Kan ysberge help met Kaapse waterkrisis?

Nick Sloane. Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die oes van ysberge kan help om in minstens 20% van Kaapstad se waterbehoeftes te voldoen, meen ’n maritieme bergingskenner.

Nick Sloane, die Suid-Afrikaner wat ’n paar jaar gelede bekendheid verwerf het toe hy die Costa Concordia weer vlot gemaak het, het aan afgevaardigdes by die African Utility Week in Kaapstad gesê die oplossing tot Kaapstad se waterbehoeftes kan dalk net opgesluit lê in “moedernatuur se ysberge”.

Tydens die sessie oor oplossings vir toenemende energie- en waterbeperkinge is daar gekyk na wat die natuur kan bied en het Sloane gesê daar is ’n totaal van 140 000 ysberge wat in die suidelike oseane ronddryf en smelt.

Grafika van Kaapstad se waterverbruik in ‘n jaar (blou) teenoor die grootte van ‘n gemiddelde ysberg.

“Dit klink dalk na ’n mal idee, maar as mens dit verduidelik, klink dit nie meer so mal nie.” Volgens Sloane bevat die ysberge wat van Antarktika afbreek van die suiwerste kwaliteit water wat tussen 15 000 en 20 000 jaar oud is. “Sowat 2 000 miljoen ton ys breek elke jaar af.”

Volgens Sloane is die idee om die ysberge na Kaapstad te sleep. Hy het gesê die ysberge kan in die omgewing van Gough-eiland gehaak word en dan sowat 40 km van die kus van St Helena geanker en “gemyn” word.

Sloane wil van die wêreld se kragtigste sleepbote gebruik om die ysberge te trek.

Volgens Sloane sal daar dan ’n “piering geskep moet word om die smeltende water op te vang en kan dit tot 60 miljoen liter per dag lewer”. Van hier kan dit in tenkskepe ingepomp word voor dit behandel word en in die stelsel ingepomp word.

“Met tussen vier en ses van dié tenkskepe kan daar ʼn jaar lank tot 150 miljoen liter water per dag gemyn word.” Volgens Sloane is dit ’n moontlikheid wat lewensvatbaar kan wees. “Kan dit gedoen word? Wel, ons stel ondersoek in.”

Claire Janisch, direkteur van BiomimicrySA, het ook na gevallestudies verwys oor hoe die natuur se “wysheid nagedoen kan word” om te help met die toenemende druk op en uitdagings rakende natuurlike hulpbronne.

“Die oplossings tot ons probleme bestaan klaar in die natuur. Ons kan ons fisiese wêreld verbeter deur die natuur se voorbeeld te volg. Een so ’n voorbeeld is om die bultrugwalvis se aanvalsbeweging na te maak in windturbines om doeltreffendheid te verbeter, en om van ontsouting te leer deur die voorbeeld van die mangrove (wortelbome) wat seewater gebruik om te oorleef.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

dit gaan baie geld kos en eimand gaan lekker geld maak onsout net die see water en kry klaar vergeet van ys berg

Stokkies ·

Dalk kom dit daarop neer dat dit goedkoper is om dit hiernatoe te sleep as om te ontsout

honourable member ·

Wil nou nie dom klink nie maar hoeveel van hierdie ysberg gaan die Kaap bereik want dit gaan begin smelt of hoe? Vra maar net..

Kaufman ·

Dis waarom daar gepraat word van n piering meganisme om die smeltende water te hou, soos n groot sak.

Hendrik ·

Ek dink ‘n meer praktiese oplossing is om water via ‘n watertonnel vanaf die Gariep- of PK le Rouxdam te kry. Daar is geen ombekendes nie. Miskien is dit tyd tad die platteland ontwikkel word sodat werker nie na die Wes Kaap moet stroom vir werk nie. Wat is die probleem met alles ? Politieke wil?

Vra maar net ·

Het hy gedink aan die klimaat wat verskil van waar hy die ys wil gaan haal en waar hy dit wil anker. Die ys gaan mos baie vinniger smelt en oorstromings veroorsaak. Dink ek

Jacobus ·

Die kern of binnekant van die ys sal verhoed dat dit vinnig smelt omdat dit so koud is.

Die ys kan ook bedek word met ‘n termiese kombers om dit koud te hou en die ontginning sal in elk geval so gou wees omdat hulle reeds as hulle die ys sleep sal begin ontgin.

Die ys sal in die see bly en daarom sal daar geen oorstromings wees nie.

Die oseane is daarvoor te groot en al styg die water met 5cm sal dit geen verskil maak nie.

bollie se wollie ·

Ek het iewers gelees dat twee-derdes van die ys sal smelt tydens die reis. Blykbaar is die oorblywende gedeelte steeds die moeite werd.

