Kannibaal-saak uitgestel

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat glo ʼn ander man se hart uitgesny en dit geëet het, het Dinsdag in die Athlone-landdroshof in Kaapstad verskyn.

Andrew Chimboza (35) se aansoek om borgtog is in Julie afgekeur. Hy het Dinsdag ʼn sweetpak aangehad met die woorde “Twisted Soul” daarop geborduur.

Staatsaanklaer Quawnita Geyer het gesê die ondersoek is nog nie afgehandel nie en die staat wag op uitslae van DNS-toetse.

Landdros Elizabeth Ellis het aanvaar dat DNS-uitslae ʼn wyle kan duur. Sy het aan Chimboza gesê hy bly in aanhouding tot 28 Oktober.

Die Zimbabwiër het gegrynslag en gefrustreerd gelyk toe hy teruggeneem is na die aanhoudingselle.

Chimboza word daarvan beskuldig dat hy Mbuyiselo Manona (62) in Junie in Gugulethu met ʼn skerp voorwerp vermoor het. Hy het in sy aansoek om borgtog erken dat hy Manona doodgesteek het, maar voer aan dit was uit selfverdediging nadat hy aangeval is.

Die staat voer aan hy het ooggetuies wat gesien het hoe Chimboza bo-op Manona sit en opgekapte stukke van sy hart eet.

Die saak sal na verwagting óf deur ʼn streekshof óf deur die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.