Kapenaars kry reën, koue weer; noorde van land bly warm

Kaapstad. (Foto: Bredan Magaar/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku Kapenaars teen ’n kouefront wat na verwagting dele van die Wes-Kaap teen Vrydag en weer Sondag gaan tref. In teenstelling met die koue word ’n hittegolf vir die oostelike dele van die Noordwes en Vrystaat asook in dele van die Laeveld, Mpumalanga, Gauteng en Limpopo vir die naweek verwag.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die SAWD kan swaar reën in die vroeë oggendure in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap verwag word, wat deur die loop van die dag na die oostelike dele versprei. Tot soveel as 20 mm reën in die suidwestelike dele word voorspel, met selfs hoër neerslae, tot soveel as 50 mm, in hoogliggende gebiede in die Wes-Kaap. Hulle waarsku ook teen vloede in dié gebiede.

Die weerdiens het ook ’n waarskuwing teen modderstortings uitgereik weens Vrydag se swaar reën. “Dit kan swaar verkeer in Maandagoggend se spitstyd tot gevolg hê,” lui die verklaring.

Stormsterk noordwestelike winde van tussen 50 en 60 km/h word in die suidelike dele van die binneland verwag.

Die koue gaan na verwagting tot Dinsdag in die meeste dele van die Wes-Kaap voortduur.

Die hittegolf in Noordwes, Vrystaat, die Laeveld, Mpumalanga, Gauteng en Limpopo gaan na verwagting tot Maandag duur. Volgens die weerdiens gaan dit Maandag steeds bloedig warm wees, met ’n voorspelling van gemiddeld 36 °C maksimumtemperatuur vir die meeste gebiede van Limpopo, die Laeveld en Mpumalanga.

Die weerdiens versoek die publiek om die weervoorspellings op die televisie en radio gereeld dop te hou vir verdere verwikkelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alex

Die vraag is: Is hulle reg?

Hans

Noordkaap uitgesluit?

Linda

Wel dit reën al heeloggend in Bloubergstrand en as ek so by my venster uitkyk oor die see dan sien ek baie reën aankom. So die weerdiens is in die kol.

Ander Annie

Stuur asb vir ons ook daardie reën en koeler weer in Gauteng. Ons braai uit van die hitte

Uitkyk

Hier in ons klein Limpopo dorpie spring ons op en af oor omtrent elke Sat of Sondag dat die krag af is. Vir maande werk hulle oor naweke aan dieselfde probleem. 0800 tot 1800 is geen grap. Verskillende huishoudings het verskillende behoeftes. Wasgoed, grassny, babas wat spesiale aandag benodig, ook net as familie saam ontspan, en nog baie ander redes. Die humiditeit is versmorend. Ek kla omdat ek hierbo Blouberg opgemerk het!