Kan jy sonder Eskom klaarkom?

Argieffoto: Pixabay

Eskom het verbruikers dié week gemaan om krag spaarsamig te gebruik om sodoende druk op die kragnetwerk te verlig. Beurtkrag is moontlik spoedig weer Suid-Afrikaners se voorland as gevolg van lae steenkoolvoorraadvlakke by tien kragstasies. Boonop hang drastiese verhogings in elektrisiteitspryse ook soos ʼn swaard oor verbruikers se koppe. Moet verbruikers nóú inisiatief neem om hul eie krag op te wek?

Albrecht Holm, afgetrede argitek van Pretoria wat op ʼn plaas in die Hartbeespoort-omgewing woon, leef al 43 jaar lank totaal en al onafhanklik van die nasionale kragnetwerk. “Ons was in 1975 seker die eerste mense wat sonenergiepanele vir huishoudelike gebruik geïnstalleer het. Dit was destyds nog duur en nie so doeltreffend nie. Maar met die jare het die tegnologie verbeter en dit verbeter steeds. As jy dit eers het, is dit ʼn belegging en jy het geen lopende koste nie,” sê Holm.

Hy wek sy eie krag op vir alles in om die huis, selfs wasmasjiene, ketels, ys- en vrieskaste, stryk- en kraggereedskap. Aanvanklik het die gesin eers alle besparingsmetodes ingespan om hul kragverbruik tot die minimum te beperk, soos LED-ligte, songeisers, trombe-vensters, dakoorhange en gordynbestuur, en daarna ʼn stap verder gegaan deur sonenergiepanele, batterye en omsetters aan te skaf.

Kan Jan Alleman onafhanklik van die kragnetwerk wees?

Energiekenner Chris Yelland sê dit is tegnies moontlik om onafhanklik van die nasionale energienetwerk te word deur krag privaat op te wek, maar dit is kapitaalintensief en sal waarskynlik verg dat ʼn mens sy lewenstyl moet aanpas.

“Sonkrag is ʼn uitstekende alternatief, maar dit is eintlik net doeltreffend deur die dag wanneer die son skyn en wanneer die meeste mense nie tuis is nie. Huishoudings gebruik vroegoggend en saans die meeste krag, wanneer die son nie skyn nie. As jy sonkrag opwek en in batterye moet stoor, styg die prys van jou belegging weer aansienlik.”

Argieffoto

Holm stem saam en sê die beste manier om sonenergie te gebruik, is met so min as moontlik omskakeling, want batterye is die swak skakel in die ketting. “Dit is duur en hou nie lank nie,” verduidelik Holm. “Jy verloor ongeveer 20% van die energie terwyl jy dit in die battery stoor en weer ongeveer 20% as jy dit daaruit haal. Dus kry jy net sowat 64% van die energie wat die sonsel jou gegee het nadat jy dit deur die battery laat gaan het.

“Die sonpaneel moet ook die sonlig na warmte en die warmte na elektrisiteit omskakel. In die huishouding skakel jy die elektrisiteit weer om na lig, warmte of beweging. By alle omskakelings is daar verliese.”

Yelland glo egter dat son- of windkragopwekking baie sinvol vir besighede is wat daardie krag deur die dag, wanneer dit opgewek word, kan benut.

Volgens Brett Cohen, eienaar van The Gas Company, is gas ʼn goeie alternatief omdat dit maklik bekombaar is en aan die meeste basiese energiebehoeftes voldoen, soos ʼn warm maaltyd, ʼn warm stort en genoeg lig om jou weg deur die huis te vind. “Gasverhitting is meer doeltreffend as elektriese geisers. Om kos op ʼn gasstoof gaar te maak is ook baie goedkoop – ʼn 9 kg-bottel kan ʼn gesin van vier tot ses mense vir ses maande hou,” sê Cohen.

Brett Cohen, eienaar van The Gas Company. Foto: Verskaf

Hy sê dat ʼn gesin van vier wat gas gebruik om water te verhit en kos te maak slegs sowat R1 000 tot R1 250 per maand vir gas betaal, wat aansienlik minder as die gemiddelde huishouding se Eskom-rekening is. “Jou elektrisiteitsuitgawe per maand sal beslis laer wees as jy gas gebruik, maar die grootste voordeel wat gas inhou, is om onafhanklik van die staat se wisselvallige kragvoorsiening te wees.”

Cohen sê tegnologie het nou ook tot so mate verbeter dat gas ʼn geriefliker opsie geword het. “By The Gas Company is daar sensors van voortdurend gasverbruik monitor en dié data draadloos aan The Gas Company se bedieners stuur. Wanneer ʼn huis se gasvoorraad min raak, sal die huiseienaar deur die verskaffer in kennis gestel word. Die eienaar kan direk by die verskaffer bestel wat vol gasbottels sal aflewer voor die huidige gasbottels leeg is.”

