Kapenaars nou 70 ℓ elk toegelaat

Die deursnee-stort gebruik van 10 tot 20 ℓ water per minuut, wat beteken Kapenaars moet gou speel om nie hul hele waterkwota van 70 ℓ per dag dag reeds voor werk op te gebruik nie. Foto: Morné van Rooyen

Kapenaars slaak dalk ʼn sug van verligting met dié dat die Moederstad se streng waterbeperkings van Maandag af effens verslap word, maar die 70 ℓ wat inwoners nou per dag toegelaat word, is steeds meer as vier keer minder as die deursnee-Gautenger se daaglikse verbruik.

Die Wes-Kaap se damme is nou sowat driekwart vol, vergeleke met ʼn derde die ooreenstemmende tyd verlede jaar toe die provinsie gebuk gegaan het onder ʼn droogte wat die stadsraad as “hoogs uitsonderlik” beskryf.

Mettertyd is die waterbeperkings in die Stad Kaapstad en omliggende gebiede ál strenger gemaak sodat Kapenaars sedert Februarie kragtens vlak 6b-beperkings met net 50 ℓ water per dag vir persoonlike gebruik moes sien kom klaar.

“Die uiters verblydende reaksie van Kapenaars toe hulle gevra is om hul verbruik te verminder, asook gevorderde druk en waterbestuursprogramme deur die stadsraad, het ʼn ramp help afweer,” sê die stadsraad.

Begin Julie het die munisipaliteit onderhandelings met die nasionale departement van water en sanitasie aangeknoop oor die verligting van die beperkings omdat die damvlakke toe tot meer as 50% gestyg het.

Ná opvolgvergaderings, ook met groot waterverbruikers in die Suidwes-Kaap, is besluit om die algehele beperkings geleidelik te verslap omdat die reënval steeds hoogs wisselvallig is: Mei en Junie se reën was na aan ʼn gewone jaar sʼn, maar Julie sʼn was baie swak. In Augustus het dit ietwat verbeter en in September aansienlik.

“Ons vertrou die vermindering wat ons in verbruik waargeneem het, sal in ʼn groot mate voortduur nadat die nuwe beperkings in werking getree het,” sê die stadsraad, wat meen dis veilig om die beperkings nou ietwat minder streng te maak.

Die stadsraad het onderneem om die waterbeperkings opnuut te hersien sodra die departement van water en sanitasie sy bevinding oor die vooruitsigte vir die komende hidrologiese jaar bekendmaak of die stadsraad adviseer oor ʼn tussentydse verslapping in beperkings.

Vlak 5-waterperkings beteken kortom:

  • Kapenaars word nou 70 ℓ water per dag vir persoonlike verbruik toegelaat.
  • ʼn Nuwe doelwit vir die Kaapse metropool van 500 miljoen ℓ water per dag, 50 miljoen meer as die vorige doelwit.
  • ʼn Vergunning dat kommersiële en nywerheidsgebruikers nou net 40% minder as gewoonlik mag verbruik, pleks van die 45%-vermindering ingevolge vlak 6b-waterbeperkings.
  • En ʼn vermindering in die watertariewe, wat soos volg daar uitsien:

0 – 6 kℓ: Daal met 26,6% van R28,90/kℓ tot R21,19/kℓ

6 – 10,5 kℓ: Daal met 25% van R46/kℓ tot R34,43/kℓ

10 – 35 kℓ: Daal met 56% van R120,27/kℓ tot R52,39/kℓ

Bo 35 kℓ: Daal met 70% van R1 000/kℓ tot R300/kℓ

Kommersiële en nywerheidstariewe:

Daal met 18% van R45,75/kℓ tot R37,50/kℓ

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Izak ·

Kaapstad se groot damme is omtrent almal 100% vol. Die DA sal egter voortgaan om die verbruikers te melk…hul kort fondse vir hul propaganda-veldtogte voor die volgende verkiesing.

Morné van Rooyen ·

Dagsê Izak, en dankie vir jou kommentaar. Die Kaapse stadsraad sê in dieselfde verklaring waaruit dié berig saamgestel is: “Die Stad begroot nie om ʼn wins uit die verkoop van water te maak nie. Beperkingsvlakke hou verband met die damvlakke, en beperkingstariewe hou verband met die volume water wat Kaapstad gebruik. Dit beteken wanneer die beperkings verlig word, neem individuele waterverbruik toe namate die tariewe verminder word, wat die stadsraad in staat stel om die waterinfratruktuur te herstel en in stand te hou.” Groetnis, Morné nms. Maroela Media

Damvlakke ·

Izak; Kaapstad se damme is gemiddeld 75% vol. Die grootste dam, naamlik die Theewaterskloofdam, wat 50% van die stad se water voorsien, is maar ongeveer 56% vol.

Cherokee ·

Opvolg kommentaar asseblief Izak. As jy dit begin moet jy dit klaarmaak.

jaco ·

vreemd dat die damme nou so mooi vol is terwyl die DA steeds regeer. iewers in 2017 het n ANC raadslid vanaf iewers in die binneland dan gese die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar DA stem (blykbaar is die Here ten gunste van korrupsie, goedpraat van misdaad, goedpraat van plaasaanvalle, onteiening sonder vergoeding, regstellende aksie wat wit mense verarm ens ens).

Cherokee ·

jaco, met verwysing na jou in hakies woorde, jy besef ooglopend nie hoe roekeloos jy praat nie. Ons verag dit.

jaco ·

party mense verstaan blykbaar nie “tounge in the cheek” kommentaar nie.
Anyway. volgens die ANC dan is al die nonsens in hulle beleid die Here se wil en straf die Here net mense wat teen die ANC se nonsens-beleid is. Tog vreemd dat die Wes-Kaap steeds DA is en nou begin die “straf” van die droogte bietjie te wyk.
Duidelik weet ANC mense wat sulke uitsprake maak, nie waarvan hulle praat nie.

Manie ·

As jy kyk na die tariewe gebruik die DA die sogenaamde water tekort om sy koffers aan te vul van al die oningeligtes wat hulle in beheer van Kaapstad gesit het. Hulle is net so geldgierig soos die ANC

Stuiwer ·

Manie, wie stel jy voor moet “regeer” in die Wes-Kaap?

bgj van der westhuizen ·

die water te kort is n verskoning van die da plaaslike regering om geld uit een gedeelte vansy inwoners te melk ons is nou toe gelaat om 70 liter per persoon te gebruik as jy somme maak dan kom jy agter die wat 10500 liter water verniet kry kan per soon meer water gebruik as die wat moet betaal en as jy ook kyk die wat water betaal en spaar word nog steeds gestraf vir dit wand die prys kom af met 26% maar die groot water verbruik en morser kry 70% af slag laat my wonder dink hulle die belasting betaler is dom maar die metro moet pas op ons mag dalk net besluit om vir niks te betaal soos hulle wonderlike ander inwoners wat vir niks betaal nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.