Kanse op matrieksukses beste in Gauteng en Vrystaat

(Foto: Maroela Media)

Skoliere in Gauteng en die Vrystaat het die beste kans om ‘n matrieksertifikaat te verwerf, en leerders in die Oos-Kaap en Limpopo het die swakste kans om matriek suksesvol te voltooi.

Dit blyk uit ‘n antwoord van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, op ‘n parlementêre vraag deur die EFF-LP Reneilwe Mashabela.

In haar vraag aan Motshekga het Mashabela uitgewys dat daar in 2009 ongeveer 1,1 miljoen leerders hul skoolloopbane begin het deur vir graad 1 in te skryf. Teen 2020 het net 570 000 leerders die matriekeksamen aangedurf.

Mashabela wou dus weet of die departement van basiese onderwys al navorsingsbevindings kon finaliseer oor die redes vir die groot uitvalsyfer, asook of sommige dele van die land ‘n hoër uitvalsyfer as ander het.

Motshekga het gesê eerstens toon haar departement se data dat ‘n betekenisvolle persentasie van die portuurgroep wat in 2009 met graad een begin het, êrens in hul skoolloopbaan minstens een skooljaar gedruip het. Sommiges byt vas en kom uiteindelik suksesvol by matriek uit. Ander verlaat die skool en dra by tot die uitvalsyfer.

Dit beteken die syfer is dus nie so eenvoudig as om die hoeveelheid matriekleerders in 2020 af te trek van die hoeveelheid graadeens in 2009 nie.

Navorsing deur Statistieke SA toon dat omtrent 68% van die jeug deesdae graad 11 suksesvol voltooi, met tussen 52% en 56% wat tans matriek suksesvol behaal.

Sowat 60% van Gauteng en die Vrystaat se leerders voltooi matriek suksesvol, teenoor slegs 40% van die leerders in die Oos-Kaap en Limpopo.

Hoewel Motshekga nie daarna verwys het nie, sal daardie provinsiale statistiek baie goeie nuus wees vir die Wes-Kaap, en wys dit dat moeilike en gefokuste werk deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), aangedryf deur die provinsie se LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, met omvattende sukses bekroon is, tot groot voordeel van die hele Wes-Kaap.

Die Wes-Kaap het naamlik histories vir baie, baie jare altyd verreweg die hoogste uitvalsyfer gehad – in ‘n groot mate omdat leerders in plattelandse distrikte die skool verlaat het om stukwerk op die plase te doen, maar ook om ander redes.

Enkele jare gelede het die WKOD besluit om aan die hand van verskeie ingrypings, voorligting en inisiatiewe hierdie klad op die provinsie se naam reg te stel, en daarin het hulle kennelik geslaag.

Volgens Motshekga doen die departement van basiese onderwys uiteraard al jare lank navorsing oor die uitvalsyfer in al die verskillende grade en skooljare.

Wat beslis waar is, is dat die persentasies en getalle Suid-Afrikaanse skoliere wat matriek behaal, nou al baie jare lank ‘n sterk stygende tendens verteenwoordig. Die tendens is dus vir die uitvalsyfer om te daal.

Dit is nie net die persentasie leerders wat matriek slaag wat styg nie, want baccalareus-slaagprestasies (in die volksmond bekend as om matriek te slaag met universiteitstoelating)  verteenwoordig ook al jare lank ‘n stygende tendens.

Motshekga het uitgewys dat die redes waarom leerders die skool verlaat voordat hulle matriek verwerf het, kompleks, uiteenlopend en dikwels op ‘n persoonlike vlak hartseer maar verstaanbaar is.

Armoede, gesinsverantwoordelikhede, persoonlike terugslae en broodnodige inkomstegenererende werkgeleenthede wat skielik beskikbaar is, speel dus volgens Motshekga ʼn belangrike rol, maar sy het reguit gesê die grootste rede is swak onderrig (deur sommige onderwysers) en swak leer (die leerder wat nie sy of haar kant behoorlik bring nie) in baie Suid-Afrikaans skole in die vroeëre skooljare van graad een tot graad elf.

Motshekga het verskeie ingrype deur haar departement uitgewys om die uitvalsyfer te verminder en die matriekslaagsyfer te verhoog.

Die belangrikste, so het die minister uitgewys, is om onderrig en leer in elke skoolgraad en skooljaar te bly verbeter, want uiteindelik bou elke skooljaar en elke skoolgraad op die sukses of mislukking van die laer en dus voorafgaande skooljare en skoolgrade.

Die minister het gesê dit is nou al baie jare lank die tendens dat Suid-Afrika se prestasie in internasionale meetsnoertoetse soos TIMSS, PIRLS en SACMEQ merkbaar verbeter, wat beteken onderrig en leer verbeter oor ‘n wye spektrum en in verskillende skooljare en skoolgrade in Suid-Afrikaanse skole – en dit dra weer by tot beter matriekuitslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riana ·

En van die 550 duisend is 20% al hul 2 de of 3rde jaar in matriek

Francois Le Cochon ·

My kinders het elk ‘n i7 laptop, vrye toegang na kleur injet printer, laser printer, book binder, guillotine, A3 en A4 papier, onbeperkte skryfbehoeftes van vele aard, uncapped vesel, Apple selfone, verskeie musiek instrumente, bystand krag, eie yskas in kamer, eie Nespresso masjien. Hulle presteer baie goed en kry beurse en finansiele meriete toekennings. Ek wonder hoe dit sou gewees het as hulle in ‘n sinkhuis gebly het sonder water, krag en min kos. Ons is ongelooflik bevoorreg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.