Kankerbehandeling lyk al meer belowend

Inleidende opmerkings

Dié artikel is nie deur ’n kankerspesiallis saamgestel nie, maar ’n kankerlyer. Verskeie artikels oor verskillende aspekte van kanker het al uit sy pen verskyn, en sommiges word ook hier, saam met ander artikels oor kanker, met skakels aangedui. Om vollediger inligting oor ’n besondere aspek te kry, volg gerus die skakels. Die doel is nié om oormatige verwagtinge te skep nie, maar om te toon dat mismoedigheid dikwels baie voortydig kan wees.

kanker-pdpics-pixabay

Foto: PDPics/Pixabay.com

Moontlike nuwe kure vir sommige soorte kanker word nou gereeld geplaas, en trek baie aandag.

Dit trek met rede aandag, want volgens ’n onlangse artikel in The Lancet gaan kankergevalle teen 2030 wêreldwyd met 75% toeneem, en in sommige ontwikkelde lande met tot 90%. In drie Brics-lande, Suid-Afrika, Indië en China, sal die toename na verwagting 78% wees.

In die jongste verlede het berigte oor moontlike kure vir spesifieke soorte kankers verskyn wat die wenkbroue kan laat lig, soos om ʼn gemodifiseerde Zika-virus vir die behandeling van kwaadaardige breingewasse aan te wend, om etanol vir die bekamping van kwaadaardige gewasse te gebruik, om volop bruinuie te eet teen borskanker en kolonkanker en vele meer. Voorts is by geleentheid berig dat vasgestel is die drink van Coke help dat die middel teen maagkanker makliker en doeltreffender opgeneem kan word.

Nog in interessantheid is dat ’n “pen” pas ontwikkel is waarmee weefsel tydens chirurgie van weefsel met kankerselle in, onderskei kan word. Onlangs is ook berig dat ’n doeltreffender manier ontwikkel is om prostaatkanker op te spoor, en ’n bloedtoets is ontwikkel wat die plek kan inneem van die pynlike biopsie om longweefsel te bekom. Nog kankers, soos prostaatkanker en kolonkanker kan met dié eenvoudige bloedtoets vasgestel word.

Vir sommige soorte kanker, soos sekere soorte leukemie, is reeds geneesmiddels gevind. Daar is pas berig dat ʼn moontlike geneesmiddel vir ’n baie skaars soort kinderleukemie ontwikkel is. Vir ander is daar belowende vordering soos met melanoom, maar die middels is oor die algemeen besonder duur.

Grafika: Andreus/Depositphotos

Weens die uiteenlopende aard van die soorte kanker is navorsing gewoonlik baie spesifiek gerig. Tog is daar ’n belangrike raakvlak tussen die navorsing van vele vorme van kanker – om die liggaam se eie T-selle (wat as “soldate” in die bloedstroom beweeg) in staat te stel om kwaadaardige selle te herken en aan te val. Daar word ook gereeld van nano-tegnologie gebruik gemaak om hierdie “intelligensie” by die T-selle te kry. Onlangs is berig dat goue nanoselle gebruik word om neutrofiele so ver te kry om gewasse aan te val.

Onkoloë is oor die algemeen nie so opgewonde oor opspraakwekkende artikels wat gereeld in populêre tydskrifte verskyn nie. Hulle volg self die werklike vordering in vaktydskrifte en besef hoe lank so ’n proses kan neem om suksesvol te wees en om dan nog vir gebruik op mense goedgekeur te word. Hulle meen daar word oormatige verwagtinge geskep deur die sensasionele stories. Vaktydskrifte oor kanker is besonder ingewikkeld om te volg.

Tog is, sonder spesifieke geneesmiddels, vele middels reeds op die mark wat in baie gevalle help, en selfs help dat ’n groot verskeidenheid soorte kanker genees word of in remissie gaan. Chemoterapie is seker die bekendste middel, in werklikheid ’n groot verskeidenheid van chemo’s waarvan sommige doeltreffender as ander vir spesifieke kankers werk en dan ’n byna onuitputlike bron van mengsels bied.

Veral sommige soorte chemo het uiters onaangename newe-effekte en dit word gereeld as ’n gif beskryf wat naas die goeie werk, ook die liggaam aftakel. Naarheid, sere in die mond, voete en hande wat vreemde sensasies beleef en selfs pyn is algemene newe-effekte.

