Kapenaars keelvol vir trokke op Bainskloofpas

Bainskloofpas se infrastruktuur loop gereeld deur onder swaar vragmotors. (Foto: Facebook/ Johan Henning)

Inwoners van Wellington en Ceres in die Wes-Kaap is keelvol vir vragmotors wat voortdurend skade aan die Bainskloofpas, ʼn provinsiale pad tussen dié twee dorpe, aanrig.

Johann Lemmer, wat al 25 jaar op Wellington woon, sê die skade wat deur vragmotors aangerig word, veroorsaak boonop motorongelukke vanweë die toestand van die pad en dikwels ook verkeersnagmerries.

Die mure langs die pad  word ook gedurig stukkend gery, met die gevolg dat daar geen versperrings is wat motors kan keer om by die krans af te ry nie – veral indien iemand vinnig om ʼn skerp draai ry of dalk skielik moet uitswaai.

“Dit gebeur ook dikwels dat hierdie groot voertuie [vragmotors] in die nou pas vassit. Dan moet die pas natuurlik toegemaak word om dié voertuie op innoverende maniere daar te verwyder.

“Dit rig in baie gevalle verdere skade aan die rotse en mure langs die pad aan. Die pas is boonop tot ʼn nasionale monument verklaar en behoort nie beskadig te word nie. Die bestuurders van hierdie ekstraswaarvragmotors gee egter nie om nie.”

Skade aan die Bainskloofpas in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

Volgens Lemmer het ʼn toerbus onlangs in die pas vasgesit. Dié bus moes toe al die pad teruggestoot word tot omtrent by die aansluiting tussen Wolseley en Worcester by die rivier. “Dis kilometers ver wat dié bus agteruit moes beweeg – weer om al die draaie.”

Vragmotors raak dikwels ook onklaar wanneer hulle deur te pas ry, en versper dan ʼn groot gedeelte van die pad wat tot verkeersopeenhopings lei.

Lemmer sê die vragmotors is in baie gevalle oorlaai en probeer dan om die weegbrug by Rawsonville te vermy, en kan dan natuurlik ook nie oor die Du Toitskloofpas of deur die Du Toitsklooftonnel ry nie. Hulle gebruik dus die Bainskloofpas, wat ook beteken dat dié vragmotors deur Wellington moet ry.

“Daai strate [in Wellington], al is dit dubbelbane, is ook nie gemaak vir hierdie groot vragmotors nie. Dis boonop die hoofstraat waar mense hul inkopies doen.

“Vragmotorbestuurders kan wel die Tulbaghpas gebruik, maar dit beteken hulle moet effens verder ry. Vragmotors sal egter baie gouer by hul bestemmings uitkom omdat hulle nie so stadig hoef te ry soos hulle deur die Bainskloofpas moet kruip nie.”

Lemmer sê die gemeenskap meld gereeld hul frustrasies oor vragmotors wat die pad beskadig, by die toepaslike owerhede aan.

Jandré Bakker, woordvoerder vir die provinsiale departement van vervoer en openbare werke, sê die departement is deeglik bewus van voorvalle waarin swaar voertuie opeenhopings en skade aan infrastruktuur aan die Bainskloofpas veroorsaak het.

Ook Bakker sê dat hierdie pas van historiese waarde is en dat die “geometriese ontwerp nie noodwendig geskik is vir sulke swaar vragmotors nie”.

“Bainskloofpas is ’n openbare pad en dit beïnvloed die stappe wat gedoen word om die gebruik daarvan te beperk. Alle padgebruikers, insluitend bestuurders van swaar vragvoertuie, word verplig om die reëls te gehoorsaam wat op die gebruik van openbare paaie van toepassing is. Die pas word gereeld gemonitor vir oortreders,” het Bakker aan Maroela Media gesê.

Hy sê in die geval van Bainskloofpas is daar duidelike tekens aan weerskante van die pas wat hoogte- en lengtebeperkings uiteensit, asook ’n metaalstruktuur wat ’n harde geluid sal maak sou die voertuig onder die gewigte deurgaan. Dit beteken dat die bestuurders óf hierdie tekens en geluide verontagsaam óf in die aankomende verkeersbaan ry om hierdie infrastruktuur te vermy.

Dié foto wys die skade wat in 100 jaar in die pas aangerig is. (Foto: Facebook)

 

“Hoewel die aantal voorvalle nie baie is nie, kan die ongerief wat dit vir ander padgebruikers veroorsaak, nie afgemaak word nie. Bestuurders wat hierdie beperkings verontagsaam, stel hul lewens en die lewens van ander padgebruikers in gevaar. Indien hulle aangekeer word, sal toepaslike stappe teen hulle gedoen word. Dit sluit in aanspreeklikheid vir die koste van enige skade wat aan die pad en omliggende infrastruktuur aangerig is.”

Bakker bevestig daar is inderdaad ander roetes waarvan vragmotors gebruik kan maak.

Hy sê die departement werk tans aan reëlings om met vragmotoreienaars in gesprek te tree in dié verband. Daarbenewens onderhandel die departement glo ook met GPS-ontwerpers en ‑vervaardigers om ʼn waarskuwing by hul onderskeie GPS-stelsels in te bou wat bestuurders van groot voertuie in kennis stel om nie die pas te gebruik nie indien hul voertuie die beperkings oorskry.

“Die departement verwelkom voorstelle van gemeenskapslede oor oplossings, maar dit moet uiteraard die openbare aard van die betrokke pad in ag neem.”

 

Die Bainskloofpas is ‘n nasionale monument. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Gaan nog ‘n vragmotorbestuurder meet en pas om gou deur te wil wikkel? Dit wil so lyk.

Harley Davidson ·

Begin om die Wes Kaap onafhanklik te kry daarna kan die nuwe regering die trokke verbied om daar te ry ,alles moontlik moet gedoen word om die weskaap onafhanklik te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.