Kanadese paar skenk vleis vir SA kinderhuise

Anneke en Ben Lovegrove van Bradford het op 26 Junie vanjaar getrou (Foto: Verskaf)

ʼn Egpaar van Ontario, Kanada, het geld wat hulle as trougeskenk ontvang het aan twee kinderhuise in Suid-Afrika by wyse van ʼn voorraad vleisverpakkings geskenk. Op dié manier wou die paar ook sommer kleinsakeondernemings in Suid-Afrika ondersteun.

Anneke en Ben Lovegrove van Bradford het op 26 Junie vanjaar aan mekaar trou beloof. Hulle het hul trougaste gevra om geldelike bydraes te maak in plaas van om geskenke te gee. Hulle het dié geld aangewend om vleis aan te koop vir die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise in Pretoria.

Marlene Emhke, ʼn familievriend van die egpaar wat die projek vanuit Suid-Afrika fasiliteer, vertel Anneke het as tienermeisie saam met haar gesin na Kanada geëmigreer. Sy het Marlene genader oor die projek om kinderhuise en kleinsakeondernemings in Suid-Afrika te help.

“Anneke weet hoe ondernemings asook kinderhuise gedurende die pandemie swaartrek. Sy is self ʼn kleinsake-eienaar en besit Bokkies Biltong in Barrie, Ontario. Sy en Ben besef ook kinderhuise in Suid-Afrika word soms aan hul eie genade oorgelaat omdat hulle nie altyd voldoende staatsubsidies ontvang nie,” vertel Emhke.

“Boonop het Anneke en Ben ʼn sagte plek in hul harte vir kinders. Hulle het self vier kinders. Die paar was vasbeslote om op ʼn manier weeskinders te help en het toe aan dié projek gedink. Suid-Afrika lê Anneke ook na aan die hart omdat dit haar tuisland is.”

Emhke sê sy het namens die egpaar vier slaghuise in Pretoria genader om deel te word van die projek. Eindelik het die eienaars van Jandre’s Vleismark in Valhalla en die Waverley Slagtery in Villieria ingestem om deel te raak van die projek.

Hulle het 300 kg vleis in 2 kg-verpakkings verpak en dít gaan Donderdag amptelik aan die kinderhuise oorhandig word. Die vleis sluit in maalvleis, wors en kookvleis.

“Op hierdie manier kan die slaghuise ook uit die projek ʼn klein wins maak wat hulle ongelooflik baie in hierdie moeilike tyd sal help.”

Die Jakaranda-kinderhuis het 20 huise met ongeveer 15 mense (onder wie huisouers) per huis en die Louis Botha-kinderhuis het nege huise, ook met ongeveer 15 mense per huis.

Charlene Grobler, hoof- uitvoerende beampte van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise, sê die vleisskenking is vir hulle waardevol en dat hulle groot waardering het vir die Kanadese se groothartigheid.

“Dit is werklik ʼn groot seën dat twee wildvreemdelinge hul harte só vir ons oopgemaak het,” vertel Grobler aan Maroela Media.

Die kinderhuise kry finansieel swaar tydens die pandemie en kos – verál vleis – is van hul grootste behoeftes.

“Die vleisskenking maak ʼn reuseverskil en rek ons beursie vir die maand. Ons het genoeg vleisvoorraad gekry om al die huise se kinders te voed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

Baie goeie mense hulle sal geseën word.

Mariana

Baie onbaatsugtig van hierdie twee mense. Baie dankie.

Leonard

AMEN, GOD WERK op ‘snaakse’ maniere.
Laat Sý Wíl geskied

JohanR

Net versugtig dat die ANC kaders nie die sendings onderskep nie! Maar dankie julle twee. Lekker dat die vleis by die kinderhuise uitkom, en die kinders kan lekker smul. Mislien is dit beter om GOEDERE te gee instede van geld?

AmY

Baie dankie julle. Julle is aardse engele. xxx