Kan Suid-Afrika se kragnetwerk ineenstort?

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Kan Suid-Afrika se elektrisiteitsnetwerk ineenstort en die land gevolglik vir weke in duisternis gehul word? Kenners meen dit is moontlik, maar onwaarskynlik.

Suid-Afrika staar sy ergste energiekrisis sedert 2008 in die gesig. Terwyl die land se kragvoorsiener, Eskom, spook om te voldoen aan die vraag na elektrisiteit, is beurtkrag vir die volgende paar jaar in die vooruitsig.

Tshediso Matona, Eskom se uitvoerende hoof, het gesê beurtkrag is hier om te bly. Hy het aan verslaggewers gesê instandhouding is afgeskeep, aangesien Eskom ten alle koste die ligte wou aanhou.

Intussen word ʼn gerug op sosiale media versprei dat die kragnetwerk ineen gaan stort en dat die land vir twee weke in donkerte gedompel sal wees. In dié scenario is daar geen skedule nie, maar is dit slegs ʼn geval van wag en sien wanneer die krag weer aankom.

Sal Suid-Afrika vir weke in donkerte gehul wees indien die kragnetwerk ineenstort? Is dit iets waaroor Suid-Afrikaners bekommerd moet wees?

Wat is ʼn ineenstorting van die kragnetwerk?

Thava Govender, Eskom se hoof van kragopwekking, het tydens ʼn onlangse mediakonferensie die moontlikheid bespreek van ʼn algehele verdonkering. “’n Totale verdonkering is wanneer jy al die elektrisiteit in een provinsie verloor en die hele netwerk ineenstort. So basies word Gauteng of Mpumalanga [provinsies] verduister. ʼn Nasionale verdonkering is wanneer jy niks voorsien nie. Daar is geen krag nie,” het hy gesê.

Terry Mackenzie-Hoy, ʼn raadgewende elektriese ingenieur, het aan Africa Check gesê “beurtkrag kom voor weens ʼn tekort aan elektrisiteit maar dat dit ʼn beplande gebeurtenis is. Die ineenstorting van die netwerk sal onbepland wees”.

Wat veroorsaak dat ʼn kragnetwerk ineenstort?

Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, het aan Africa Check gesê indien die kragnetwerk sou ineenstort, dit deur ʼn aantal faktore veroorsaak sou word.

“Soos u weet, het ons al probleme gehad rakende steenkool en diesel… vir die kragnetwerk om ineen te stort sal daar ʼn kombinasie van ʼn klomp dinge moet gebeur insluitend ons stelsels wat ingee,” het Phasiwe gesê.

Mike Rycroft, ʼn energie-ontleder en artikelredakteur van die tydskrif Energize, verduidelik dat ʼn “ineenstorting van die netwerk sal plaasvind wanneer die hele netwerk of ʼn gedeelte daarvan oorlaai word. Met ander woorde, die vraag na elektrisiteit oorskry die vermoë van opwekkingsbronne om elektrisiteit te voorsien”.

Kan SA nie net weer die krag aansit nie?

Ongelukkig is dit nie so maklik nie. Phasiwe het die situasie vergelyk met ʼn selfoon wat se battery pap is. Indien jy dit weer wil aanskakel, moet jy eers ʼn ander kragbron kry om dit te herlaai. “Om ’n kragnetwerk, veral ʼn beperkte stelsel soos ons s’n, weer op die been te bring het jy elektrisiteit nodig om jou kragstasies te bedryf voor jy krag kan beskikbaar stel.”

Volgens Rycroft word ʼn beduidende hoeveelheid energie benodig om ʼn kragstasie weer aan te skakel. Dit staan bekend as ʼn “black start”.

Andre Kenny, ʼn ingenieurswese konsultant wat voorheen by Eskom gewerk het, sê om elektrisiteit te vind om die kragstasies weer aan te skakel, is net die eerste stap. “Wanneer die kragstasies uiteindelik weer aangeskakel word, moet hulle versigtig met mekaar gesinchroniseer word teen die regte stroomspanning, frekwensie en fase. Dit is ʼn moeilike, noukeurige en tydrowende proses.”

Hoe lank sal die land in donkerte gehul wees?

Daar is verskeie bewerings oor hoe lank Suid-Afrika in die donker kan wees indien die kragnetwerk ineenstort. Eskom se ramings is tussen sewe dae en ʼn paar weke. Ander meen Suid-Afrika sal voortslepende verdonkerings kan ervaar.

Volgens Phasiwe is Eskom se ramings gegrond op verdonkerings wat al in ander lande voorgekom het.

“Dit [ʼn verdonkering] het gelukkig nog nie by ons gebeur nie. In ander plekke wat dit gebeur het, was drie weke die maksimum tyd wat dit geneem het,” het hy gesê. “Indien die kragnetwerk ooit heeltemal ineenstort, sal dit dae, indien nie langer nie, vat om die netwerk te herstel,” volgens Kenny.

Rycoft meen ramings van “meer as ʼn week” is realisties maar dink nie voorbeelde van verduisterings in ander lande kan as ʼn maatstaf gebruik word nie.

Kan SA op sy bure staatmaak vir hulp?

