Kanovaarder het ‘vermoedelik in rivier verdrink’

Giel van Deventer (Foto: Giel van Deventer, Facebook)

Owerhede vermoed die bekende kanomarathonroeier, Giel van Deventer (72), het verdrink.

Dit volg nadat hy Saterdagmiddag in die Breërivier naby Swellendam, Wes-Kaap, verdwyn het toe sy kano omgeslaan het.

Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het die soektog na Van Deventer Maandag voortgeduur.

Kim Pople, Canoeing South Africa se president, sê Van Deventer het Saterdagmiddag saam met ʼn mederoeier, Lodewyk Rabie, aan ʼn naweekwedvaart in die Breërivier deelgeneem. Hul K2-kano het naby die wedren se eindpunt ʼn boomstomp getref, waarna die kano omgeslaan het.

“Daar is ʼn sterk vermoede dat Van Deventer verdrink het,” sê Pople.

Maroela Media het vroeër berig Rabie het daarin geslaag om na die rivierbank te swem, terwyl Van Deventer in die water verdwyn het.

Polisieduikers is na die toneel ontbied en het onmiddellik ʼn soektog na Van Deventer van stapel gestuur. Die soektog is later afgelas weens die swak ligtoestande en die soektog is Sondag hervat.

Die vlak van die rivier – wat teen Saterdag reeds oorvol was – het oornag gestyg, wat die soektog Sondagoggend nog verder bemoeilik het.

Van Deventer is ʼn kranige roeier en het in Augustus verlede jaar sy 50ste Bergrivier-roeimarathon voltooi. Hy het in 1967 aan sy eerste Bergrivier-marathon deelgeneem.

Hy hou die rekord vir die persoon wat die meeste kere dié taai marathon voltooi het.

Die Bergrivier-marathon is bekend as een van die taaiste roei-uitdagings in Suid-Afrika, met die strawwe Wes-Kaapse winterweer en die blote afstand van die wedren wat bykomende uitdagings bied.

Volgens Pople laat hierdie tragedie ʼn groot leemte in die Wes-Kaap en Suid-Afrikaanse kanovaart-gemeenskap.

“Giel was ʼn voorloper in die roeigemeenskap. Sy bydrae buite die water was net so merkwaardig. Hy het altyd baie ywerig en deeglik rekord gehou van elke enkele roeier se uitslae in groot byeenkomste soos die Bergrivier- en die Visrivier-marathon.”

Pople het ook die wedrenveiligheidspan en polisieduikers geloof wat in uiters moeilike omstandighede gwerk het om Van Deventer op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Groot naam. Goeie mens. Ons almal se harte is baie seer. Sterkte aan al sy geliefdes en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.