Hoe gaan ʼn mens te werk?

Yelland moedig mense aan om wel hul Eskom-krag met alternatiewe kragbronne aan te vul. “ʼn Mens kan maklik parallel met die nasionale kragnetwerk funksioneer deur minder Eskom-krag te koop terwyl ook van alternatiewe kragbronne gebruik te maak. Gebruik die alternatiewe krag dan as jou primêre bron en vir jou primêre behoeftes, maar bly op die nasionale kragnetwerk, sou jou eie opwekkingsmetodes jou in die steek laat.”

Holm meen dat kennis van jou omgewing die verbruiker wat sy of haar eie krag wil opwek, baie kan help. “In Suid-Afrika is daar besonder groot klimaatsverskille van plek tot plek. Die energiebehoeftes en beskikbare natuurlike hulpbronne is dus baie verskillend van plek na plek. Op plekke sal daar meer wind- of waterenergie beskikbaar wees as sonenergie. Op ander plekke sal daar volgens seisoene verskillende energiebronne wees. Vermy dus modes wat klakkeloos van Amerika of ander plekke oorgedra word en doen eerder navorsing oor jou eie area.”

Die kapitaalopbrengs op lang termyn is die bepalende faktor wanneer mense moet besluit of hulle in alternatiewe kragbronne wil belê, meen Yelland. “Die harde werklikheid is egter dat die meeste mense in die huidige ekonomie nie die kapitaal het om so ʼn belegging te maak nie. Dán moet daar erns gemaak word met besparingsmetodes om kragverbruik te verminder sodat Eskom se onvoorspelbare kragvoorsiening en stygende pryse jou nie lamlê nie. As jy spaarsamig met krag werk, kan jy jou energieverbruik maklik halveer.”

Holm beklemtoon ook dat Jan Alleman besparingsmetodes moet inspan en ekologies begin dink en leef. “Dis die belangrikste. Moenie stadiger leef nie – leef voluit, maar vermy vermorsing en streef na maksimum uitset/produksie met minimum verbruik. Oes reënwater. Gebruik gryswater van storte en wasmasjiene om die tuin te besproei en toilette te spoel. Daar is ʼn ontwikkeling van droë toilette wat water bespaar en kompos maak. Vervang swembadfilters met rietbed-watersuiwering. Maak jou eie kompos en groentetuin. Vermy plastiek en ander materiale wat ʼn besoedelingsprobleem is. Maak die kopskuif en gaan voluit daarvoor!”

Argieffoto: Pixabay

Moontlike oplossings op nasionale vlak

ʼn Wêreldwye tendens wat ook ʼn verskil aan Suid-Afrika se nasionale kragvoorsiening en -prys kan maak, is om elektrisiteit nader aan die verbruiker op te wek, meen Yelland. “Dit sou veel doeltreffender en meer ekonomies wees om honderde of duisende kleiner kragstasies te bou, sodat kragverspreiding nie so duur is nie en ʼn probleem by ʼn enkele stasie nie so ʼn groot impak hoef te hê nie. Op dié manier kan ook meer alternatiewe kragstasies gebou word, sodat ons nie so afhanklik van steenkool hoef te wees nie.”

Holm is van mening die regerings van onderontwikkelde lande se perspektief oor energie-opwekking en ‑verbruik het ʼn negatiewe uitwerking op die land se ekonomiese groei. “Dié regerings meet hul bevolking se ontwikkelingspeil aan die energieverbruik, in plaas van produksie gedeel deur energieverbruik. Solank hulle dít doen, sal hulle onderontwikkeld bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Maljan ·

As mens dan elke kragiowekker, solarpaneel, sonkrag geyser of lig moet registreer? Wat si dir doel van die registrasie? Netnom ons te belas om die meerderheidswoonbuurte se gebruik te subsideer.

Essie ·

Ek stem mt maljan saam dis seker die staat se manier om mense wat n plan maak om volhoubare elektrisiteit vir eie gebruik op te wek ook te belas,dis daai persoon wat onkostes aan gegaan ht om hom en sy gesin te beskerm teen onsekere krag te korte.

Vraagteken ·

As jy onafhanklik is, dan is dit nie nodig nie. Jy moet net registreer as jy op die netwerk koppel.

Realis ·

@Maljan – Jy moet slegs registreer as jou stelsel opgewekte krag terugpomp in die netwerk in. Baie van die nuutste omskakelaars het daardie vermoë. As daar meer sonkrag is as wat jy gebruik, stuur die stelsel dit in die netwerk terug vir krediet; jou meter loop agteruit. Jy moet daarvoor registreer sodat hulle weet van verassings indien hulle die krag afskakel om aan die lyne te werk. Niemand gaan daarvan hou as ‘n “dooie” draad jou skielik byt nie.

