Kan Taylor Swift SA ekonomie red?

Taylor Swift tydens ‘n konsert in Melbourne, Australië, in Februarie vanjaar. (Foto: Taylor Swift/X)

Sy is ʼn internasionale, kulturele fenomeen. Waar sy ook al gaan, rol die geld in en duisende mense staan tou om haar konserte by te woon. Boonop lyk dit nie of die supersensasie Taylor Swift se ster enigsins gou gaan verdof nie.

Swift se Eras-toer is reeds die winsgewendste in die geskiedenis en het tot dusver meer as $1 miljard in kaartjieverkope ingevorder – byna R19 miljard.

Net in die VSA het Swift se Eras-konserte, waar sy 53 vertonings in 20 verskillende stede aangebied het, meer as $4,5 miljard in verbruikersbesteding tot gevolg gehad.

“Suid-Afrika, luister jy?” sê prof. Waldo Krugell, ʼn ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Krugell sê dit is hoog tyd dat Suid-Afrika buite die boks begin dink om weer lewe in sy sukkelende ekonomie te blaas.

“Groeivooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is gedemp en ʼn mens wonder of Taylor Swift nie dalk die oplossing vir ons probleem is nie,” sê Krugell (met sy tong net halfpad in die kies).

“Haar Eras-toer gaan binnekort in Singapoer wees en dit het die ekonomiese vooruitsig daar van 2,5% tot 2,9% vir die eerste drie maande van die jaar laat toeneem. Die ekonomie van die Eras-toer is enorm. Besteding aan kaartjies is net die begin; baie mense reis na die konserte, slaap oor en gaan eet uit. Hulle bestee ook geld op aandenkings en uitrustings.”

Laasgenoemde is veral belangrik, sê Krugell. Daar is gewoonlik ʼn koers van 1-tot-3 wat betref geld wat bestee word aan ʼn konsertkaartjie en bykomende besteding aan items soos aandenkings, hotelle, kos, vervoer en ander items. Met Swifties, soos haar aanhangers bekend is, styg dié koers tot 1-tot-10 – en plaaslike ekonomieë in die VSA het oor ʼn enkele naweek ʼn hupstoot van miljoene dollar gekry.

“Die makro-ekonomiese uitwerking hang uiteraard van verskillende faktore af. As besteding van ander konserte, vakansie of feesvieringe verskuif word, is die uitwerking kleiner. As dit mense se spaargeld is, is die uitwerking op die ekonomie groter.

“As meer van die besteding in die land bly, is die uitwerking groter. En dan speel die vermenigvuldiger-uitwerking ʼn rol. Elke hotel- en AirBnB-kamer wat volbespreek is weens ʼn konsert in ʼn stad, is ʼn bietjie ekstra inkomste vir iemand wat hulle weer kan bestee. As daardie ekstra besteding verskeie kere vermenigvuldig kan word, is die uitwerking soveel groter,” verduidelik Krugell.

Maar daar is ander faktore om in ag te neem.

“Die negatiewe kant is natuurlik dat daar waar kapasiteit beperk is, vertonings soos dié deur ʼn topkunstenaar inflasie tot gevolg kan hê. Verlede jaar het soveel internasionale aanhangers van Beyoncé op Stockholm neergedaal dat die vraag na hotelverblyf pryse skerp laat styg het.”

ʼn Noue samewerkingsverhouding tussen plaaslike organiseerders en ʼn plaaslike regering kan beteken dat internasionale trekpleisters, soos Swift en ander, Suid-Afrika meer gereeld besoek. Maar hiervoor is ʼn gedeelde visie nodig. Daar is by Krugell egter geen twyfel dat dit ʼn gemeenskaplik voordelig en aanloklike voorstel is nie.

“Ek dink konserte op die skaal soos dié van Taylor Swift kan beslis ʼn hupstoot vir plaaslike ekonomieë wees. Neem Kaapstad as ʼn voorbeeld. As die grondslag gelê word vir die private sektor om sulke byeenkomste aan te bied, kan almal voordeel trek. Daar kan reëlings getref word om veiligheid te verseker, daar is ʼn internasionale lughawe en ʼn reeds gevestigde toerismesektor.

“As ʼn konsert van dié omvang tydens die stiller toerisme-seisoen aangebied word, kan dit restaurante en verblyfplekke vul. Daar is ook ʼn rimpeluitwerking op ander sektore van die ekonomie.

“ʼn Konsert in Kaapstad gaan dalk nie die land se BBP-naald laat lig nie, maar dit gaan gewis ʼn groot inspuiting vir die plaaslike ekonomie wees,” sê Krugell.

“En indien niks anders nie, gaan Taylor Swift-aanhangers oorstelp van vreugde wees.”

En dít, sê Krugell, is musiek vir almal se ore en ʼn geleentheid wat nie vermors mag word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vonnie ·

asseblief nie, ons het soveel talent om van te kies, hou haar hier weg. moenie ons mense se hard verdiende geld vir haar gee nie!

Josua ·

Die duiwel en sy volgelinge het reeds Suid Afrika reeds oor die afgrond laat tuimel, ons het nie sy liewe Heksie kleindogter nodig om dit verder in die verderf in te laat verkrummel nie, alles draai nie net oor geld nie want as dit die geval was sou Jesus nie die tafels in die tempel omgegooi het nie. Sy dra n vals boodskap uit een wat SA nie tans nodig het nie ongelukkig teiken sy die jeug wat dink sy is n engeltjie en iemand om na op te kyk maar min weet hulle wie haar rolmodel werklik is!!

Bolandse Nooi ·

Waaroor gaan die mense so tekere oor die vroumens. OK, OK, OK, ek weet (ek dink) sy het skoonskip gemaak by die Grammy’s of watse-ookal-toekenningsaand maar ek moet maar my (half dowe) ore behoorlik spits om (te probeer) uitmaak wat sy …eh… sing. Sy IS mos ‘n sangeres, nè? Of is sy nou ‘n aktrise … nee, nou weet ek ook nie!

Dienie ·

Nog iemand wat glo dat Suid Afrikaanse kunstenaars nie ondersteun moet word nie. Sangers en ondersteuners word elke dag aangepor om in te teken op internasionale platvorms waar almal se geld die land verlaat en ‘n bietjie terugkeer na die plaaslike musiekmaatskappye en sangers. Nou wil julle vir Taylor Swift kry om ook so bietjie terug te hou nadat sy die oorgrote meerderheid kan wegneem uit ons land?
En dan moet sommige Suid Afrikaanse “ondersteuners”, die wat nie wil betaal vir plaaslike musiek nie maar dit wel iewers aftrek, ook weer geleer word om soos vroeër jare te betaal vir SA kunstenaars se musiek, soos hulle gedoen het met plate. Dalk sal ons plaaslike kuntenaars ook dan baie groter konserte kan aanbied en die geld binnelands hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.