Kapenaars sal 3 keer meer opdok as e-tol voortgaan

DA-betogers teen e-tol op 11 Augustus 2015 buite die Wes-Kaapse hooggeregshof Foto: Catherine Rice

DA-betogers teen e-tol op 11 Augustus 2015 buite die Wes-Kaapse hooggeregshof Foto: Catherine Rice

Die stad Kaapstad het die proses, om tolpaaie te implementeer, as “totaal irrasioneel” beskryf. Hy het Dinsdag die Wes-Kaapse hooggeregshof genader om Sanral se projek, om gedeeltes van die N1 en N2 te tol, te skrap.

Geoff Budlender, vir die stad Kaapstad, het aan die hof gesê die besluitnemers moes in ag neem of die tolprojek lewensvatbaar en geskik sal wees. Om dít te doen, moet hulle presies die koste en impak van die tolprojek kan bepaal. Maar, het hy gesê, “die bewyse toon dat nie een van die besluitnemers hierdie vrae in ag geneem het nie”. Die stad het in sy dokument van 7 465 bladsye uitgelê waarom die besluit, om met die tolprojek voort te gaan, “prosedureel gebrekkig” is.

Die publiek sal oor die 30 jaar periode “tussen R44.9 miljard en R48.4 miljard in tolgeld moet terugbetaal (2010 waardes sonder BTW)”.

Budlender voer aan indien toltariewe laer ingestel word, sal die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) self die tekort aan die ontwikkelaar, Protea Parkway Consortium (PPC), moet terugbetaal.

Hy het aan die hof gesê Kapenaars sal 74c per km moet betaal op 2013 waardes, nagenoeg drie keer meer as die tariewe wat Gautengers betaal.

Budlender het gesê niks van die inligting is nog aan die besluitnemers beskikbaar nie, “tog weet ons nou dat die ware projekkoste R58.9 miljard sal beloop”.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het buite die hof gesê dit is slegs danksy die hoogste hof van appèl se uitspraak verlede jaar dat hierdie syfers bekend gemaak is. Sy het gesê die projek sal veral die arm mense langs die N1 en N2 raak, en dit sal ook ʼn invloed hê op die landbou- en vervaardigingsbedryf wat van die paaie gebruik maak om goedere te vervoer.

Budlender het aan die hof gesê die Raad van Sanral moes die besluit kragtens die Sanral-wet gemaak het, maar daar is geen bewyse dat hulle dit gedoen het, nie, aangesien daar geen notules of dokumente is waarin die besluit vervat is nie.

Hy voer aan Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, het self die besluit geneem, aangesien geen raad passief ʼn besluit kan neem nie.

Hy het ook gesê die minister van omgewingsake het magtiging vir die projek gegee nadat “slegs die biofisiese aspekte van die voorstel in ag geneem is”. “Hy [die minister van omgewingsake] het nie die sosio-ekonomiese impak in ag geneem nie.”

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Berhalet Beukes ·

As ‘n mens gaan huiswerk doen oor wie e-pos regtig besit, sal die algemene publiek geskok wees on te weet dis van na grootste en bekendste ontwikkelaars. Hierdie selfde ontwikkelaars is ‘n wyle terug vir mark manipulasie beboet! Geld is waaragtig ‘n euwel want in Gauteng is die paaie in ‘n gehawende toestand, so wat is die doel van e-tol?

Christie Joubert ·

Hier is vir jou n plan om paaie in stand te hou teen die minimum koste. Gebruik n slag al die misdadigers wat heerlik op hul gatte in die tronk sit en my kos vreet. Span die spul in om paaie in stand te hou. So kom jy uit die tronk uit met n lewensvaardigheid. Harde werk het nog nooit skade gedoen nie. Hou op met tenders en twak, en span n slag die in wat die gemeenskap te na gekom het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.