Kan klaasneuse, klipmuise hidrobreking in Karoo keer?

Daar is nou presies vasgestel waar die habitat van die Kaapse klipklaasneus is. (Foto: Sanbi)

ʼn Onlangse studie oor klipklaasneuse en klipmuise, twee klein soogdiergroepe in die Karoo, kan help met die bewaring van kwesbare gebiede in die Karoo wat steeds vir die hidrobreking van skaliegas geteiken word.

Craig Allenby van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitinstituut (Sanbi) het vroeër die week in ʼn verklaring gesê die navorsing bied nuwe insig oor spesies wat heeltemal eie aan die Karoo is.

Die navorsing is juis nou belangrik omdat Suid-Afrika op die kruispad staan in die soeke na alternatiewe energiebronne. Tans is daar reeds drie ondernemings wat permitte het om die Karoo se sowat 368 miljard kubieke meter skaliegas te ondersoek vir moontlike ontginning.

Terwyl die regering en ondernemings met honger oë na die potensiaal van ekonomiese en energie-ontwikkeling van aardgas in die Karookom staar, is daar nog eintlik betreklik min navorsing oor dié halfdroë uitgestrekte gebied se biodiversiteit in die binneland van Suid-Afrika gedoen.

“Daar is ook groot gapings in die kennis oor watter spesies in watter dele van die Karoo voorkom. Dit belemmer enige pogings om habitatte te identifiseer wat sensitief is en as ʼn prioriteit beskou moet word indien die grondgebruik in die omgewing moet verander,” het Allenby gesê.

ʼn Groep navorsers van die Universiteite van Johannesburg (UJ) en Kaapstad (UK) het hul navorsing oor die Grant se klipmuis (Micaelamys granti) en die Kaapse klipklaasneus (Elephantulus pilicaudus) in die wetenskaptydskrif African Zoology gepubliseer.

Volgens die studie kom van die knaagdiertjies slegs in die Karoo voor. Hul verspreiding is ook anders as wat aanvanklik gedink is. Die navorsing bevestig verder dat dié klein soogdiertjies ʼn belangrike rol in die ekostelsels van die Karoo speel. Hulle is die prooi van baie ander spesies, help met die verspreiding van sade en is ook ʼn reservoir vir siektes, wat verhoed dat dit verder versprei.

Die navorsing het vir die eerste keer genetiese data oor die Grant-klipmuis verskaf. (Foto: Sanbi.)

Devon Main, ʼn PhD-student aan die UJ en hoofskrywer van die gepubliseerde navorsing, het gesê hul studie het vir die eerste keer genetiese data oor die Grant-klipmuis verskaf. Daar is ook vasgestel waar presies die habitat van die Kaapse klipklaasneus is.

Main het egter ook sy kommer uitgespreek dat daar nog baie min data vir nuwe endemiese spesies is wat net in die Karoo gevind word. Hy meen die navorsing moet gebruik word vir toekomstige strategiese omgewingsimpakstudies wat in die Karoo onderneem word.

Die UJ se Sentrum vir Ekologiese Genomika en Wildbewaring het onder die leiding van prof. Bettine van Vuuren DNS-identifikasie gebruik om vas te stel watter spesies in die 119 monsters verteenwoordig is. Die monsters het bestaan uit 63 rotagtiges en 56 klaasneuse. Die UK se eenheid vir klein soogdiere onder die leiding van dr. Gary Bronner het die monsters versamel.

Groot genetiese diversiteit is onder die klaasneuse gevind, terwyl die navorsing gewys het die klipmuis is endemies aan die Karoo en kom nêrens anders voor nie. Die skrywers van die navorsingsartikel het ʼn beroep op die internasionale bewaringsunie (IUCN) gedoen om dié klipmuis se status op die rooidatalys van bedreigde spesies indringend te hersien.

Aan die ander kant word die klaasneuse ook in die Roggeveld gevind, nadat daar aanvanklik gedink is dié knaagdiertjies kom net in die Nama-Karoo voor. Dit lyk dus of hul habitat 28% groter is as wat aanvanklik geglo is.

Main het gesê die nuwe bevindings moet ingesluit word in alle toekomstige planne vir hidrobreking en uraanmynbou in die Karoo.

“Dit is veral belangrik, aangesien die spesies se voortbestaan in die Karoo afhang van die tempo en omvang van hidrobreking in dié gebied wat die ekologiese prosesse en landskap kan ontwrig,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Die ANC sal hidrobreek, maak nie saak wat in die pad staan nie. Ons kan dit nie he dat ‘n paar kaders, vriende en familie nie skat ryk word nie. Die selfde sal gebeur met kernkragstasies. Daar is ‘n paar kaders, vriende en familie wat skatryk gaan word…… en daar sal die wit ANC olifante staan!

Linda ·

Wit Olifant is dalk bietjie te rassisties vir die ANC… Dalk ‘n geel, groen of swart olifant! NET NIE WIT NIE!!!!

Elmarie ·

Dis verskriklik hoe geld die dryfveer van alles is. Wonder hoeveel elk van die drie ondernemings wat hier wil opneuk nou weer moes “skenk” om in aanmerking te kom. Hierdie ou diertjies is maar die sg oortjies van die ssekoei – die Karoo is SO uniek met sulke unieke diere en plantegroei en daar is soveel meer potensiaal om geld in te bring met veral eko-toerisme – toeriste wat omgee en nie kom vertrap en verbreek nie maar nou wil die regering net liefs na hul eie sakke omsien. Wat ‘n absolute skande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.