Kankermedisynetekort by Charlotte Maxeke-hospitaal

hospitaalbedSommige pasiënte se kankerbehandeling by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg is tydelik gestaak weens ʼn tekort aan noodsaaklike chemoterapie medisyne.

“Die maatskappy wat die medisyne verskaf het ʼn voorraadtekort beleef,” het Simon Zwane, ʼn Gautengse woordvoerder van gesondheid, Woensdag gesê. “Die maatskappy het egter reeds aangedui dat hy weer voorraad ontvang het, maar dat dit nog gehaltetoetse ondergaan voordat dit aan die hospitaal verskaf kan word. Die hospitaal behoort dit nog deur die loop van hierdie week te ontvang.”

Zwane het gesê die tekort word nie toegeskryf aan wanbetaling aan die verskaffer nie, maar ʼn voorraadtekort aan die verskaffer se kant. Hy het gesê die departement werk hard om die verskaffing van noodsaaklike medisyne te verbeter, en dat verskeie planne ingestel is om die verskaffing van voorraad by mediese depots doeltreffend te verbeter.

Die DA het vroeër in ʼn verklaring gesê dat pasiënte wat Gemzar-medisyne benodig, deur die hospitaal weggewys is. “Gemzar word gebruik in die behandeling van long-, pankreas-, bors- en eierstokkanker. Die tekort aan dié noodsaaklike medisyne is onaanvaarbaar en bedreig die lewens van weerlose pasiënte,” het Jack Bloom, die party se woordvoerder van gesondheid, gesê. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.