‘Kaper’ doodgeskiet tydens skietgeveg met polisie

Die gekaapte motor (Foto: Verskaf)

’n Vermeende motorkaper is Donderdag naby die Verena-nedersetting in Mpumalanga doodgeskiet nadat hy en drie van sy makkers in ’n skietgeveg met die polisie betrokke geraak het. Die ander drie verdagtes is in hegtenis geneem en sal eersdaags in die plaaslike landdroshof verskyn.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 20:30 inligting ontvang oor ’n groep gewapende verdagtes wat ’n grys Volkswagen Polo in eMalahleni gekaap het. Die bestuurder van die motor, sy vrou en kind is glo met ’n vuurwapen in die motor aangehou.

“Volgens inligting het die verdagtes die vrou en kind ’n paar kilometer vanwaar die motor gekaap is, afgelaai. Die man is in die bagasiebak van die motor aangehou,” het Mohlala gesê.

Die verdagtes het ‘n wit Opel Corsa as wegkommotor gebruik (Foto: Verskaf)

Die owerhede is van die voorval ingelig. ’n Opsporingsmaatskappy sowel as ’n taktiese reaksiespan van die polisie het kragte saamgesnoer om die verdagtes op te spoor en agterna te sit.

Van die verdagtes was in die gekaapte motor, terwyl die ander ’n wit Opel Corsa as wegkommotor gebruik het.

“Die polisie het die verdagtes ingehaal en ’n skietgeveg het gevolg. Een verdagte is in die proses doodgeskiet. Twee ander het skietwonde opgedoen en is onder polisiebewaking hospitaal toe geneem. Die vierde verdagte het ongedeerd van die voorval afgekom.”

Die drie verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla van motorkaping en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Meer klagtes sal bygevoeg word soos die ondersoek voortduur.

Die gekaapte voertuig en die wegkommotor is teruggevind. Die polisie het ook op drie pistole – wat in die besit van die verdagtes gevind is –  beslag gelê.

“Die verdagtes word verbind met verskeie kapingsvoorvalle. Hulle word ook verbind met die aanval op ’n polisiebeampte in KwaMhlanga, wat vroeër die maand plaasgevind het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AmY ·

En nou gaan hulle seker sê hulle oorlede makker het alles beplan.

JM ·

Gaan die gemors nooit ophou nie?! ‘n Mens is deesdae te bang om op die paaie te wees. Almal het vuurwapens, wat hulle wáár kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.