steeds as ʼn interne pendel in Kampsbaai bedrywig wees en as ʼn voerdiens dien vir die 107-roete, die enigste roete tussen die middestad en Kampsbaai.

Die padwerke in Mainweg in Houtbaai is ook afgehandel. Die pad is op 16 Oktober oopgemaak en die 109 MyCiTi-roete (Houtbaai, Imizamo Yethu, Seepunt en Adderleystraat) het intussen sy normale roete hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.