Kapenaars moet regmaak vir nóg ʼn koue front

Kapenaars maak reg vir ‘n koue front wat die gebied binnekort tref. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse weerdiens waarsku teen ʼn stormsterk wind, ontwrigtende sneeuneerslae en swaar reën wanneer ʼn koue front die streek na verwagting teen laat Maandagaand en vroeg Dinsdag gaan tref.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Stad Kaapstad se rampbestuursentrum, sê die nat, koue weer gaan na verwagting tot Woensdag duur.

“Tot soveel as 50 mm reën word voorspel, met selfs groter neerslae in hoogliggende gebiede soos Houtbaai en Kirstenbosch. Die weerdiens het ook gewaarsku teen moontlike modderstortings,” het Powell gesê.

Stormsterk wind van tussen 65 en 75 km/h en onstuimige seestoestande, met branders meer as 6 m hoog, word verwag.

Die rampbestuursentrum is op ʼn gereedheidgrondslag geplaas om op enige skade of noodgevalle te reageer.

“Mense word gemaan om in dié tyd weg te bly van gebiede soos die Atlantiese kus, die Valsbaai-kuslyn, Strand, asook die Gordonbaai-strandfront. Huiseienaars langs die kus moet hulle ook voorberei op moontlike skade,” het Powell gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Die reen is altyd welkom maar as die gure weer daarmee saamgaan is dit nogal ontwrigtend vir die mens. Ons was met ‘n geleentheid in Port Elizabeth toe die wind so erg gewaai het, sand het letterlik in die parker area opgebou en jou teen die bene ge-peper. Dan was daar nog ‘n geleentheid in KZN met sikloon Demoina, dit het vir omtrent 14 dae gereen, elke dag, dan hard, dan sag, die grond was versadig van water. Alles was nat, handoeke en klere word nie droog.

Ekke ·

Ons is so dankbaar. Maar my hart gaan uit vir die hawelose mense…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.