Verskeie lande het al hul bure vir tydelike bystand gevra wanneer hulle kragnetwerke ineengestort het. Suid-Afrika is egter ʼn “krag-eiland” en voer amper geen elektrisiteit in nie, volgens Rycroft. Suid-Afrika sal dus nie op sy buurlande kan staatmaak om hom by te staan nie.

ʼn Eskom-verslag van 2014 wys dat die kragvoorsiener elektrisiteit invoer van Namibië, Lesotho en Mosambiek. Eskom verkoop elektrisiteit aan Lesotho, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Swaziland en Zambië.

Volgens Phasiwe sal dié lande nie Suid-Afrika kan bystaan indien die kragnetwerk ineenstort nie. “Indien ons netwerk ineenstort sal ons nie 40 000 MW van enigiemand op die kontinent kan kry nie. Ons is die enigste land op die kontinent wat hierdie hoeveelheid elektrisiteit produseer.”

Hoe om ʼn ineenstorting van die kragnetwerk te voorkom

Vir Suid-Afrikaners wat reeds onder beurtkrag gebuk gaan, is die moontlikheid van ʼn weke lange verdonkering skrikwekkend. Maar dit blyk dat ‘n totale ineenstorting van die kragnetwerk in hierdie stadium onwaarskynlik is.

“’n Ineenstorting van Suid-Afrika se kragnetwerk is vir nou hoogs onwaarskynlik,” volgens Kenny.
“Beurtkrag verhoed dit… ongelukkig gaan ons minstens vir drie jaar beurtkrag hê.”

Rycroft het gesê Eskom bedryf ʼn gevorderde netwerkbestuursentrum wat hom in staat stel om ʼn ineenstorting van die kragnetwerk te vermy deur beheerde beurtkrag uit te oefen, mits daar nie enige katastrofiese onderbreking is weens die netwerk wat oorlaai word nie.

Slotsom: ʼn Ineenstorting van die kragnetwerk is onwaarskynlik in dié stadium

Indien Suid-Afrika se kragnetwerk ineenstort, is dit moontlik dat die land vir ʼn paar dae of selfs weke in donkerte gehul kan wees. Dit sal aansienlike tyd en moeite verg om die kragstasies weer aan te skakel. Die moontlikheid hiervan blyk egter in die stadium onwaarskynlik te wees.

Die artikel is saamgestel deur Africa Check, ‘n nie-winsgewende webwerf wat feite nagaan, en word met hul vergunning gepubliseer. Besoek hul webtuiste by www.africacheck.org of volg hulle op Twitter by @africacheck.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tammy ·

Kan een van ons baie slim lesers my dalk reghelp? Is dit moontlik om Eskom te dagvaar vir jou skades weens geen krag voorsien nie. n Voorbeeld, al die vleis in jou vrieskaste vrot of elektriese toerusting wat onklaar raak. Sal graag wil hoor wat se julle.

gogga ·

Ek hoop nie dit gaan gebeur in die winter ni. Mense sal dood gaan van die koue.

gogga ·

Daai is n baie goeie vraag. Ek sal ok daarvan hou om daai antwoorde te kan hoor. En die onsekerheid van wanneer gaan ons beurt krag kry en vi hoelank maak my gedaan. Ekt kinders en hoe moet n ouer maak om vi hul kinders kos te maak as die krag af gaan en daar is nie tyd om voorsiening te maak nie.

Anton Smit ·

Jy het geen kans nie want die meeste van ons word deur mislikke paliteite gevoer en alhoewel hulle toevoer van af Evkom kom is jy steeds n munisipale verbruker en die voorsienings ooreenkoms wat jy met die raad aangaan maak voorsiening vir sulke gevalle behalwe as jy kan bebewys dat dit growwe nalatigheid was wat nie maklik is nie

Willem ·

Dit moet net nie Donderdag-aand gebeur nie, hehehe, dan kan ons nie sien wat Julius gaan maak nie.

Jig, nog iets, Dit is nou Dinsdag en die Rand/Dollar bewe al klaar. Wat gaan die JSE maak?

Isabella ·

Wat my bang maak is dat Eskom ‘n kernkragsentrale bedryf, ek sit nie my voet naby Koeberg nie!

boer ·

Waar gaan ons die energie vandaan kry om die netwerk weer aan die gang te kry as dit omval,
as ons buurlande dit nie kan verskaf nie????

Gaan lees gerus die berig http://www.amren.com/ar/2005/10/index.html, wat in New Orleans gebeur het toe hulle infrastruktuur omgeval het. Hierdie is ons voorland mense,begin voorsorg tref

Swanna ·

Onmoontlik, maar waarskynlik gaan dit gebeur. Hoekom begin hulle oor so iets praat? Sodat hulle kan sê ons het dit genoem maar julle het nie aandag daaraan gegee nie. SO wees gewaarsku dit is oppad en wees voorbereid en nie met jou broek onder jou knië gevang nie. Boer dit is soos jy sê. Ek het daardie berig gelees en dit is beslis ons voorland.

Knersus D ·

Dis net ‘n kwessie van tyd. “Glipsies” by Koeberg en vervalle infrastruktuur…. volgende om te faal is watervoorsiening. Ons landjie is in sy mur…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.