Essie ·

Ek stem mt maljan saam dis seker die staat se manier om mense wat n plan maak om volhoubare elektrisiteit vir eie gebruik op te wek ook te belas,dis daai persoon wat onkostes aan gegaan ht om hom en sy gesin te beskerm teen onsekere krag te korte.

Johan H. ·

Die staat is daar om geld te maak. Kyk hoe word jy belas as jou eie veiligheid opskerp.. wat eintlik die regering se werk is…

Dries du Toit ·

Hierdie bevestig net weer die wat saam hoort moet bymekaar kom en ons eie grondgebied en regering kry waar ons ongehinderd hierdie innoverende gesprekke en doelwitte onverpoosd tot uiting kan bring

Karolis ·

Die gesin van 4 tot 6 moet spaarsaam werk om 6 maande met 9kg gas uit te kom.

Mosbolletjie ·

Nee wat, ek stem nie saam nie. Ons gesin van 4-6 mense kom baie maklik uit met 9kg se gas vir 6 maande. As jy die gas spaarsamig gebruik, bring gas jou ver, en dit is baie goedkoper as krag oonde en mikrogolf oonde.

Adri ·

Nee, glad nie. Ons is net twee en ons 9 kg. gas hou hoogstens 6 weke (nie maande nie!). Dan gebruik ons nog soms elektriese kooktoerusting ook.

Realis ·

@Karolis – Ons doen al ons kookwerk met gas. Koffie tee ens. ook. Ons haal 5 maande op 19kg beswaarlik. Miskien as jy ligter etes maak gaan dit dalk beter gaan. Ons het net ons gewone leefstyl voortgesit met gas, maar 6 maande met 9kg by ons? Nie in ‘n 100 jaar nie.

John ·

Dis mos nou juis wat die regering wou doen met die korrelbedatoomktagstasies byna soos die kafee op die hoek-tipe-ding en dan rol hulle die bolle elke 3 maande uit en ry dit weg na ‘n bergplekkie iewers naby… net die goed is dodelik gevaarlik. Hierdie idee het so paar jaar gelede sterk geloop by Eskom… Miskien was cannabis toe verpligtend daar… Gas se prys styg saam met die’ van petrol en elektrisiteit… mr Cohen weet dit ook. Min mense kan soveel vir gas betaal. Wat van water? En ons moet so nou en dan eet ook.

Siekensat ·

Ja dit is moontlik. Ek kyk hoe min ek eskom kan gee. Begin by hul sekuriteit wat sit en slaap en tot in hul karre sit en slaap eerder as om te werk en dank hulle eerder af as om astronomiese salarisse aan hulle te betaal. Waar het jy gehoor ‘n wag verdien R20k per maand? Net by eskom ja.

Jacques ·

Dit is baie maklik vir die slim mense om te se kry alternatiewe krag stelsels , ek het twee vra .
1- Baie mense kan dit nie bekostig of het nie die kapitaal om so stesel te installeer nie , wat stel hulle voor moet jy nou maak ?
2 – Daar is baie mense veral jong mense wat huise huur bloot omdat hulle nie kan bekostig om n huis te koop nie . As n huurder so stelsel sal insit in n huurhuis is dit beslis nie n item wat weer uitgehaal kan word wanneer die huurders trek nie en vandag is baie verhuurders nie gepla oor huurders se welstand nie solank die verhuurder net sy geld kry aan die einde van die maand .

Wat nou gemaak ?????

Jannie ·

Ek kan sonder die hele nuttelose , Kommunistiese ANC -bestel se instellings klaarkom, dankie!!!

Andre ·

Een van die dae gaan die regering die sonkrag ook begin belas.

Hendrik ·

Ons het geen Eskom kragkonneksie naby nie en is totaal onafhanklik. My stelsel saam ‘n kragopwekker het sowat R60 000 gekos. Met 2x gas, solar geyser vir warm water, gas vir stoof en solar na 230V vir elektrise toebehore soos syskaste, vrieskaste, mikrogolf ens. As jy dit nie selfdoen nie kos solar stelsels jou baie. Bestuur van battery ook nodig en batterye is duur. My voorstel is om goeie bekende stelsels te gebruik wat batterye goed bestuur. Soos Victron.

