Kanker eis geliefde oudskoolhoof van Bloem

Mariehetta Matthee se oudkollegas by die Hoër Meisieskool Oranje sê haar hart en siel was “oranje” (Foto: Verskaf)

Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein treur oor die dood van hul geliefde oudskoolhoof, Mariehetta Matthee (68). Matthee is Maandagaand kort voor middernag aan lewerkanker oorlede.

Matthee was vir ’n kwarteeu die hoof van dié gesogte meisieskool in die Rosestad, die langste in die skool se geskiedenis.

Volgens Ruan Bruwer, bemarker van die skool, was Matthee ’n jaar gelede met lewerkanker gediagnoseer. Hy sê haar gesondheid het veral die laaste maand erg agteruitgegaan.

Matthee het 32 jaar van haar loopbaan aan die Hoër Meisieskool Oranje gewy. Sy het in 1986 as onderwyser by die skool begin en was van 1989 tot 1992 die adjunkhoof. Sy is ’n jaar later as skoolhoof aangestel.

“Met haar aanstelling as hoof het sy haar toekomsvisie as volg verwoord: ‘Die belangrikste is, wanneer leerders hier uitstap, moet hulle weet wie hulle is en waarheen hulle op pad is… met Oranje se immergewilde leuse: Vooruit!’” vertel Bruwer.

Volgens Bruwer het Matthee, wat in Marquard in die Vrystaat skoolgegaan het, haar onderwysloopbaan aan die Hoërskool Witteberg (1975-1980) begin en was daarna vir vyf jaar by die Hoërskool Jim Fouché (1981-1985) werksaam. Sy het Afrikaans onderrig.

“In die onderwys kon Matthee drie van haar groot liefdes kombineer – Afrikaans, kinders en drama. Sy het drama gestudeer en het ná haar aftrede gereeld toneelopvoering bygewoon. Sy sou veral moeite doen om stukke te gaan kyk waarin gewese Oranjeniete gespeel het.

“’n Ideaal is in 2017 verwesenlik met die inwyding van Oranje se dramalokaal. Die brug na die lokaal heet die M2-brug (die eerste letter van haar naam en van). Die Mattiebeker (’n hokkietoernooi) asook die Mariehetta Matthee-wisseltrofee vir die gr. 11-duxleerder, dra ook die gewese hoof se naam.”

Bruwer sê Matthee het ook ’n reuse-skat aan die skool nagelaat in die vorm van die eeufeesboek in 2007. Sy was van plan om ’n opvolgboek uit te bring oor inligting ná 2007.

Volgens Matthee se opvolger, Anne-Marie Klink, was Matthee se hart en siel Oranje.

“Sy het ’n ongelooflike impak op die leerders, ouers en personeel gehad. Sy was ’n voorbeeld van dienende vroue-leierskap. Daar was nog baie wat ek by haar moes leer. Sy laat ’n diep leemte, maar haar nalatenskap sal bly voortleef by Oranje,” het Klink gesê.

Rozaan Müller, 2017 se hoofmeisie, sê Matthee was ’n ystervrou met ’n sagte hart wat honderde Oranjeniete leer droom het.

Matthee is in 1993 as skoolhoof van Hoër Meisieskool Oranje aangestel (Foto: Verskaf)

“Nie net droom nie, maar daad by die woord voeg. Sy het ons geïnspireer om vir niemand terug te staan bloot omdat ons meisies is nie. Haar wese sal vir altyd voortleef in elke matrikulant van 2017 en Oranjeniet wat oor haar pad gekom het,” het Müller gesê.

Reniël Lodewyk, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat, sê hulle salueer ’n groot vrou wat verbygegaan het en haar merk in almal se lewens gelaat het.

“’n Groot akkerboom het in die woud geval. Haar hart was Oranje en haar siel was kinders. Ek sal haar mooi glimlag en kostelike sêgoed nooit vergeet nie. Sy was ’n voorbeeld vir alle dogters in die Suid-Afrikaanse onderwys,” het Lodewyk gesê.

Huldeblyke vir Matthee het ook op sosiale media ingestroom. Oudleerders, ouers en kollegas beskryf haar as ’n formidabele vrou, ’n toonbeeld van ’n leier en ’n steunpilaar vir almal by die skool.

“Vandag waai daar ’n yskoue wind deur Oranje se gange. Ons Alma Mater voel saam met ons alreeds die eindelose verlange. Van ’n Vriendin. Van ’n Heldin. Van ’n formidabele vrou. Wat nou sandkastele in die hemel bou,” skryf Natalie Verkes op Facebook.

“Jesus het haar vir ons as geskenk gegee met soveel gawes en dit was die mooiste gedeelte van haar. Sy het liefde uitgestraal in alles wat sy doen! Sy is die rede hoekom baie vroue en meisies die mense is wat hul vandag is,” skryf Lurissa Roos Hitchcock.

Volgens Ina Conradie Botha het Matthee jong vroue geïnspireer en gemotiveer. “Elke leerling was vir jou belangrik. Geanker in geloof kon elkeen die wêreld vierkantig in die oë kyk. Ek kan nie genoeg dankie se nie,” skryf sy

Blomme en ruikers is Dinsdag by die skool afgelewer en die Oranje-vlag hang halfstok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.