‘Kannaland sal met Valke saamwerk oor bedrog’

Morne Hoogbaard (Foto: Kannaland.gov.za)

Morné Hoogbaard, waarnemende munisipale bestuurder van die Kannaland-munisipaliteit, het Saterdag gesê hy en sy ondergeskiktes by die munisipaliteit sal hul volle ondersteuning gee aan die Valke in ʼn ondersoek van bedrog na R338 miljoen.

Drie munisipale beamptes van Kannaland, asook Hoogbaard, is Donderdag deur die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in hegtenis geneem op aanklag van bedrog.

Die voormalige bestuurder van menslike hulpbronne Mcgrandile Makier, die voormalige bestuurder van korporatiewe dienste Hendrik Barnard, die voormalige finansiële hoof Nigel Delo en Hoogbaard het reeds in die landdroshof in Ladismith verskyn. Hulle is vrygelaat op borgtog van R15 000. Die saak is na die streekhof in Oudtshoorn oorgeplaas. Hulle moet op 26 Januarie 2022 weer in die hof verskyn.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag is almal buiten Delo weer in diens van die munisipaliteit en beklee leiersposte. Delo is in ʼn bestuurspos by die Blue Crane Route-munisipaliteit in Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangestel.

“Die interessante skindernuus dat ek van die Valke wou weghardloop, word as vals nuus bewys deur die feit dat ek ʼn belangrike konferensie met die nasionale minister in die Wynlande oor kritieke Kannaland-infrastruktuur en water-onafhanklikheid moes onderbreek om met die Valke te vergader. Ek het dus na hulle toe gehardloop, nie van hulle af weggehardloop nie,” sê Hoogbaard.

“Dit is ʼn ernstige kwessie. Dit moes jare gelede al aangespreek gewees het. Tog blyk dit dat die tydsberekening uitstekend gereël is, asof deur die vervaardiger van ʼn toneelstuk, dat die inhegtenisnemings Donderdag plaasgevind het ná ʼn November gevul met nuus van statutêre verkragting teen die uitvoerende burgemeester en bedrog van die adjunkburgemeester.”

Hoogbaard sê hy sal sy volle samewerking aan die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag in die saak gee. “Ek sal ook seker maak dat almal onder my bestuur ook hul samewerking gee. Intussen sal ek voortgaan om my pligte en werk te doen en dienste te lewer aan die mense van Kannaland.”

Maroela Media het vroeër berig die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG) het ’n ondersoek van stapel gestuur na die verkiesing van Jeffrey Donson as burgemeester van die Kannaland-munisipaliteit in die Wes-Kaap. Donson is in 2004 aan die verkragting van ’n 15-jarige meisie skuldig bevind. “Die kommissie neem kennis daarvan dat alhoewel Donson na die Wes-Kaapse hooggeregshof geappelleer het en sy vonnis daarna verminder is, die skuldigbevinding aan verkragting nie betwis is nie.”

Donson, president van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa), is in November met behulp van die ANC as burgemeester aangewys terwyl Werner Meshoa as onderburgemeester aangewys is. Meshoa is vroeër aan bedrog skuldig bevind.

Die organisasie Action Society het versoek dat Donson en Meshoa uit hul posisies verwyder word. “Dit is ’n growwe belediging dat misdadigers, met die steun van die regerende ANC, enigsins oorweeg word om in die openbare amp te dien,” het Ian Cameron, woordvoerder van die organisasie, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Kannaland of kammaland? Skande wat daar plaasvind met die ANC se seën. Enige uitsprake vanaf die ANC oor kindergeweld/verkragting en korrupsie lag ek nou af. En tog vertrou ons die ANC met Covid?

Casper ·

Dit wys net weereens hoe ernstig is Rampie oor korrupsie en geslagsgebaseerde misdrywe.As die president nie ernstig is nie hoekom sal gewone landsburgers wees.

Di ·

Die hele spul in die ANC is korrup! As jy nie ‘n kriminele rekord het nie, kan jy nie deel van die ANC wees nie. Skreiende skande dat julle verkragters en skelms in hierdie poste aanstel.

Hennie J ·

Die maat is ewe windtie, so asof hy klaar n beskermengel het! Sy uitsprake is tipies die van kader wat politikus geword het terwyl sy lyne jammerlik gekruis is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.