Foto: Velkankervereniging SA

Vir sommige skaars soorte kanker is daar nie ’n “eie” chemo nie en is dit onseker of daar aan so iets gewerk word. Dit geld byvoorbeeld die uiters skaars en ongeneeslike Waldenstrom, hoewel die kanse goed is om dit periodiek onder beheer te bring. Die meer volop en dodelike soorte kanker kry meer aandag.

’n Aantal biologiese middels is ook ontwikkel wat net soos chemo met ’n binne-aarse oorgieting toegedien kan word. Dit help die liggaam om self weerstand teen die kanker te ontwikkel, en is gewoonlik baie duur. Dit is dikwels nodig om bykomend tot ’n mediese fonds ook mediese versekering uit te neem wat spesifiek hiervoor voorsiening maak. Bestraling word ook dikwels aangewend waar dit prakties sin maak.

Op die keper beskou is voorkoming van kanker ’n beter opsie as om dit te behandel. Velkanker is een van die soorte kanker wat taamlik goed voorkom kan word deur beperkte blootstelling aan sonlig, en dan verkieslik met goeie velrome teen sonbrand. Gereelde inspeksies kan ook voorkom dat dit kwaadaardig word.

Rook blyk ’n groot oorsaak van kanker te wees. Weens die doeltreffendheid van anti-rookveldtogte in die VSA het sterftes weens kanker in die VSA in 2016 met 25% afgeneem teenoor dié in 1991.

Foto: Pixabay.com

Die vordering wat reeds gemaak is, beteken dat kanker nie meer ’n outomatiese doodvonnis is nie. Tog sterf meer as agt miljoen mense jaarliks wêreldwyd aan kanker, en word daar groot werk van gemaak. (In ongeveer 33% van alle gevalle kan dit met rook in verband gebring word).

Maar nie alle soorte kanker kan voorkom word nie. Prostaat- en borskanker is tipiese kanker wat dikwels deur oorerflike gene geaktiveer word, en vereis gereelde ondersoeke om dit so vroeg moontlik op te spoor en die kanse op suksesvolle behandeling te verhoog. In sekere gevalle word selfs aanbeveel dat gesonde vroue met ’n oorerflike geen ʼn mastektomie ondergaan.

In 2016 het die destydse pres. Barack Obama $1 miljard vir kankernavorsing oor twee jaar begroot. Die fokus sou hoofsaaklik op kinders wees. Hy het die ambisie gehad om kanker te genees en onder die doelwitte sou wees om die uitruil van inligting tussen navorsers op te skerp. As deel hiervan is ’n taakspan in die lewe geroep wat as Operation Moonshot bekend sou staan, en ten doel het om kanker soos ons dit ken uit te roei.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

dries ·

Dis welkome nuus! N sterk immuunstelsel bly beste voorkoming, saam met voldoende vit b17. Volgens prof serfontein (cancer diagnosed – what now? Het kankerselle 15x meer insulien reseptore. DUS, as jy kanker wil laat Groei, eet massas suiker… OF vermy dit in totaliteit, indien jy wil gesond word.

Genieve ·

Dis goeie nuus.Nou wonder ek my as die kanker al ver gevorder het of daar steets n geneesmiddel kan wees,bv as die pasient 4de graad kanker het.

NS ·

Ek erken ek is ‘n “suiker verslaafde” -met ander woorde ek verhoog my risiko veelvuldig… ek is reeds ‘n risiko met familie geskiedenis… as ek dus nou alle suiker uit my dieet sny en slegs groente, vrugte en vleise eet kan ek dalk my risko verminder met tot 50% volgens navorsing…. dit is blykbaar bewys dat kanker selle nie in ‘n alkaliese liggaam / bloed kan oorleef … dit sal ‘n groot leefstyl aanpassing wees maar as ek kanker so kan voorkom is ek “in”. Ek het al soveel van ons familie stadig sien sterf aan kanker en as Die Heer se Wil daarby is sal ek als in my vermoë doen om nie daardie pad te stap!

dries ·

Prof skryf ook dat kankerselle by n ph van 7.8 – 8, ” natuurlik sterf”. alkaliese dieet is dus n moet. onthou ook dat groot hoeveelde suiker, in suur omgesit word. dit verg groot leefstyl aanpassing. sterkte!

madels ·

Dis wonderlike nuus hierdie. As enigiemand meer wil weet van kanker natuurlik genees moet julle asb Ty Bollinger se videos kyk. Ek het al TALLE getuienisse gehoor van mense wat kanker (4de graad) natuurlik genees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.