Kanker eis voormalige NVG-adjunkhoof

Adv. Jan Henning. Foto: NWU.ac.za

Adv. Jan Henning. Foto: NWU.ac.za

Jan Henning SC, voormalige adjunkhoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), is Saterdag in die ouderdom van 63 oorlede, het Beeld Maandag berig.

Henning se gesin was om sy bed toe hy oorlede is in die Flora-kliniek in Roodepoort. Long- en breinkanker is ’n jaar gelede by hom gediagnoseer.

Sy seun Jan Henning jr. het gesê sy pa was ’n fenomenale man in alle aspekte van die lewe.

Bulelani Ngcuka, voormalige hoof van die NVG, het gesê sy dood is ’n ontsaglike verlies, veral vir Suid-Afrika. “Ek is baie hartseer. Jan was een van ons bestes. Hy was ’n briljante aanklaer wat altyd baklei het om geregtigheid vir gewone mense te laat seëvier,” het Ngcuka gesê.

Glynnis Breytenbach, voormalige aanklaer, het gesê hy was ’n besondere aanklaer wat gereeld vertel het hoe teleurgesteld sy ma was omdat hy nooit as landdros aangestel is nie.

“Hy het eindelose werk gedoen om die werkomstandighede van alle aanklaers te verbeter,” het Breytenbach gesê.

Henning het in 2007 weens gesondheidsredes afgetree.

Sy begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.