AAP ·

As die stelsel “reg” BESTUUR word sal dit reg wees en kan ons baie voordeel trrk daaruit.
Dit moet net nie soos die SAL bestuur word nie en belastingbetaler gemelk, gemelk en gemelk word nie.
Want as bestuur elke jaar groot bonusse kry is dit ‘n verlore stryd!!!.

Marius ·

Waarom vervoer tenkskepe nie eerder varswater van die kongorivier se mond na Kaapstad nie?

Jacobus ·

Te duur op die lang termyn en daar is ook nie die nodige infrastruktuur nie en die water sal so 20km vanaf die kus binneland in eers gepomp kan word omdat daar dan minder sout in die water sal wees.

Beter om ‘n pyplyn of kanaal te bou.

Daar was planne om ‘n pyplyn/kanaal te bou vanaf die Zambezi maar polities en finansieël is dit moeilik omdat dit oor ander lande se grondgebied sal loop wat weer sy eie probleme het omdat die water dan afgesny kan word deur die lande.

Dit sal dan weer beteken dat SA die weermag moet stuur om dit op te pas en te verdedig en SA is nou nie juis die VSA nie.

jaco ·

Dis net nog ‘n werkbare plan wat Kaapstad se DA stadsraad ook sal afskiet soos hulle ‘n groot nogal goedkoop ontsoutingsplan afgeskiet het NET omdat die besigheid wat die plan voorstel glo nie regstellende aksie en BEE reg toepas nie.

Helene ·

En daar moet ysbere weer die spit afbyt weens menslike selfsug. Soek ‘n ander oplossing! Ontsouting!!

Kobus ·

Ysbere bly nie in Antarktika nie Helene, hulle is slegs in die Noord Pool

Jacobus ·

Ysbere kom net voor in die Noordpool, bv. Noordelike – Kanada, Alaska, Finland, Rusland ens. wat grens aan die pool en op die ys selfs.

Onthou die Noordpool is deel van die Arktiese Oseaan en bestaan grotendeels net uit ys wat dryf op die water anders as Antartika waar daar wel land is.

Antartika is in die Suidpool en dit is vanwaar hulle die ysberge wil bring.

bollie se wollie ·

Hierdie is ysberge wat reeds afgebreek het en reeds helfte van die afstand nader aan Kaapstad beweeg het.

AWVDM ·

….en wat van die ysbeer wat by Antarktika met Vakansie is…..

Marinda ·

En wanneer daar nie meer ysberge is nie? Wat dan? Teen die tempo wat global warming plaas vind, hoeveel van die ysberge gaan oor bly? Vra ook net

Jacobus ·

Dit sal nog meer as 200 jaar vat vir al die ys om te smelt, so ontspan.

As al die ys smelt sal die weer patrone in elkgeval ook verander en SA kan miskien tropies raak, niemand weet wat die toekoms inhou nie.

Mich ·

Sloane moet nou nie maak asof dit sy eie uitvindsel of idee is nie.
UAE werk al lankal aan ‘n plan om ys van Antartika na hul land te laat beweeg.

Chelle ·

Los die expertise liewer vir UAE,hul werk al lankal daaraan om ysberge van Antartika na Dubai te “vervoer” via sleep-aksie.
SA kannie eens suksesvol waterwaens effektief vervoer na plekke met leë krane nie.
Hoe Dan nou?

Hein Malherbe ·

Dit is ‘n idee wat ek die eerste keer in ‘n boek deur Wilbur Smith – Hungry as the Sea, (1978) teegekom het.

John ·

Ons is naby die Suidpool en kan die idee vervolkmaak en water uitvoer… saam met goeie brandewyn. As ons dit nie doen nie gaan iemand anders dit doen. Arabie is reeds besig om ysberge te ontgin… en hulle het olie. Gaan die Midde-Ooste uiteindelik die wereld beheer? … En dink net ons skiet nou die idee af. Kyk net hoe het mense selfone gewantrou en deesdae…

Capexit ·

SA sal hom met die slim plan alle skeepsbou verkeer om Suidelike Afrika in gevaar stel. Die internasionale olie en houer vrag skeepsindustrie gaan nie hiervan hou nie. Gariep water hou minder risiko’s in.

Alida ·

Gebruik eerder die geld en bou huise vir die mense dan sal hulle ophou betoog. Die natuur sorg vir homself. Ons as mense kan nie die natuur se werk vir hom doen nie. Dit sal reën wanneer dit moet.

Iché ·

Alida,die mense sal nooit ophou betoog nie. Bou vir hul huise,ja.
Môre nadat hul daai huise in ontvangs geneem het,”verkoop” hul dit of brand hul dit af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.