Kan sonplase daglig-beurtkrag voorkom? – VS Landbou

Foto ter illustrasie (Foto: TheOtherKev, Pixabay)

Beurtkrag is besig om die landbou ook lam te lê, maar dit is veronderstel om maklik voorkombaar te wees, veral bedags. Dit is die mening van Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

“Beurtkrag gedurende daglig-ure kan voorkom word. Vir ’n land met ʼn oorvloed sonlig en onafhanklike kragprodusente (IPP’s) wat toustaan om son- en windenergie aan die netwerk te verskaf, is dit net onverstaanbaar dat hierdie latente krag nie in die netwerk benut kan word nie.”

Die werklikheid is dat daar reeds ʼn noemenswaardige, potensiële elektrisiteitsopwekkingsvermoë in Suid-Afrika bestaan. Die verhandeling en verspreiding daarvan word egter aan bande gelê deur katastrofiese beleide van staatsbeheer, SEB-vereistes, tenderpreneurskap en die monopolie van plaaslike owerhede in Eskom.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die regering se verkrygingsprogram vir onafhanklike produsente van hernubare energie (REIPPP) was uiters suksesvol. Hy sê dié projekte het reeds die kapasiteit om 6 400 MW se hernubare energie op te wek. Dit word deur 67 nuwe elektrisiteitsopwekkingsondernemings gedoen, wat 52 000 werksgeleenthede geskep het.

Suid-Afrika se totale elektrisiteitsopwekkingskapasiteit is 58 095 MW. Dit is nou sonder brekasies, beurtkrag, of herstelwerk wat gedoen word. Tydens fase twee‑beurtkrag word byvoorbeeld 2 000 MW daarvan uit die stelsel gehaal en 3 000 MW gedurende fase drie.

VL redeneer dat dit dus vir Eskom moontlik is om beurtkrag bedags te voorkom. Armour het aan Maroela Media gesê die aktiwiteite op ʼn plaas vind uitsluitlik deur die dag plaas en boere kan dan ook hulle pompe en spilpunte ongehinderd laat loop.

“Sonder betroubare elektrisiteit word die totale voedselwaardeketting gedwing om gedeeltelik selfvoorsienend te word, teen ʼn enorme kapitaaluitleg. Terselfdertyd moet boere steeds ’n minimum van R2 500 per transformatorpunt per maand betaal vir toegang tot ’n kragnetwerk wat faal,” sê Armour.

“Dit is veral opkomende en kleiner boere wat nie die alternatiewe kragopwekkingsopsies kan bekostig nie en aan die genade van Eskom oorgelaat word, wat hierdie boere se produksievermoë beperk. Hierdie omstandighede lei weer tot hoër koste wat druk op die ekonomie plaas en dra ook tot verhoogde voedselpryse by.”

VL sê die staat se elektrisiteitsmonopolie is onvolhoubaar en dié organisasie steun beroepe dat ’n onafhanklike bedryfskundige taakspan dringend aangestel moet word om die herstel van bekostigbare en volhoubare energieopwekking, berging en kragvoorsiening te lei ten einde weg te breek van politieke beheer en die manipulasie van Suid-Afrika se energiesektor.

“Vir die behoud van voedselsekerheid raak dit egter kritiek om die staatsbeheerde monopolie op elektrisiteitsvoorsiening en ‑verspreiding te beëindig,” sê Wilken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

My ondervinding is dat dit die beste is vir boere, individue en gemeenskappe om hulle sonkrag – stelsels onafhanklik van eskom te beplan en te bedryf. Daar is te veel beperkings om son- en windkrag op kort kennisgewing by die basis-lading te voeg.

Dus: doen jou eie ding, en gebruik slegs Eskom wanneer jy nie anders kan nie. Jou eie stelsel kan dan eskom-onderbrekings systap. Ek doen dit al vir baie jare lank en dit werk soos ‘n bom. Dis dan eskom se probleem as die vraag na sy produk al meer wisselvallig word.

Papsak ·

Hulle lieg vir ons oor eskom en beurtkrag kry de blom laat ons waarheid hoor moeg vir leuns oor eskom eskom gaan vou sorrie maar so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.