Staak saam ·

Dit betaal nie n dorpenaar om van die grit af te klim nie, bloot omdat julle belastings en heffings betaal moet word.
Ek is n boer en het reeds af geklim en dit is hoe ek dit gedoen het op n baie goedkoop manier.
1) son geyser gekoop vir R2500 met n kraan wat ek vroeg oggend oop maak om hom vol te tap en in die aan toe te maak sodat die koue water nie met die warm water meng nie, ek het elke aan 100L warm water van 70 grade.
2) gas stoof, gebruik net vir kook en nie bak nie en verkieslik met stoompot.
3) huis se ligte is 12volt led down lights dierek op battery met 1 son paneel.
4) 4x120a/h batterye vir was masjies en yskas, 4x120Watt panele en 3 kw invertor.
5) gas vrieskas waarvan die 24v input dierek op die 2 120watt panele gekoppel is, as die son skyn dan gaan die vrieskas tot -28 grade.
6) pompe loop op 18x150watt panele met n 3fase 5kw invertor, geen btterye benodig nie.
Vir krag gereedskap gebruik ek n silent 6kva gen.
Die grootste konstante uitgawe is batterye, ek gebruik net 5.
My goue reel is, hoe meer apperaat op 12werk hoe meer energie bespaar jy soos TV, radio hifi, battery laaier ens.
Dis n aanpassing maar n welkome een.

Nouja ·

Goeie inset. Dankie vir jou kennis en ondervinding wat jy met ons deel. Waardeer.

Kobus ·

Met alternatiewe energie kan veel gedoen word om afhanklikheid van Eskom te verlaag.
As mens egter verder wil kyk na koolstof emisie verlaging ens, moet nie glo dat elektriese motors, sonpanele, windlaaiers ens nie koolstof vrystel nie. Die Koolstof vrystelling word net verskuif na die vervaardiger van die masjiene die krag of die besigheid wat dit weer moet aftakel om te herwin. Plant bome om te begin om jou eie koolstof spoor vas te vang!
Daardie hout kan dat die koolstof vashou vir ‘n hele paar jare in meubels, beelde en ‘n kis waarin jy begrawe kan word.

Walter ·

Die swak skakel is batterye,
Als eskom saam sou werk so als de krag maatskappy in Holland sal sonkrag baie meer bekostigbaar raak.
In Holland werk hulle nie met batterye nie maar die krag wat jy nie gebruik word terug gelewer na die krag voorsiener.
So jy gebruik jou sonkrag en wat te veel is stuur jy in die net, als jy self nie krag het nie gebruik jy eskom krag.
Aan die einde van die jaar word bereken wat jy ingestuur en afgeneem het.
Het jy meer gege als geneem betaal hulle jou en andersom betaal jy hulle.
Die ervaaring is dat met 8 tot 10 panele op jaar basis de rekening rond 0 is.
N mens moet dan wel in ag neem dat die son ure in Holland baie minder is dan in Sa so dan sal dit beteken dat dit in Sa seker sy geld waard moet wees.
En eskom het n probleem minder, op die dag als die krag vra die hoogste is gebruik huishoudings die minste so hulle lewer die meeste,
In die nag als die krag verbruik minder is maar jou stelsel wek nie op nie ontrek jy van eskom.
Dis n win win situasie maar dink eskom wil nie monipolie verloor nie.

Stripes ·

As jy van die netwerk afklim in die dorp help dit jou nie veel nie want jy betaal vir die aansluiting wat beskikbaar is, of jy dit gebruik of nie.

Faan ·

Ek gebruik ‘n laespoed dieselenjin met ‘n 3kW of 4.2kW kragopwekker wat 14 ure per dag lank loop en direk 230V in my stelsel lewer. Gebruik is 7liter diesel per dag en kan net nie al die elektriese toebehore gelyktydig gebruik nie. Na ure word LED ligte gebruik wat gedurende die dag gelaai is. Stelsel werk uitstekend maar seker nie geskik vir n stad nie. Wil nou uitbrei met sonpanele want die basis van my stelsel is gevestig.

Jan van Eeden ·

Ons stelsel bestaan uit 8 sonpanele en 8 batterye, ‘n omsetter na 240v en battery laaier aan Eskom gekoppel vir sonskaarsdae. Hiervanaf gebruik al die ligte, broodrooster, haardroeërs, yskaste (2), TV (2), rekenaars (2) drukkers en ander rekenaartoerusting, radios ens. Ons het ook ‘n gasstoof en gasgeiser, sowel as sonwaterverwarmer gekoppel aan Eskom vir bewolkte dae. Oond, skottelgoedwasser, ketel en strykyster (toerusting wat swaar op krag is en lang tye gebruik word) is aan Eskom gekoppel sowel as elekriese gereedskap. Vergelykende syfers R1000 teenoor gemiddelde van ander huishoudings R3000. Watergebruik ingesluit. Ons werk baie spaarsamig. Is daar dalk al ‘n forum hiervoor? Sal graag wil deelneem. JAVE

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.