Die kantoor van die nasionale departement van gesondheid in Pretoria se middestad is veilig verklaar nadat ʼn man Woensdag ʼn petrolbom na die ingang van die gebou gegooi het.
“Die gebou is veilig verklaar en beamptes is terug by die werk,” het Joe Maila, woordvoerder van die minister van gesondheid, Vrydag gesê.
Die polisie en die Tshwane-brandweer het saam die veiligheid van die gebou verseker voordat personeel weer daar toegelaat is.
Werkers is Woensdag uit die gebou ontruim nadat ʼn 54-jarige man ‘n petrolbom na die ingang van die gebou gegooi het en ‘n brand veroorsaak het. Die brand is egter gou geblus en die werkers is vir veiligheidsonthalwe ontruim. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die verdagte is in die polisie se aanhouding, en ʼn saak van brandstigting word ondersoek. Die rede vir die voorval is nog nie amptelik bekend nie. Volgens berigte is die verdagte glo ʼn MIV-leier en was hy ontsteld omdat hy nie medikasie kon kry nie.
Lees ook:
Gesondheidsdepartement se gebou glo met petrolbom bestook